Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is baie veiligheidsbewus. Polisse, versekering en aftreeskemas is aan die orde van die dag. Voorsorg is beter as nasorg. Desondanks word weinig voorsorg vir die lewe na die dood getref. Voor die dood wel, maar nie daarna nie. Waarom? Omdat baie mense nie aan ‘n lewe na die dood glo nie. Om nie daaraan te glo nie, is om nie aan God te glo nie. En dis dwaas! Wie aan God glo, glo ook aan ‘n lewe na die dood en moet voorsorg tref deur Jesus - deur bekering - as Verlosser te leer ken.
HOE BID JY?
Bid jy nie dalk verkeerd nie?
Ds A.E. van den Berg
“Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid…”(Jakobus 4:3)
Gebed is om met God te praat. En ons kán, omdat Hy ons na sy beeld geskape het. Dit beteken nie dat ons soos God lyk nie, maar dat Hy vir Hom in die mens ‘n gespreksgenoot geskep het. Die mens is die enigste van God se skeppings wat met Hom kan praat. Daarom behoort dit ’n besondere voorreg te wees om met ons Skepper te kan praat.
Soos wat die maan die seegetye beïnvloed, beïnvloed gebed ons lewe. Hoe sterker ons gebedslewe is, hoe hoër is die geestelike gety in ons lewe en hoe nader leef ons aan God. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar. Hoe minder gebed, hoe swakker die geestelike lewe.
Daar is geen natuurkrag wat met die krag van gebed kan meeding nie en lê ons grootste krag in gebed. God Drie-enig is ten nouste by gebede betrokke. Die Heilige Gees begeester ons gebede deur versugtinge in ons hart te lê. Jesus neem dit na God se genadetroon wat dit op grond van sy offer aan die kruis aanvaar. Opregte gebede is soos posduiwe wat altyd hul rigting huiswaarts vind – dit kom van die hemel en keer daarheen terug. Geen wonder dat dit soveel krag het nie!
Opregte gebed is nie staties nie en neem verskillende vorms aan. Dit kan bv. met skuldbelydenisse gesout of met dankseggings geparfumeer wees. Dit kan deur middel van sang of selfs in trane geskied.
God wil hê dat ons Hom soos kinders in die gebed moet nader. Daarom het Jesus ons leer bid: “Onse Vader wat in die hemel is…” (Mt.6:9). Geen geheim te groot dat jy dit nie in sy oor kan fluister en geen wens te dwaas of te vermetel dat jy nie met Hom daaroor kan praat nie. Jy kan selfs sonder om 'n hoorbare woord te uiter, met Hom praat.
Dit word vertel dat die Skotse hervormer John Knox , diep bewus van sy volk se geestelike verval was en een aand van sy kerk af oppad huis-toe neergeval en vir ‘n uur lank in stille gebedsworsteling roerloos in die sneeu bly lê het. Al woorde wat hy geuiter het, was: “Here, gee vir my Skotland!” En God hét, met ‘n groot herlewing wat uitgebreek het!
Soos wat 'n vader vir sy kinders altyd goed wil wees, wil God ook vir ons goed wees. As Hy ons dus leer om deur gebed goeie dinge van Hom te vra, wil Hy dit vir ons gee. Net so min as wat jy jou kind sal terg deur hom iets te beloof wat jy nie van plan is om vir hom te gee nie, net so min doen God dit aan sy kinders. As Hy jou dus deur die Heilige Gees lei om vir iets spesifieks te bid, kan jy seker wees dat Hy dit wil gee. Jesus leer ons egter om altyd te bid: "Laat U wil geskied".
God wou bv. in die tyd van Elia reën oor Israel laat uitsak, maar Elia moes eers daarvoor bid. As die bondsvolk voorspoedig wou wees, moes Samuel eers bid. Alvorens die Jode verlos kon word, moes Daniël vir hulle by God met gebed intree. God seën die heidenvolke eers nadat Paulus tot Hom gebid het.
Alvorens jy dus nie voor God se genadetroon gepleit het nie, het jy nie werklik gebid nie. Dis hoe God werk –Hy gee nie alvorens ons nie eers by Hom gepleit het nie. Ons opregte, kinderlike pleidooie is die murg van gebed.
Gebed bereik nie net die sagste harte nie, maar breek selfs die hardstes. As jy ‘n persoon nie tot bekering kan lei nie, kan jy ten minste nog vir hom bid al sê hy vir jou: “Moenie vir my preek nie!”Hy kan jou nie verhoed om vir sy bekering te bid nie.
