Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die fout wat baie lidmate maak is om nie te besef dat die kerk 'n loopgraaf in die voorste linie is nie – hulle gebruik dit vir 'n slaapsaal en ruskamp.
DIE ONSE VADER (IV)
Ds A.E. van den Berg
“LAAT U WIL GESKIED”(MT.6:10)
Ons kyk verder na die Onse Vader as 'n geloofsidentifikasiedokument. Dit leer gelowiges God eerstens as hul hemelse Vader ken en daarna om die heiligheid van sy Naam te beskerm. Verder is daar by hulle ʼn opregte begeerte dat al meer mense tot bekering sal kom en die koninkryk van God op aarde sodoende groter sal word.
ʼn Verdere kenmerk van gelowiges is hul begeerte dat God se wil in hul lewe sal geskied. Dis egter een van die moeilikste bedes omdat sondaars so geneig is om hul eie wil te laat geld. Dit het dikwels slegte gevolge soos frustrasies, ontevredenheid, ongelukkigheid en geloofsverval. Alleenlik die doen van God se wil bring ware vreugde in gelowiges se lewens.
Namate ons God se wil in ons lewens laat geskied, ervaar ons sy vrede en vreugde. Dis egter nie altyd maklik nie want hier binne-in stry ons dikwels teen die wil van God. Daarom bid ons dat sy wil sal geskied. Een van ons gesange lui: “Verbeek in my voortdurend Heer die neiging tot die sonde..”
Jesus is vir ons ʼn voorbeeld hoe om God se wil in ons lewens te laat geskied. Kyk hoe het Hy bloed in Getsemanè gesweet om God se wil te laat geskied! Hy het by die wil van God berus al het dit ʼn kruisdood beteken. Dit het vir almal wat die Vader vir Hom gegee het redding gebring. Om die wil van God te doen, was vir Jesus moeilik maar het vir gelowiges verlossing van die ewige dood gebring.
Wat is die wil van God in ons lewens? Hoe kan ons vir seker weet dat ons aan sy verwagtinge voldoen? Moet ons maar alles wat met ons gebeur, hetsy goed of sleg, as sy wil aanvaar, oor niks opstandig raak nie en daarby berus? Nee, die wil van God beteken nie ʼn gedweë aanvaarding van alles wat op my lewenspad kom nie. Sy wil maak my juis aktief want deur geloof staan ek in ʼn lewende verhouding met God. Ek soek geestelik en worstelend antwoorde van God.
Kyk hoe het Jesus in Getsemanè oor die wil van sy Vader geworstel! Hy het Hom nie sonder ʼn geestesworsteling gedwee aan sy wil oorgegee nie. Ten spyte daarvan dat die lydensbeker vir Hom bitter was, bid Hy: “Nogtans nie My wil nie, maar U wil”. Geloofsgehoorsaamheid is worsteling met God!
Die Bybel het talle voorbeelde van geloofsworstelinge. Abraham, Hiskia en Paulus het met God geworstel en Hy het na hul geluister. Dawid skryf: “Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel...”(Ps.40:2-4)
God luister altyd na sy kinders. Abraham het genade by God gevind om nie vir Isak te offer nie. Die dodelik sieke Hiskia het gebid en God het 15 jaar by sy lewe gevoeg. God het Paulus egter nie van die doring in sy vlees verlos nie, maar krag gegee om sy taak enduit te voer. In al dié gevalle het God se wil geskied en, al was die omstandighede nie altyd rooskleurig nie, kan dit rus in lewens gebring.
Dink daaraan dat hierdie gelowiges onaangename dinge wat op hul pad gekom het nie maar passief aanvaar het nie. Omdat hulle in 'n lewende verhouding met God was, kon hulle geestelik met Hom worstel om 100% seker van sy Wil te wees. Gen.32 vertel van Jakob wat met God geworstel het om sy Wil te leer ken.
God se Wil is soms vir gelowiges baie vreemd. In Mt.16 kon Petrus nie die nodigheid insien dat Jesus moes sterf nie en het hom ten doel gestel om dit te probeer verhoed. Dit was egter sy eie wil en nie God s’n nie. Daarna sê Jesus vir die dissipels:
“... As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind” (Mt.19:24,25). Dit beteken om die eie wil te kruisig. Wat help dit ʼn mens dat jy jóú sin kry, maar jy verloor die ewige lewe? Dan het jy niks nie!
Dit laat ʼn mens aan Esau en die verkoop van sy eersgeboortereg dink. Hy wou vir die oomblik sy eie wil en behoefte onmiddellik laat geskied en verruil dit wat vir hom kosbaar behoort te wees vir 'n kooksel lensiesop. .
Wie in die Onse Vader na die wil van God in sy lewe verlang, kyk weg van homself en erken dat God se wil die beste vir hom is. ʼn Verloëning van die eie wil help ons om in heiligmaking toe te neem want heiligmaking bring blydskap en vrede in ons eie lewe. Dit bring as’t ware die hemel tot in ons hart.
Die groot vraag is: Hoe kom ons die wil van God in ons eie lewe te wete? Ons kan tog nie verwag dat God soos met ʼn Moses van ouds hoorbaar met ons praat nie. Hier is 1 Pet. 4:11 ʼn sleutelteks: “...so moet julle God dan verheerlik deur Jesus Christus.” God se wil draai om die as van sý verheerliking. As jy in ʼn moeilike situasie beland, vra jouself af hoe jy God in so ʼn situasie kan verheerlik. Om dit te kan doen, moet jy daagliks met die Woord van God omgaan want God praat deur die Bybel met ons.
Soos wat 'n vlieënier in die nag die ligte weerskante van die aanloopbaan dophou om te sien of hy in lyn met die aanloopbaan is, so hou gelowiges ook die navigasieligte van God se Woord dop om te sien of hulle in lyn met sy Wil is. As die ligte nie skyn nie, is ons nie in lyn met die God se aanloopbaan nie en moet ons onmiddellik van koers verander om n ongeluk te vermy.