Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons gedagtes nie met een of ander sinvolle taak gevul is nie, laat dit ruimte vir die duiwel. En hy kom nooit alleen nie. Hy bring altyd ‘n klomp bose gedagtes en verleidings saam.
ALLES VAN GOD IS HEILIG
Ds A.E. van den Berg
“… Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond” (Ex.3:5).
Die verhaal van Moses is een van die aangrypendste in die Bybel, veral as in gedagte gehou word dat hy 80 jaar oud was toe God hom geroep het om sy volk uit Egipte te lei. Daarbenewens was hy ’n voortvlugtige wat gevlug het omdat hy ’n Egiptenaar wat ’n volksgenoot mishandel het, doodgeslaan het.
Sy roeping begin aan die voet van Horeb, waar hy later die Tien Gebooie ontvang het. Op daardie stadium het Moses die vee van sy skoonvader opgepas toe God uit ’n brandende bos na hom geroep en gesê het: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond”.
Wat het dié grond heilig gemaak? Die teenwoordigheid van die heilige God! Heilig beteken opsy sit of afsonder. Moses het nie voor ʼn Egiptiese afgod gestaan nie, maar voor die heilige Skepper-God en dit het die spesifieke grond op daardie oomblik heilig gemaak. Voor die heilige God is alles heilig.
In Jos.5 lees ons net voor die verwoesting van Jerigo soortgelyke woorde: “Toe sê die leërowerste van die Here vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy opstaan, is heilig. En Josua het so gedoen” (Jos.5:15).
God is ’n heilige God wat deur sy heiligheid wonders doen. Na die deurtog deur die Skelfsee, sing Moses: “o Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid…. een wat wonders doen?” (Ex.15:11).
God is heilig in al sy werke: “En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig en geen duisternis is in Hom nie” (1 Joh.1:5). Hy wil dat gelowiges deeglik van sy heiligheid bewus moet wees en eerbiedig. Hy sê tydens die uittog vir Israel: “Want Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig…” (Lev.11:44).
Omdat God heilig is, is Hy hoog bo mense verhewe: “Die Here is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. Wie is soos die Here onse God, wat hoog woon, wat laag neersien, in die hemel en op die aarde?” (Ps.113:4-6).
Geen mens durf sy heiligheid minag en dit neerhaal nie. Gelowiges moet eerder in die geloof na Hom toe opklim: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek?” (Ps.24:3). Hierdie orde moet altyd gehandhaaf word – ons moet opklim na God en Hom nie probeer aftrek na ons toe nie.
Wie Hom probeer aftrek, minag sy heiligheid en is indirek met afgodery besig. Dit het Israel se oorgekom toe hulle die goue kalf gemaak het. Hulle wou nie as sulks afgode dien nie, maar het God se heiligheid by daardie geleentheid neergehaal!
As God net aan een eienskap geken moes word, sou dit sy heiligheid wees. Toe Jesaja op ʼn dag in die tempel as profeet geroep is, was hy van geen eienskap meer bewus as God se heiligheid nie. Jesaja het benewens God in ’n verrukking van sinne ook serafs gewaar: “Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad; met twee het hy sy aangesig bedek en met twee het hy sy voete bedek en met twee het hy gevlieg” (Jes.6:2). Dis engele wat as hemelse lakeie in God se teenwoordigheid diens verrig.
Elkeen het drie paar vlerke gehad. Met een paar het hulle hul gesigte bedek. God sê by geleentheid aan Moses: “ Jy kan My aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Ex.33:20). God se heiligheid is so geweldig, dat selfs serafs nie na Hom kon kyk nie. Met die tweede paar vlerke bedek hulle hul voete, want selfs die grond voor God is heilig. Hoeveel te meer nie vir sondaars! Daarom verstaan ons God se opdrag aan Moses: “Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy opstaan, is heilige grond”.
Met die derde paar vlerke vlieg hulle om God se opdragte uit te voer. “En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jes.6:3). Nêrens in die Bybel word enige ander eienskap van God drie maal herhaal nie!
God is heilig. So ook alles wat aan Hom behoort, ook die kerk. In die Twaalf Artikels bely ons dat ons aan ’n heilige, algemene Christelike kerk behoort. Ons moet sorg dat die kerk ook afgesonder bly. Satan wil dit graag ontheilig om soos die wêreld te lyk en op te tree en slaag meesterlik daarin!
Jare gelede vra ’n gevangene my waarom die APK nie opgewekter liedere sing en jeans en tekkies kerktoe dra nie? Ek het hom geantwoord dat God se heiligheid dit nie toelaat nie en aan hom verduidelik dat heilig afsonder beteken.
God is heilig (afgesonder); geen afgod vergelyk met Hom nie. Die Bybel is heilig (afgesonder); geen ander boek vergelyk naastenby daarmee nie. Die erediens is heilig (afgesonder). Dis nie ’n klub vir vrome mense nie maar ʼn gemeenskap van sondaars wat vergifnis van sonde ontvang het. Hoe durf my geestelike musiek soos dié van die wêreld klink en my voete laat juk? Nee, kerkmusiek moet heilige stigtelikheid in my hart bring. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan” (1 Kor.14:40). Daarom hou ek niks van die sg. Gospel musiek nie. Gaan dit werklik om die heiligheid van God of om geld te maak? Dis te gekommersialiseer. Daarbenewens is baie van die woorde onskriftuurlik, soetsappig en sentimenteel.
Wat van kleredrag? Moet dit wat ek kerktoe aantrek, nie ook van my eerbied vir God se heiligheid getuig nie? Tydens ’n erediens staan ek immers voor ’n heilige God. Net my beste is goed genoeg vir Hom!
Die kerk mag nooit in ’n sirkus verander en ontheilig word nie. Jesus Christus is die Rots wat vir sondaars geklief is. Die kerk is die skeur waardeur die lewende water na almal wat dors het, vloei. Daarom beteken die kerk vir die heilige God die meeste wanneer dit die minste soos die onheilige wêreld lyk.
Ongelukkig gebeur dit nie. Mense het nie meer eerbied vir God se heiligheid nie. In plaas daarvan dat die kerk in die wêreld beweeg, het die wêreld in die kerk beweeg. Dit het ʼn godsdienstige oppervlakkigheid geskep wat die kerklike wêreld hol gemaak het. Daarom het baie kerke meer in hul uitstalvensters as op hulle geestelike rakke. Kerklike vernuwing het die indruk van vooruitgang geskep terwyl dit in werklikheid ontwrigting is!
Jesus sê in die Bergpredikasie dat gelowiges sout van die aarde moet wees. Hulle mag hulle nie aan die wêreld onttrek nie. Dan staan daar ook iets baie belangrik – hulle moet waak dat die sout nie laf word nie. Wat sê dit? Kerke moenie in die wêreld verdwyn nie.
Daar is duisende kerke in die wêreld. Watter is ware kerke? Slegs daar waar God se heiligheid eerbiedig en die Bybel suiwer verkondig word. Ek dank God dat ons in die AP Kerk geen behoefte aan oppervlakkige vermaak nie het nie, maar wel aan grondige geestelike leiding.
Ons gaan kerk toe om ons hemelse Vader se stem te hoor en sy heiligheid in te drink en staan ook op heilige grond en trek soos ’n Moses van ouds in die gees ook ons skoene uit. Mag ons nooit ons eerbied vir God se heiligheid verloor nie want dan gebeur iets wat in al hoe meer kerke gebeur –hulle behou die skulp maar verloor die pêrel!