Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus is altyd by jou. Om só 'n Vriend te hê wat so naby jou is, gee jou rede om elke dag met 'n dankbare lag te takel.
GEHOORSAAMHEID...
... ʼn BEWYS VAN LIEFDE VIR GOD
Ds A.E. van den Berg
“Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie”(1 Joh. 5:2,3).
Mense sê baie maklik dat hulle God liefhet. Maar is dit waar? Hoe weet ʼn mens of jou liefde vir God eg is en of jy maar net so sê? Die Bybel gee ʼn baie duidelike antwoord: Liefde vir God word gemeet aan gehoorsaamheid aan God se opdragte in die Bybel. Wie daaraan gehoor gee, het God werklik lief. Dis soos ʼn kind wat sy ouers uit liefde gehoorsaam.
Gehoorsaamheid aan God kom nie uit ons eie nie. Dis ʼn keuse wat jy maak as die Heilige Gees jou tot bekering roep. ʼn Mens gee of aan God se Woord gehoor of hy volg sy eie kop en dra die gevolge daarvan. Om bloot te sê dat jy God liefhet sê basies niks as jou lewe nie met God se wil ooreenstem nie. En sy wil is vir ons in die Bybel opgeteken. Daarbenewens dwing God niemand om Hom te gehoorsaam nie. Dis iets wat uit die hart kom.
Jesus sê in Joh.14: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (:15) en “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet....”(:21).Wie God se Woord die hoogste gesag in sy lewe maak, getuig van sy liefde vir Jesus. In Joh.15 sê Jesus: “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly” (Joh.15:10).
Geloofsgehoorsaamheid is wel noodsaaklik vir liefde vir God, maar nie ʼn las nie. Dis eerder ʼn voorreg en vir gelowiges vreugde om God te gehoorsaam. Daarbenewens gee die Heilige Gees vir ons die geestekrag om dit te kan doen.
Johannes se woorde in die teksvers: “en sy gebooie bewaar” beteken om ʼn waaksame oog oor iets kosbaars hou wat aan jou toevertrou is. Endis sy opdragte in die Bybel. Jesus sê kort voor sy hemelvaart: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies... en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mt.28:19). Die Heilige Gees help ons om sy opdragte uit te voer. “Ek beveel jou voor God ... en Christus Jesus .... dat jy die opdrag suiwer en onberispelik sal uitvoer, tot die verskyning van ons Here Jesus Christus” (1 Tim.6:13,14).
Wie God se opdragte oppas, behou die geloof tot die einde toe. Paulus skryf kort voor sy teregstelling: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou”(2 Tim.4:7).
In Openb.1:3 skryf Johannes: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby”. Hy sê dat die mens wat God se Woord gehoorsaam, geseënd is. Diegene wat dit hoor en ag daarop slaan word geseën. Wie dit hoor maar geen ag daarop slaan nie, verbeur God se seëninge en verloor die ewige lewe.
In Openb14:12 lees ons: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”. Wat beteken hierdie bewaar? Om sorg te dra dat die waarheid van die Bybel nie deur leuens aangetas word nie en daadwerklik daarteen op te tree. “Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, tereg-wysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam”(2 Tim.3:16).
Gehoorsaamheid aan God en die waak oor die suiwere Bybelse leer is twee kante van dieselfde muntstuk en kenmerke van opregte liefde tot God. Wie die geloof met die mond bely maar dinge doen wat teen God se wil is, se geloof is vals. En nie net mense nie, maar ook kerke! Neem as voorbeeld die ontsondiging van homoseksualisme terwyl die Bybel dit as ʼn gruwel in God se oog veroordeel. “Iemand wat sê: ‘Ek ken Hom,’ maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie” (1 Joh.2:4).
Ons tweede teksvers lui “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar en sy gebooie is nie swaar nie”. Geloofsgehoorsaamheid is nie uiterlik, ritualisties of wetties nie. Dit kom uit die hart. “Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is” (Rom.6:17).
Die NT beveel gelowiges herhaaldelik om Jesus lief te hê soos wat Hy ons liefhet. “...en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur” (Efers.5:2).
Liefde-gedrewe gehoorsaamheid is nie ʼn las wat ons geesteskrag uitput nie. Bekering maak gehoorsaamheid aan God moontlik en kweek in gelowiges se harte ʼn begeerte om God se wil met vreugde te doen: “Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie” (Ps.119:16).
God se verordeninge word egter ʼn las vir mense wat verkeerde paaie in die lewe neem. Dit geld ook vir gelowiges wat van God se wee afdwaal. Waar die gemeenskap met God verbreek word, word God se verordeninge vir hulle hard en onaangenaam. Keer die persoon terug na Jesus, word die geloofsverhouding herstel en is daar vreugde in sy lewe. So ook vir God. Hoor wat sê die pa van die verlore seun by sy terugkeer:
“En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word” (Luk.15:23,24)
God se opdragte is nie vermoeiend nie. Van dit maak soms seer maar bring genesing. God vra nooit van ons iets wat ons nie kan doen nie. Met sy opdragte stel Hy ons altyd in staat om dit uit te voer. Daarom skryf Paulus: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil.4:13).
Ons liefde vir Jesus is onlosmaaklik aan ons gehoorsaamheid aan die Bybel gekoppel. Daarom moet die Bybel altyd die grenslyn van ons lewenshorisonne wees. Pas dus op vir dwaalleer en stop waar die Bybel stop.
Onthou dat die Bybel vir sondaars geskryf is om hul lewens te verander; nie om dit na eie sin te verander nie. Wie dit doen, rand God se eer aan: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie...” (Gal.6:7). Niemand dryf die spot met die een vir wie jy lief is nie. Allermins nie met God nie!
.