Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voordat ek getroud is het ek twee teorieë gehad oor hoe om kinders groot te maak; nou het ek twee kinders en geen teorie meer nie...
DIE ONSE VADER(II)
Ds A.E. van den Berg
“Laat u Naam geheilig word”(Mt.6:9)
Alhoewel die Onse Vader 'n modelgebed is, kan dit ook vanuit 'n ander hoek bekyk word. Dis soos 'n geestelike ID-boekie met geloofsopdragte. Op die eerste bladsy sien ons dat gelowiges God as hul hemelse Vader ken. Bladsy twee leer gelowiges wat die heiliging van God se Naam inhou en iets wat feitlik op elke bladsy van die ID boekie voorop staan want dit handel alles oor God en nie oor onsself nie. Die heiliging van God se Naam is onlosmaaklik van gelowiges se identiteit as kinders van God.
God se Naam is nie bloot ʼn naam soos wat aan name gedink word nie. In die Bybelse tyd het 'n naam iets van ʼn persoon gesê; sy naam was hyself. Gelowiges se begeerte is dat die Naam van God soos ʼn brandmerk op hul lewe sal wys. Dis ʼn afgesonderde naam wat afgesonderd moet bly.
Die heiliging van God se Naam is eerstens iets wat God self doen. “Laat U Naam geheilig word” is die bede dat God self sy eie Naam sal laat heilig. Dit sluit ons egter nie uit nie want waar sien ons God se Naam duideliker as in mense wat tot bekering kom en tot sy eer leef? Paulus is ʼn voorbeeld: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” (Gal.2:20)
Heilig beteken afgesonder of opsygesit. Dis nie iets waarvan kennis geneem en daar gelaat word nie. Dis sigbaar en prakties. Ons kan God se naam net heilig hou as die Heilige Gees ons wederbaar want dan eers het ons God bo alles en almal lief en is sy Naam in ons lewens heilig. Jesus kom eerste:“Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie” (Mt.10:37).
Wat is ’n Christen? Hoe kan ʼn mens daarvan seker wees? Moet jy sekere godsdienstige pligte verrig, gereeld bid, Bybel-lees, kerktoe gaan en voorbeeldig leef? Nee, Christenwees het niks met die uiterlikheid te doen nie, maar met ʼn greep wat God deur sy Gees op 'n mens verkry.
Ons sien dit duidelik in Petrus se lewe. Waarom het Jesus hom drie maal gevra: Het jy My lief? Was Petrus drie maal hartseer? Ja, hy was, omdat hy Jesus drie maal verloën het; m.a.w. een liefdesverklaring vir elke verloëning. Maar Jesus het hom nader getrek. As dit van hom afgehang het, sou hy seker maar ʼn lae profiel gehandhaaf en op die agtergrond gebly het.
Omdat Jesus ʼn besondere doel met Petrus gehad het trek Hy hom bewustelik nader. Pinksterdag het ʼn ingrypende ommekeer in sy lewe gebring toe hy na die uitstorting van die Heilige Gees vreesloos in die tempel preek en 3000 mense tot bekering kom. Daarna het Petrus ʼn baanbrekersrol in die vroeë kerk gespeel en self ʼn paar Sendbriewe geskryf wat in die Bybel opgeneem is.
Petrus was nie ʼn ongelowige toe hy Jesus verloën het nie, maar ʼn gelowige wat in ʼn oomblik van swakheid gestruikel en van Jesus vergifnis ontvang het. Dis ʼn pad wat God soms met van sy kinders loop – eers dieptes en daarna oorwinning. Na die uitstorting van die Heilige Gees het Jesus al hoe meer die eerste plek in Petrus se lewe verkry en sy Naam in hierdie dissipel se lewe geheilig.
Gelowiges is hemelburgers; ʼn heilige gemeenskap van God op aarde met ʼn vreemdelingstatus. “Ek is 'n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie” (Ps.119:19). Gelowiges het ander lewenswaardes as ongelowiges. Hul taalgebruik en leefstyl onderskei hulle van ongelowiges omdat hulle die Naam van God in hul omgang met mense heilig hou.
Hoe heilig ons God se Naam in ons lewe? Eerstens deur dit wat ons sê. Ons gesprekvoering getuig van ʼn veranderde lewensingesteldheid. Ons praat oor dinge wat hoorders geestelik stig. Tweedens heilig ons God se Naam deur ons denke en stuit verkeerde gedagtes deur die Heilige Gees dit te laat beheer.
Vervolgens heilig ons God se Naam deur ons daaglikse optredes. ʼn Gelowige se geloof en lewe is nie twee aparte dinge nie. Verder heilig ons God se Naam ook in gesinsverband. Ons dissiplineer die kinders wat ons van God ontvang het en leer hul om eerbied vir Hom te hê. Wie se gesinslewe nie van eerbied vir God getuig nie, loop vir seker in die verkeerde rigting!
Die heiliging van God se Naam gee geestelike krag en bring blydskap in ons lewe. Let op die geestelike krag in Petrus se lewe na sy vervulling met die Heilige Gees. Eers was sy lewe betreklik kragteloos weens kompromieë wat hy met die wêreld aangegaan het. Dit kom daarvan as jy op twee stoele wil sit!
Om Jesus vir ander dinge te kompromitteer, bring hartseer. “Laat u Naam geheilig word” beteken dus ook dat ek geen kompromieë met die wêreld aangaan nie. Jesus is eerste in my lewe en begin nie met die tong nie, maar eerstens met die hart.
In aansluiting by hierdie tweede bede moet ons ook op die derde gebod let wat teen die ydele gebruik van God se Naam waarsku. In die Hebreeus staan daar letterlik: jy mag God se Naam nie vir sinnelose dinge aanwend nie. Dit moet slegs met groot omsigtigheid gebruik word.
Toe God vir Israel uit Egipte gelei het, het Hy groot dinge in sy Naam gedoen. God het die Farao, wat as ʼn oppermagtige wese aanbid is, op sy knieë gedwing! Op pad na die beloofde land was die volk deeglik bewus van God se leiding en daaglikse versorging in die woestyn. Daarom moes Israel sy Naam as groot en heilig beskou en slegs met die grootste eerbied gebruik. Met dié gebod plaas God ʼn wag oor sy verhewe Naam. Die nakoming daarvan is so ʼn ernstige saak dat daar ʼn toevoeging aan verbonde is – wie dit oneerbaar gebruik, sal God se straf ontvang.
Gelowiges is begenadigdes en moet as sulks God se Naam eerbiedig gebruik en ook bid dat die ganse mensdom dit sal doen. Daarom steek die misbruik van God se Naam soos ʼn dolk in gelowiges se hart. Ongelowiges gebruik God se Naam onnadenkend as ʼn kragterm asook ʼn uitdrukking van verbasing. Moet ons maar stilbly as dit so gebruik word? Nee, want watter kind sal stilbly as sy ouers se naam deur die modder gesleep word? Hoeveel te meer ons hemelse Vader s’n! Ons het ʼn heilige verpligting om sy Naam te beskerm. Kom ons doen dit met volle oorgawe uit liefde vir ons verlossing in Jesus Christus!