Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dié mense wat leef asof daar nie lewe ná die dood is nie, gaan niks wen as hulle reg is nie en alles verloor as hulle verkeerd is. Mense wat leef asof hulle aardse lewe hulle toekoms gaan beïnvloed, sal niks verloor as hulle verkeerd is nie, en alles wen indien hulle reg is.
JY LEEF NET EEN MAAL OP DIE AARDE
Ds A.E. van den Berg
“Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!” (Ps.90:12).
Hoe oud is jy? Wat het jy tot dusver met jou lewe gedoen? Onthou die lewe is nie 'n besitting nie maar 'n gawe van God. Hy gee dit spesiaal vir jou om iets mooi daarvan te maak. In die OT word lewe ook die hart genoem. Dis die setel van menswees. Daarom sê mens dat iemand tot bekering gekom het omdat hy sy hart aan Jesus gegee het – sy lewe.
Jou hart behoort of aan Jesus of aan Satan. Jy kies. Daar is geen middelpaadjie nie. Jou keuse bepaal of jy wys of dwaas leef. Dawid skryf “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.” (Ps.14:1).
Miljoene mense kies om dwaas te leef met geen God bo of langs hulle nie. Die Bybel sê dat God ons Herder wil wees en die lewenspad saam met ons wil loop. Ons moet kies of ons Hom wil toelaat of nie. 'n Dwaas het nie net geen God bo of langs hom nie, maar ook nie 'n God onder hom nie. God is 'n vader wat sy kinders in hul nood wil dra. Dit ontbreek by 'n dwaas.
Sommige mense wil God net in hul nood ken. As die lig in hul lewe skyn, het hulle God nie nodig nie. As die lewensdonker hul oorval, dan soek hulle ewe skielik na Hom. En as Hy nie reageer nie, sê hulle so maklik: Daar is geen God nie! Nee, God is 'n stuurwiel en nie 'n spaarwiel nie!
Ps.90 is die oudste Psalm. Dis die enigste een wat deur Moses ongeveer 500 jaar vroeër as die ander geskryf het. Benewens die ouderdom daarvan is dit ook een van die aangrypendste psalms. Dis 'n klaag- en bid psalm. “Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag. Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God “ (:1.2).
Moses stel die verganklikheid van die mens teenoor die onverganklikheid van God. Hy is onbeperk, maar nie die mens nie. God het geen begin of einde nie; die mens wel. “U laat die mens terugkeer tot stof en sê: Keer terug, o mensekinders!” (:3). Moses bid en kla in hierdie psalm. Hy verheerlik God aan die een kant maar kla ook oor die kortstondigheid van die lewe. “Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos 'n gedagte: (:9).
Ps.90 is waarskynlik tydens Israel se uittog uit Egipte geskryf. Dit was 'n moeilike tyd vol ontberings en onsekerhede met 'n volk wat gereeld hul onvergenoegdheid met hul omstandighede in die woestyn te kenne gegee het. Hulle het geweet dat hulle op pad na die Beloofde Land was, maar nie gedink dat die pad nie een van maneskyn en rose sou wees nie. Hulle sou nie op 'n verebed Kanaan ingedra word nie!
Moses skryf hierdie Psalm in verhewe eenvoud asook in aangrypende erns. Hy bekla die kortstondigheid van die lewe en noem getalle: “Die dae van ons jare — daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen” (10).
Dink aan die lewensjare voor die vloed – sommige mense was meer as 900 jaar oud en na die sondvloed 'n skamele 120 jaar. Wat 'n ophef word daar nie vandag van mense wat 100 oud word gemaak nie!
Ps.90 leer ons dat ongeag hoe oud jy word, die lewe altoos te vinnig verbysnel. Dit voel asof elke jaar vinniger as die vorige een verbyskiet. In God se oë loop tyd net so vinnig. “Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos 'n nagwaak” (:4). Petrus skryf: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Pet.3:8).
Die hoofsaak is dat mens met tyd wat vinnig verloop te doen het. Ons moet egter net daarvan kennis neem en weet dat ons iets sinvol van hierdie vinnige lewe moet maak. Waarom? Omdat ons eendag rekenskap van dit wat God ons geleen het, moet gee.
Moses besef dat hy nie aan die spoed van die rondomtalie van die lewe kan verander nie. Hy besef alreeds 3500 jaar gelede dat hy deel van die sg. “rat race” is. Wat bid hy?
“Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!” Dinamies vertaal:“Here, ek kan nie aan die spoed van die lewe ontkom nie. Help my net om 'n gehalte lewe te lei”.
Ons kan niks aan die spoed van ons lewens verander nie, slegs aan die gehalte. Ons is deel van hierdie “rat race” maar hoef nie daardeur ingesluk en lamgelê te word nie. As dit gebeur, verloor jy 'n gehalte lewe. Al wat dan oor bly, is 'n dolle voortspoed na jou dood. Dis nie hoe God wil hê jy moet leef nie. En om 'n gehalte lewe te leef, moet ons geleer word. Moses bid God om ons te leer: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom! Daarvoor gee Hy ons die geloof en sy Woord.
Ons dink nie altyd aan die lewe soos wat ons behoort te dink nie. Ons gaan maar net aan en aan – die rat race. Dan trek God ons soms met die dood van 'n geliefde van die snelweg van die lewe af met die vraag: Waarheen is jy op pad? Waarmee is jy besig? Maak jy vir jou skatte in die hemel bymekaar?
Elke mens se lewe eindig met die dood. Of ons oud of jonk is, ons is almal op ons laaste vaart. Alles is met sterflikheid deurweek. Om nie betyds vir die dood gereed te maak nie, is soos om tydens 'n beleg op jou pos te slaap.
Maak baie seker van jou redding in Jesus Christus want daar gaan vir ons almal ’n nuwe jaar aanbreek waarvan ons die oujaar nie gaan beleef nie. Leef dus vir dit wat die moeite werd is om voor te sterf. En onthou: Ons is huurders van die lewe en God die Eienaar. Hy kan jou huur enige tyd opskort. “Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!