Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Een van die grootste vergoedings van vergifnis is jou warm hart en jou pyn wat daardeur weggeneem word.
DIE KERK SE DOEL
Ds A.E. van den Berg
Het die kerk nog enige betekenis?
“Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Kor.1:18).
“Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?” (Mt.5:13).
Kerkgang het vandag so ontstellend afgeneem, dat ʼn mens wonder of die kerk nog enigsins ʼn rol in ʼn gemeenskap te vervul het. Diegene wat hul kerkgang gestaak het, sê gou dat God nie net in kerke gevind word nie. Hy is orals en is ook in die natuur, huise op TV’s en radio-uitsendings te vinde. Om God te ontmoet, kan jy net sowel buite in die natuur gaan loop of in jou huis bly. Dit gaan geen verskil maak nie.
Nee, alhoewel God alomteenwoordig is, roep Hy sy kinders tot gesamentlike aanbidding op: “...en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebr.10:25). Ons bely in die Twaalf Artikels dat ons glo aan die gemeenskap van die gelowiges.
Wie se skuld is dit dat kerkgangso verval? Die kerk s’n omdat sy haar doel mis! Die kerk hou haar te veel met dinge soos bv. hulpverlening op. Dit lê op die buiterand en laat haar soms haar kern-opdrag nalaat. Barmhartigheidswerk is belangrik in die navolging van Jesus maar durf nooit die hoofdoel word nie!
Omdat hulpdienste ook op ander lewensgebiede te vinde is, maak hulpverlening as sulks die kerk nie uniek nie en Jesus wil juis hê dat die kerk uniek moet wees. Wat maak dit uniek? Die feit dat dit die enigste instelling ter wêreld is wat in mense se geestelike behoeftes voorsien, Daar is nie nog so ʼn iets nie. Dus slaag die kerk net in haar doel as sy Jesus se voorbeeld navolg: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk.19:10).
Die kerk se hoofdoel hang nie van heilsame optredes in gemeenskappe af nie, maar om die Woord van God onvervals te bring sodat verlorenes hul bekeer en gelowiges in hul geloof versterk word. As die kerk dit nalaat, mis sy haar doel.
Die wêreld sal die kerk altyd misverstaan en haat. “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan...” Daarom probeer Satan altyd die kerk binne te sypel en dit na wêreldse standaarde te verlaag: Die Bybel waarsku: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Johannes skryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh.2:15-17).
Die godvyandige wêreld trek mense soos ʼn magneet. Om hierdie trekkrag teen te staan, is ʼn lewenslange stryd. Christene moes van meet af aan ʼn duidelike besluit neem om hulle van die wêreld los te maak. Sommige het net ʼn tydjie gehou en toe omgeswaai om saam met die wêreldstroom te swem. Paulus skryf: “...want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het...” (2 Tim.4:10).
Niks het sedertdien verander nie. Mense wat eens by die kerk betrokke was, los en deur die wêreldstroom weggevoer is, is legio. Wie egter deur God uitverkies is, word nie weggespoel nie en die wêreld haat hul daarvoor. Jesus sê: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh.15:19).
Die kerk moet vir ʼn gemeenskap ʼn seën te wees. Hulpverlening mag egter nooit haar fokuspunt wees nie. Barmhartigheid is die byproduk van ʼn lewe wat aan Jesus gewy is. Goeie werke is ʼn byproduk en nie die doel nie! Indien die kerk net op fisiese en emosionele behoeftes ingestel is, mis sy haar doel. Dan is die kerk nie langer uniek nie en is dit net nog ʼn kopie van ʼn welsynkultuur wat nie altyd Christelik is nie.
Die wêreld verstaan nie die kerk nie. Daarom moet gelowiges ook aanvaar dat hulle misverstaan gaan word. Mense het dan vir Jesus misverstaan! Waarom het skares van etlike duisende Hom gevolg? Omdat Hy vir hulle kos gegee en wonders verrig het maar Hom nie werklik verstaan het nie. Jesus het egter nooit van sy doel afgesien nie. En dis wat die kerk vandag moet doen – haar Bybelse opdrag uitvoer om verlorenes na Jesus te lei ongeag wat die wêreld van haar dink. Dis al wat haar uniek en waardevol sal maak. Jesus is die Rots wat vir sondaars geklief is en die kerk die skeur waardeur die onvervalste, lewende water na almal wat dors het, vloei.
Kerke is dit nie meer nie. Hulle gee vir mense wat húlle wil hê en nie wat God wil hê nie. Daarom versink kerke in die dryfsand van hul eie onverskilligheid en ontsondig gruwels soos homoseksualisme en die bevestiging van dieselfde geslag-huwelike. Die NG Kerk is bv. besig om ʼn huweliksformulier vir pare van dieselfde geslag voor te berei. Kerke gee vir mense wat hulle wil hê!
As die wêreld eers in die kerklike murg beland het, word meesterstukke uitskotprodukte. Daarom durf kerke hul deure nie ʼn skrefie vir die wêreld oopmaak nie: “...en gee aan die duiwel geen plek nie...” (Efes.4:27). Om in hul doel te slaag, moet kerke die wêreld altyd vreemd opval.
Maar wie of wat is die kerk? Dis nie ʼn gebou of klub vir godsdienstiges nie, maar ʼn gemeenskap van sondaars wat deur die bekering vergifnis van sonde ontvang het. Wat ʼn behoefte het ons volk nie vandag aan kerke met ʼn opregte liefde vir Jesus en wat die Evangelie van verlossing duidelik oordra sodat sondaars hul kan bekeer en gelowiges in hul geloof versterk word nie!
Gelowiges moet aanvaar dat die kerk gedurig deur ongelowiges aangeval en sy kernboodskap telkens bevraagteken gaan word. Jesus sê:“.... In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin”(Joh.16:33). Verdrukking is die duidelike teken dat daar net een ware kerk is. Hulle is die sout van die aarde waarvan Jesus in sy Bergrede praat.
Die ware kerk het Jesus opsigtelik lief, leef volgens sy Woord en gaan geen kompromie met die wêreld aan nie. Hulle slaag in hul doel om die koninkryk van God op aarde te laat kom soos in die Onse Vader gebid word. Hulle is die sout van die aarde. Wat van jou? Is jy ook sout?