By geleentheid was 'n padbouer besig om op sy knieë 'n granietblok met 'n hamer en klipbytel te breek toe n predikant by hom verbyloop. "Jou werk is nogal baie soos myne; ek moet ook dikwels harde stene breek" sê hy. "Dis nogal waar, dominee, maar as u harte van klip wil breek, sal u dit soos ek op u knieë moet doen!" Ja, die evangelie breek die hardste harte wanneer 'n mens weet hoe om reg te bid. As jy egter op aarde nooit voor God op jou knieë was nie, sal jy ook nie in die hiernamaals voor Hom kan staan nie.
Alleenlik opregte gebede wat uit sondaarsharte kom, bereik die hart van God. Gebed is nie die opsê van mooi woorde of die aframmel van ‘n paar salige gedagtes nie. God word nie deur die pouvere van digterlike uitdrukkings beïndruk nie. Daar is dikwels meer egte gebed in stamelaars se woorde as in welsprekendes se vloeiende taalgebruik.
Gebed is in werklikheid die lewensasem van die siel. Gevolglik is 'n lewe sonder gebed soos 'n lewe sonder asem. Die nuwe mens in Christus word aan 'n behoefte aan gebed gekenmerk. Dis die handtekening van die Heilige Gees op sy nuwe hart.
Ons moet egter in die geloof bid, want gebede sonder geloof is soos voëls sonder vlerke, bokke sonder pote en seiljagte sonder seile. Dis daar, maar beteken niks nie. Ornamenteel, maar nie funksioneel nie. Gebede sonder geloof is soos 'n amptelike dokument sonder handtekening of seël daarop - dis onontvanklik vir die Ontvanger!
Wanneer jy bid, moet jy ook doelgerig en spesifiek bid. Talle gebede tref nooit die teiken nie weens 'n gebrek aan rigting. Dis soos 'n regiment soldate wat op die slagveld rond en bont vuur sonder om een vyand te tref.
Ons moet leer om volhardend te bid. Ons leef nie elke dag op dieselfde geesteshoogte nie. Daar kom dae dat dit vir jou voel asof jy deur koning Dawid se dal van doodskaduwees loop en nie lus is om te bid nie. Dis dan juis die tyd om volhardend te bid! Moenie vir jouself sê dat jy nie kan bid nie. Bid die Here dat Hy jou van jou biddeloosheid sal verlos en bid daarna totdat jy kan.
Ons moet weet dat sekere genades nie aan ons gegee word behalwe in antwoord op volhardende gebed nie. Daar is genadegawes wat wel soos 'n ryp vrug in jou skoot val nadat jy dit aangeraak het. Vir ander moet jy die boom eers deeglik skud alvorens dit loskom. Moenie ophou as jy seker is dat jy vir die regte ding bid nie. Pleit onophoudelik. God sal nooit iets weier indien jy reg vra nie. Hy sluit nooit sy voorradekamer toe alvorens jy jou mond sluit nie. God trek sy arm nooit terug solank as wat jy vra nie.
Let op die wonders van gebedsverhoring in die Bybel. Dit het bv. nege plae in Egipte laat ophou, lewens is verleng, siekes is genees en dooies laat opstaan. En dan is ons net by die OT. Die NT getuig nog meer. Ja, daar is geen ensiklopedie ter wêreld groter as dié van gebedsverhoring nie!
Gebed mag nooit misbruik word nie. Moet nooit van God iets verwag nadat jy die vingers geklap het nie. Hy gee net na sy voorneme en soms baie anders en selfs meer as wat ons vra. Sal ons ongelukkig wees as ons Hom om silwer bid en Hy vir ons oplaas goud gee of as ons ligaamlike gesondheid vra en Hy ons geestelike gesondheid gee? Was dit nie vir Paulus beter toe God hom die genade gegee het om die doring in sy vlees te verdra nie?
Moenie nalaat om vir ander te bid nie. “...terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges”.(Efes.6:18). In I Thess.5:25 sê Paulus: “Broeders, bid vir ons”. Jy kan niemand 'n groter weldaad bewys as om vir hom te bid nie. Hoe meer jy bid, hoe meer sal jy wil bid en dit makliker word. Moet ook nie nalaat om vir jou stad, dorp of gemeenskap te bid nie. Abraham het selfs vir Sodom en Gomorra gepleit al was hulle boos.
Gebed is onontbeerlik vir 'n gesonde gemeente. Dis die lewensaar daarvan. Die verwaarlosing hiervan is soos 'n sprinkaan wat die krag van 'n gemeente verteer. 'n Leraar wat deur sy gemeente in die gebed gedra word, kan berge versit. Daarsonder kan hy selfs oor 'n molshoop struikel! Beproef die wonder van gebed. Jy het niks om te verloor nie. Jy kan net wen!