Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus moes as volkome mens hier op aarde leef. Nie net is Hy as 'n mensebaba gebore nie, maar het Hy ook die emosies van 'n mens gehad. Johannes 11 beskryf vir ons hoe geweldig bewoë en in sy Gees ontsteld Jesus was toe Hy sien hoe hartseer die mense oor Lasarus se dood was; Hy het selfs saam met hulle gehuil voordat Hy Lasarus uit die dood opgewek het. Hoe goed begryp Hy nie ook jou pyn en hartseer vandag nie!
LAAI REG AF
Moenie verkeerd aflaai nie!
Ds A.E. van den Berg
“En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang” (Mt.27:5).
Min Nuwe Testamentiese persone se optrede slaan jou so dronk soos dié van Judas. Hoe het hy by die dissipelkring beland? Waarom het Jesus as God alwetend dit nie verhoed nie? Hy het mos geweet dat Judas Hom sou verraai! Hy het, maar God se plan moes deur Judas werk. Dit verskoon egter nie sy verraad nie. Elke mens is vir sy eie keuses verantwoordelik. Judas moes kies en het verkeerd gekies.
Judas was egter nooit op die voorrand soos die ander dissipels is nie. Hy het ʼn lae profiel gehandhaaf. Ander dissipels nie. Dink aan Petrus met die belydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt.16:16).
Ons hoor ook duidelike geloofsuitsprake van Johannes, Jakobus en Thomas maar niks van Judas nie! Al wat ons van hom weet, is dat hy die beursie gedra het – die penningmeester van die kring. Hy was, soos later duidelik aan die lig gekom het, baie lief vir geld.
Waarom wou Judas in die dissipelkring opgeneem word? Was dit ʼn politieke agenda? Die dissipels het gehoop dat Jesus ʼn aardse regeerder sou word, selfs op pad na die hemelvaart: “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6).
Omdat Israel onder Romeinse heerskappy was, het hulle na ʼn politieke verlosser gesmag en gehoop dat ʼn dag sou aanbreek dat Jesus die Romeine sou verdryf en Koning van Israel word. Dan kon Judas die minister van finansies word. Om Jesus te volg, was dan ʼn middel tot ʼn doel. Miskien het hy van ʼn blink nuwe toekoms gedroom en hier was ʼn gulde geleentheid!
Die tragiek was dat hy oral saam met Jesus en die ander dissipels gegaan het. Hy het Jesus hoor preek en wondertekens aanskou maar was nogtans verlore. Dit gebeur vandag nog: mense wat gestryk en gepoleer in kerke is maar nooit in die bloed van Jesus gewas is nie!
Toe Judas geen strewe na politieke seggenskap by Jesus bemerk nie, was hy baie teleurgesteld. Jesus het geen plan gehad om die Romeine te verdryf nie. Hy het hulle nie eens gekritiseer nie maar die kerklui aangevat. Judas het begin glo dat hy op die verkeerde pad was. Hy het heimlik gehoop dat dissipelskap die brug na groot rykdom was en tot sy teleurstelling gesien dat die navolging van Jesus weg van eer en rykdom gelei het. Dit het sy lugkastele in puinhope en sy dagdrome in nagmerries laat verander!
Judas was kwesbaar en het soos Kain prooi van Satan geword. God waarsku vir Kain: “... die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen.4:7). Ongelukkig het geld Judas se lewe oorheers en het hy geweet dat die Jode vir Jesus dood wou hê.
Omdat Jesus altyd skares om Hom gehad het, kon Hy nie sommer gegryp word nie. Judas het geweet wanneer Jesus alleen sou wees en was die priesterhoofde uit die veld geslaan toe hy by hulle opdaag: “Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg” (Mt.26:14,15).
Daarmee is die goddelose aap uit die vrome mou gelaat! Wat mense nie alles vir geld sal doen nie; selfs hul eie mense verraai. Ons eie volksgeskiedenis wemel hiervan – van die politiek tot by die kerk!
Die priesters gaan nie na Judas nie; hy kom na hulle. Hulle moes sommer baie ingenome gewees het want hulle wag nie totdat die taak afgehandel is nie maar gee hom dadelik 30 silwerstukke; ʼn aansienlike bedrag genoeg om ʼn stuk grond mee te koop soos wat toe ook na sy dood gebeur het.
Jesus het lankal van Judas se planne geweet. “Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is 'n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskáriot... want hy sou Hom verraai....” (Joh.6:70,71).
Net voor Jesus se inhegtenisname sê Hy: “ Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai. Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie... En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê” (Mt.26:21,26).
Daarna het Judas hom uit die voete gemaak en daag kort daarna saam met ʼn optog op wat tot die tande toe gewapen was. Die Jode het met Judas vir ʼn teken ooreengekom; die een wat hy soen, soos dan gebeur het.
Wat het in Judas se gemoed aangegaan? Kon hy enigsins slaap, veral na die ter dood-veroordeling? Daar is geen las so swaar soos ʼn sondelas nie. Alles word donker. Wat maak Judas met sy sonde? Hy gaan terug na die priesters en probeer dit by hulle aflaai: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai”.
Waarom het hy na die priesters teruggegaan? Eerstens omdat sy sondedaad daar beslag gekry en tweedens omdat priesters vergifnis kon bewerk. Kon hulle help? Allermins! “Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!” Hulle sê vir hom om koers te kry! Daar was geen vergifnis nie en kom ʼn jong lewe tragies aan sy einde: “En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang”.
Die hoofsaak gaan egter nie oor die priesters se pastorale onverskilligheid of wat daarna gebeur het nie. Judas se grootste fout was dat hy sy sonde by die verkeerde plek wou aflaai. Ons sondig almal; ʼn las wat afgelaai moet word.
Die vraag is net: Waar laai ons dit af? Judas wou syne by die priesters aflaai, mense wat ʼn onsimpatieke wêreld verteenwoordig het en duidelik die verkeerde plek was. Miskien het Judas geweet waar om dit af te laai maar geglo dat sy sonde te groot was. Sal jy iemand wat opsetlik vir jou kind se dood verantwoordelik was vergewe? Bitter moeilik, nie waar nie?
Judas het gemeen dat God hom nie sou vergewe nie en slaan die bal mis. Judas was indirek ʼn moordenaar. Is daar vir moordenaars vergifnis? Kyk na Golgota! Judas se grootste fout was om sy sondelas op die verkeerde plek af te laai en dit, nie sy verraad nie, kos hom die ewige lewe.
Wat doen jy met jou sonde? Dawid antwoord:“Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is... Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer ... want u hand was dag en nag swaar op my... My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie ... en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe”(Ps.32).
Moenie die fout van Judas herhaal deur by verkeerde plekke te wil aflaai nie. Daar is net een plek – by God.
Daar is talle beloftes van vergifnis in die Bybel; OT en NT. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes.1:18).“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9).
Laai reg af!