Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase – Prediker 7:9
DIE KERK IS 'N DIENAAR
Ds A.E. van den Berg
“En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mt.20:27,28).
In Openb.2:6 het Jesus groot lof vir die gemeente in Efese: “Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat” maar in Openb.2:15 wys Hy die gemeente van Pergamus op 'n dwaalleer in hul midde: “So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat” Dan waarsku Jesus: “Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle (Nikolaïete) oorlog voer met die swaard van my mond” (:16).
Die Nikolaïete was die voorlopers van Roomse Katolisisme. Hierdie dwaling het later in die Roomse Kerk (RK) teelaarde gevind en die geloofslewe groot skade berokken. Die woord Nikolaïete kom van twee Griekse woorde: nikao “om te verower” en lao “lekedom”. Nikolaïete beteken dus die “veroweraars van die lekedom” – geestelike heersers oor geestelike minderes.
Jesus het dit gehaat omdat dit die kerk in twee onderskeie segmente verdeel het; geestelikes en leke. Jesus het nooit die kerk in die hande van ’n magsbehepte elite leierskorps geplaas nie, maar in diè van manne wat met die Heilige Gees vervul was. Jesus het nooit vir Petrus gesê om oor sy skape te heers nie, maar om hulle te laat wei (lei). Daarom is ’n heersende priesterdom soos wat in die RK bedryf word strydig met God se wil en Hy haat dit!
Kerklike leierskap moet wel heilig wees en so ook die gemeente. Maar dis nooit ’n geval van ’n klein groepie heilige kerkleiers aan die een kant en ’n groot groep nie-so-heilige gemeentelede aan die ander kant nie. Nikolaïtisme skei geestelikes van leke en maak van eersgenoemdes heersers in plaas van diensknegte; 'n dwaling wat al eeue lank bestaan.
Sommige kerklui het van vroegs af geglo dat die kerk deur twee ampte gelei moes word; ouderlinge (presbuteroi) en opsieners (episkopoi). Uit die Skrif aangehaal: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg…” (Hand.20:28). Opsieners is ongelukkig deur Nikolaïete beĩnvloed en het godsdienstige gesag oor ouderlinge begin uitoefen.
In werklikheid dui die woord ouderling die persoon en opsiener sy amp aan. Dis nie twee ampte nie, maar een. Ouderlinge beklee opsienersampte en moet toesien dat gemeentelede hul waardig gedra. Hulle is nie georden nie, maar bloot ouer mans met uitstaande geestelike kennis.
Wat die kerkregering betref, het die vroeë kerk slegs ouderlinge gehad, 'n amp wat slegs tot opsigwerk in hul eie gemeente beperk was. Nikolaïtisme het weer aan biskoppe gesag oor plaaslike godsdiensleiers gegee en lelik ontspoor. “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mt.20:27,28).
’n Kerk kan lidmate slegs dring, maar nooit dwing nie. Dis egter nie so in Nikolaïtiese kerke nie waar biskoppe priesters en ander geestelikes kan plaas en verplaas. Gemeentes kan dus nie leraars beroep nie. Biskoppe plaas hul in onderskeie gemeentes. Wat dan van die leiding van die Heilige Gees?!
Nikolaïtisme is 'n bousteen van die ryk van die Antichris en is ontwerp om beheer oor mense te verkry: “En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik verwond was en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan” (Openb.13:3). Hierdie verwonde kop was die Romeinse ryk en prototipe van die ryk van Satan.
Nadat hierdie ryk lank die wêreldheersers was, het dit geval en dood gelyk. Dit was alles oëverblindery. Die kop het weer opgelig en onder ’n nuwe naam die werk van Satan voorgesit – die Roomse Kerk (RK). Die Romeinse ryk het in werklikheid net van gedaante verwissel en as ’n Christen kerk begin poseer.
Roomse geestelikes het hul vir die amp van biskop en selfs hoër beywer. Hul drang om mense te lei, was ’n front om hulle te beheer. Sulke ampte is aan invloedryke mense gegee. Dit was onnodig om heilige lewens te lei; jy moes net die regte mense ken. So het 'n bose kerk-hiërargie ontstaan. Biskoppe het oor priesters, aartsbiskoppe oor biskoppe, kardinale oor aartsbiskoppe en pouse oor die kardinale geag gevoer. Babilon het dieselfde sisteem beoefen met verfoeilike beelde en afgodiese gebruike en al.
Esegiël beskryf die verwording van die kerk in sy tyd: “Ek gaan toe en kyk – en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan….en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad en die geur van die wolk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamer met beeldwerk?...” (Eseg.8:10-12). Klink dit nie na die RK nie?!
Die lekedom het priesters toegelaat om vir hulle te dink en kerklike mag in die hande van ’n groepie uitgesoektes laat beland. Mag sonder geregtigheid het tot ’n tirannie in die kerk gelei. Mense het, soos in die eertydse Babilon, slawe van ’n despotiese priesterorde geword.
Roomse kerklui verskil weinig van hul eertydse Babiloniese voorgangers wat ook ’n geweldige houvas op onderhoriges gehad het. Die RK wys al eeue lank haar ware kleure. Mense bespeur dit net nie; so goed is haar misleiding!
Die RK noem haarself die moederkerk en beskou haarself as die oorspronklike kerk waarheen die Christendom moet terugkeer. Die Bybel praat ook van haar as ’n vrou; een wat op sewe heuwels sit (Openb.17). Sy is egter ’n slet met talle dogters. Hulle is kerke wat uit haar stam en hiërargieë beoefen.
Die RK word ’n slet genoem omdat sy ontrou aan haar man was. Sy was aan God verbind maar het met Satan owerspel bedryf en dogters gebaar wat net soos sy is – anti-Bybels, anti-Heilige Gees en derhalwe ook anti-Christus. Daarom gaan die Antichris uit haar midde opstaan.
Protestante moet waak teen die opkomende wêreldkerk wat met haar seekatarms Protestantse kerke wil verwurg. Ons moenie kerke blindelings volg nie, maar op die proef stel of hulle werklik Skrifgetou is. So nie moet Jesus se opdrag gehoorsaam word: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”.(Openb.18:4).
Gelowiges moet ernstiger standpunt inneem: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie, want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (3 Joh. 9-11).
Ken jou Bybel. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie...” (Gal.6:7). Dis jou goddelike plig om vir reg, geregtigheid en die waarheid te stry. Wees egter baie versigtig vir misleiding – alle duiwels het nie gesplete hoewe nie!