Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
VANDAG het God vir jou die geskenk van 86 000 sekondes gegee. Het jy een van hulle gebruik om vir Hóm dankie te sê?
BESKERMHEILIGES
Ds A.E. van den Berg
“Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebr.12:1).
Protestante het eerbied vir ontslapenes wat voorbeeldige geloofslewens gelei het. Dis ook ʼn Bybelse opdrag: “Maar ons vra julle... erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan, en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk” (1 Thess.5:12,13).
Eerbiediging is egter nie aanbidding soos die afskuwelike ding wat in die Roomse Kerk (RK) gebeur wat sekere dooies tot heiliges verklaar en openlik tot hulle bid nie. In die Twaalf Artikels bely ons die gemeenskap van die heiliges. Dis medegelowiges; mense wat nog leef. Geloofsgemeenskap kan nie met dooies beoefen word nie. Dis alleenlik met lewende mense moontlik.
Die RK gebruik Hebr.12:1 om hul dwaling te staaf en skep daarmee die indruk van toeskouers wat in ʼn arena gelowiges se geloofswedloop sit dophou: “Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê”.
Die Roomse “heiliges” moedig mense aan om die voorbeeld wat hulle nagelaat het na te volg. Dis ʼn foutiewe teksuitleg. Hebr.12 is bloot Bybelvoorbeelde van navolgenswaardige geloofslewens. Niemand sit en kyk vir ander nie!
Die RK beskou die verering van afgestorwe heiliges as ʼn geloofsverpligting. Hulle word glo nie as sulks aanbid nie. Daar word glo net tot hulle gebid omdat die RK glo dat al is hulle dood, hulle steeds deel van die geloofsgemeenskap is. Vandaar die verwysingna: “die groot wolk van getuies rondom ons”(Hebr.12:1).
Roomse afgestorwe “heiliges” is glo by magte om God regstreeks te versoek om ag op ʼn bidder se gebede te slaan. Omdat hulle reeds deel van die triomferende kerk in die hemel is, het hulle glo baie beter toegang tot God as dié van die strydendes kerk op aarde. Dis natuurlik onbybels en ʼn infame leuen!
Die RK leer dat hierdie heiliges die belangstellingsveld wat hulle op die aarde gehad het in die hemel voorsit en derhalwe beskermheiliges van hulle maak. Hulle laat glo van hul oorvloedige geestelike krag in die hemel na bidders op die aarde oorspoel. Nog ʼn leuen!
Die RK lieg as hulle sê dat hulle nie tot heiliges bid nie. As beskermheiliges word daar wel onbeskaamd tot hulle gebid. Pous Gregorius I wat in 1295 tot heilige verklaar is, word bv. as die beskermheilige van kerkskole, koorsang, onderwysers, skoliere, studente, sangers, musikante en messelaars vereer en vir die verlossing van jig of builepes word daar openlik tot hom gebid.
In die Vatikaanstad is die gebalsemde liggame van ’n aantal pouse in glaskaste te sien. So is pous Johannes XXIII wat in 1964 oorlede in 2000 opgegrawe en in ʼn glaskis in die Vatikaan geplaas. Mense kniel en bid voor sy kis en glo dat hy wonders kan laat gebeur!
Maria is die hoof van die beskermheiliges en word die koningin van die hemel genoem en so aanbid. Dink maar aan Schubert se Ave Maria – gebed aan Maria. Ook die Maria gebedekrale; 52 van hulle en nie een met Jesus se Naam nie! Maria verering kom 100% met die ou Babiloniese afgodsdiens ooreen. Semiramis, hul godin, is ook koningin van die hemelgenoem. .
Semiramis is ook in tye van godsdiensverval in Israel vereer: “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg” ... En as ons vir die hemelkoningin rook laat opgaan en vir haar drankoffers uitgiet, is dit dan sonder ons mans dat ons vir haar koeke maak om haar af te beeld en drankoffers vir haar uitgiet?” (Jer.7:18; 44:19).
Die verering van heiliges is ʼn onoorkomelike verskilpunt tussen die RK en Protestantisme. Gedurende die Hervorming het Luther en Calvyn hierdie dwaling in geen onduidelike taal verwerp. Regverdigmaking word sonder bemiddeling van ʼn dooie en alleenlik deur geloof in Jesus Christus verkry.
Protestante dink anders oor heiliges. Die Roomse leer daaroor is vreemd aan die Bybel en afgodies van oorsprong. God is volmaak en kan nooit beïnvloed word nie. Daarbenewens is dit nie ʼn kerk se taak om dooies tot heiliges te verklaar nie
Die Bybel praat ook van heiliges. Die woord kom 60 keer in die NT voor, maar nie dooies nie, slegs lewendes - die gelowiges van destyds. “Paulus, ʼn apostel van Jesus Christus deur die wil van God, aan die heiliges wat in Efese is …” (Ef.1:1).
Paulus noem die gelowiges in Korinte geroepe heiliges.So ook dié in Rome: “...aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” (Rom.1:7).
Gelowiges het geen bemiddeling tussen hulle en God nodig nie. Jesus het met sy kruisiging ʼn direkte verbinding met God daar gestel. Daarom het Luther en Calvyn dodeverering verwerp omdat dit die aandag van Godsverering aftrek.
Die RK glo dat hulle heiliges na bidders omsien. Wie in nood verkeer, bid net tot ʼn beskermheilige om hulp. Dis alles bedrog. Dooies kan nie gebede aanhoor nie. Nêrens in die NT is daar enige sprake van gebede tot dooies nie. Nog minder maak die kerkgeskiedenis daarvan gewag.
Om die waarheid te sê, verbied die Bybel dit ten sterkste. Lukas skryf in Hand.10: “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar‘n mens” (:25,26).
Heilige lewens het trefkrag. Petrus skryf: “...en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon....” (1 Pet.2:12). Dis vandag meer nodig as ooit. Heilige lewens bring geloofsgemeenskappe tot stand. Dis die gemeenskap van die heiliges wat ons bely en net deur persoonlike heilige lewens aan Jesus gewy, moontlik.
Gelowiges het nie dooies se hulp met gebed nodig nie. Hulle gaan reguit na God se troon van genade: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.... Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Hebr.4:16; 7:25).
Jesus wil hê dat ons deur ons heilige lewes anders as wêreldlinge moet wees. Henog (Gen.5) is ʼn treffende voorbeeld. In sy tyd het sonde so toegeneem dat God besluit het om die mensdom op agt na uit te wis. En wat doen Henog? Hy wandel enduit met God. Laat ons ook met heilige lewens enduit met God wandel!