Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Troos jou daaraan dat die aarde geen droefheid het wat die hemel nie kan genees nie.
SPYT OF BEROU?
Ds A.E. van den Berg
“ʼn Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: ‘Ek wil nie’; maar later het hy berou gekry en gegaan” (Mt.21:28,29).
Spyt en berou is nie dieselfde ding nie. Spyt het met selfbejammering te doen. Jy sê vir jouself: As ek maar net nie dit of dat gedoen het nie, was dinge nou beter. Daarenteen het berou niks met myself of my eie voordeel te doen nie, maar met God en medemens wat ek met woorde en/of dade te na gekom het.
Dit maak van berou feitlik ʼn Bybelse begrip want dit het niks met eie voordeel te doen nie; maar met dié van ander mense. God is die sprekende voorbeeld hiervan. Hy het Hom in Jesus nie as ʼn mens gebore laat word om tot eie voordeel aan ʼn kruis te sterf nie, maar tot ons voordeel (verlossing) gedoen.
Daarom bring die evangelie van verlossing koersveranderings in sondaars se lewens. Dit laat jou weg van jouself kyk en ander mense raaksien. Ware berou is om jammer te wees dat jou verkeerde optrede ander benadeel het. En dis hoe hierdie gelykenis verstaan moet word – ʼn skynbaar eenvoudige verhaal maar waarvan die betekenis nie maklik verstaan word nie.
Dit vertel van ʼn pa wat sy seun vra om in sy wingerd te gaan werk; waarskynlik die oudste seun omdat dit die gebruik was om die oudste een eerste te vra. Hy was dan ook die hoof-erfgenaam. Die seun weier prontuit waarna die pa na sy tweede seun gaan en dié ingestem het om te gaan werk.
Dit gebeur toe so dat die eerste seun tog wel gegaan het maar die tweede nie. Vanwaar die ommeswaai? Omdat dit vir die oudste een voordelig kon wees. Indien hy nie gegaan het nie kon hy dalk sy erfporsie verloor. Toe die tweede seun hoor dat sy broer nie wou gaan nie, het hy ingewillig omdat dit moontlik vir hom voordeel kon inhou. Toe hy egter sien dat sy broer wel gaan en daar geen voordeel vir hom in was om ook te gaan nie, het hy tuis gebly.
Ná die vertelling het Jesus vir die omstanders gevra wie van die twee seuns die pa se wil gedoen het. Die meeste het gemeen dis die oudste seun. Al het hy aanvanklik nee gesê, het sy gewete hom gepla en wel gegaan. Die tweede een het belowe maar dit nie gedoen nie. Dus moet die eerste seun reg en die tweede verkeerd wees, of hoe?
Uit dit wat Jesus daarna gesê het, lei ons af dat dit nie die regte antwoord was nie. Nêrens sê Jesus dat die omstanders reg was nie. Daarna het Hy met hulle oor iets begin praat wat skynbaar niks met die gelykenis te doen gehad het nie maar wat daarop gedui het dat nie een van die twee seuns reg was nie. En die rede? Daar was by geeneen berou nie. By die eerste een slegs spyt omdat hy besef het dat hy homself kon benadeel. Die tweede kon geen voordeel trek nie.
Toe sê Jesus iets wat die omstanders erg ontstel het – daar is mense soos tollenaars en hoere wat berou oor hul verkeerde lewens gekry, tot bekering gekom en die wil van God, die hemelse Vader gedoen het. Saggeus, die hooftollenaar, is ʼn sprekende voorbeeld van so ʼn persoon: “Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: ‘Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. Daarop sê Jesus: ‘Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham” (Luk.19:8,9).
So ook ʼn vrou wat in erge sonde geleef het:
”'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albasterflessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf” (Luk.7:37,38).
Wat leer Jesus ons met dié gelykenis? Dat spyt en berou nie dieselfde ding is nie. Die oudste seun was spyt omdat hy iets kon verloor. Daarenteen het tollenaars en hoere berou oor sonde gehad, hul bron van inkomste prysgegee om tot eer van God te leef. Berou het koersveranderings in hul lewens gebring; weg van hulself en na God toe. Spyt laat jou net in jou eie tameletjie vassit.
Berou is om werklik jammer te wees oor wat jy ander aangedoen het en dit selfs teenoor hulle te bely. Daarna maak dit nie veel saak of die benadeelde persoon jou vergewe nie. Jy het met jou berou ʼn verstopping tussen God en mens verwyder. Dit geld egter nie net vir openbare optredes nie, maar ook in jou huis waar mense buite sig van die openbare oog met mekaar moet saamleef. Berou is die beste medisyne vir gesonde gesinsverhoudings.
Dis waarom Jesus in Mt.6 sê dat die toets vir ware geloofsoortuigings nie op markpleine, die binnekant van kerke of op straathoeke te vind is nie, maar in die verborgene (binnekamer). Om in die openbaar te sê dat jy jammer is, kan jou dalk iets in die sak besorg. Maar om dit in die binnekamer vir God te sê en ware berou betoon, het geen loon of eie voordeel nie. Dis egter die regte ding om te doen. Net die liefde van God dring ʼn mens daartoe.
Maar, wat van jou? As jy sê dat jy jammer is, kan dit nie dalk blote spyt wees omdat jy voordeel uit ʼn saak verloor het nie? Of bedoel jy dit opreg? Ware berou laat ons die liefde van God op so ʼn wyse ervaar dat dit voel asof jy van boeie ontslae geraak het. En dis hoe God wil hê dat ons moet leef want ons is almal op pad na ʼn ewigheid.
Berou is nie bloot ʼn wegdraai van sonde nie, maar ook van denke. Ware berou verander lewens. Petrus praat na Pinksterdag met Jode in die tempel: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom, ...” (Hand 3:19). Berou is ʼn verandering van denke wat tot ʼn verandering van optrede lei.
Berou en geloof het baie met mekaar te doen. Dis as’t ware twee kante van dieselfde muntstuk. Dit is onmoontlik om Christus as Verlosser te aanvaar sonder om eers hoe jy oor Hom dink te verander. Paulus is so ʼn voorbeeld.
“En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ʼn lig van die hemel af en hy val op die grond en hoor ʼn stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here? En Hy antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg... En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? “ (Hand.9:6-8)
Berou is egter nie iets waarmee ons redding verdien nie. Alle verlossing, insluitende berou en geloof, is die wonder dat God ons tot die ewige lewe roep, ons oë opmaak en ons harte verander. Die Heidelbergse Kategismus sê dat, alvorens ons tot bekering kan kom, ons moet weet hoe groot ons sonde is. En dis net moontlik deur berou oor sonde. Berou maak ʼn siel skoon!