Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Op hierdie laaste dag van die ou jaar wonder mense soms hoe hulle die nuwe jaar moet aanpak. Gelowiges doen dit sonder vrees – eerder met opgewondenheid en afwagting om te sien hoedat die Here ons gaan lei en bewaar. Want God het 'n verbond met sy kinders: Hy sal ons bewaar maar ons moet gehoorsaam wees. Omdat ons Hom verwag in sy wederkoms, leef ons ook in hoop en verwagting op die komende saligheid en vrees ons nie die toekoms nie; Hy is getrou!
OM DIE GELOOF TE VERLOOR
Ds A.E. van den Berg
“Daarom moet ons des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Hebr.2:1).
Die Hebreërskrywer begin hoofstuk 2 met ʼn opdrag aan gelowiges om aan die waarheid geanker te bly. Dit gebeur soms dat gelowiges wegdryf sonder om dit agter te kom. Dit het met Simson gebeur: “En toe hy uit sy slaap wakker word, sê hy: Ek sal vry uitgaan soos die vorige kere en my losruk. Want hy het nie geweet dat die Here van hom gewyk het nie” (Rigt.16:20). Tragiese woorde!
Ware gelowiges vind dit nie moeilik om hul geloofsboot aan die waarheid te anker nie. God het immers sy Woord gegee sodat mense die waarheid van die leuen kan onderskei en verdedig. Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16).
Jesus sê vir gelowiges: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Joh.14:15).Bewaar beteken hier om die waarheid te verdedig en te beskerm.Wie die waarheid verlaat, verloor lewensrigting en ontspoor in die lewe.
Die Hebreërskrywer sê dat God baie moeite gedoen het om mense die waarheid te laat leer ken en dit selfs met wonders en magtige dade bevestig: “...hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het, terwyl God ook nog saam getuig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade en bedeling van die Heilige Gees volgens sy wil?” (Hebr.2:3,4).
Wie die leuen bo die waarheid glo, spot in der waarheid met God: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie” (Gal.6:7). God het sy waarheid in sy Woord openbaar. Waarom wil mense daarvan wegdryf? Tog gebeur dit gereeld, selfs met predikante.
Soms raak predikante ontnugter met hul loopbaankeuse en verander dit. Ander ervaar as’t ware ʼn omgekeerde Damaskus-ervaring en verloor hul geloof. Hulle dryf weg.
Leraars wat baie ernstige probleme in die bediening ervaar, neem toe. Sommige staan Sondae op die kansel en hou die Bybel as die onfeilbare Woord van God voor, maar glo nie in die hart wat hulle verkondig nie. In baie van die gevalle lê die probleem by hul kerkverband waarvan die leer van die Bybelse waarheid vervreemd geraak het.
Dis vir enige leraar onhoudbaar om een ding te glo, maar ’n ander ding van die kansel af te moet verkondig. So ʼn leraar waag dit nie om die waarheid te praat nie. Hy is bang om sy werk, salaris en pensioen te verloor. Daar is egter ook leraars wat bewustelik dwaalleer verkondig, mense laat ontspoor en aan die einde van die maand ʼn goeie salaris ontvang.
Geen wonder dat die moderne mens ʼn twyfelaar geword het nie. Eeu oue Skrifwaarhede soos Jesus se maagdelike geboorte, sy opstanding uit die dood en die lewe hiernamaals word bevraagteken. Dwaalleraars giet sulke vertwyfeling in preekvorm en mislei lidmate. Dis niks nuut nie en het al in die tyd van Moses voorgekom: “Vervloek is hy wat die woorde van hierdie wet nie hou om dit te doen nie; en die hele volk moet sê: Amen” (Deutr.27:26).
Die Bybel waarsku kerke wat bewustelik van die waarheid wegdryf dat indien hulle nie na die waarheid terugkeer nie, God hulle gaan verlaat soos met Efese gebeur het:“Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Openb.2:5).
Efese het nie geluister nie, hul geloofsanker losgemaak en weggedryf. Dis vandag ʼn ruïne-stad, ʼn harde waarskuwing van wat met ʼn kerk gebeur wat die waarheid geken en bewustelik daarvan weggedryf het. Dit gaan tot niet!
Dit gebeur vandag al hoe meer. Kerke dryf weg en laat nie meer helder klanke van die Skrif op gruwels hoor nie. Hulle ontsondig dit selfs soos wat met homoseksualisme gebeur het. Daar is selfs gemeentes vir homoseksualiste. In een van Kaapstad se noordelike voorstede is daar ʼn gemeente met ʼn selfde geslag leraarspaar. God word bespot!
Is die Bybel dan nie duidelik oor die gruwel van homoseksualisme nie? Lees hulle nie Rom.1 nie? Is kerke nie veronderstel om geloofleiding te gee en gelowiges in hul geloof te versterk nie? Dit gebeur nie. Al hoe meer beweeg weg van Bybelse waarhede en hou hulle eerder met “polities-korrekte” sake besig.
Geen wonder dat lidmaattalle in hoofstroomkerke skerp afneem nie. Daar is bv. meer as 300 proponente in die NG Kerk wat op beroepe wag. Dis die vloek van ontsporing. Eertydse behoudende kerke dryf van die Bybelse waarhede af weg, daarna raak hul teologiese opleiding besoedel en word mense vanaf kansels verwar. ʼn Amerikaanse gelowige betreur onlangs die kerklike misleiding in sy land en gebruik ʼn woordspeling – theological seminaries became cemeteries. Vandag se kateder-teologie is more se kansel-taal!
Dit verg moed om aan God gehoorsaam te bly wees. Geen eerbare leraar durf ’n salaris van ʼn kerk ontvang as hy nie meer met hul leer saamstem nie. ʼn Kerk wat die waarheid nie meer beskerm nie, het ook geen bestaansreg nie. Daarom kan so ʼn leraar sy kerklike bande sonder enige gewetensverwyte verbreek. Ek het dit in 1987 gedoen!
Paulus se raad aan Timoteus is ook God se raad aan ons: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim.3:14,15).
Afvalligheid is besig om orkaansterkte in kerke te bereik en ʼn teken dat die wederkoms van Jesus naby is. Kort voor sy kruisiging vra sy dissipels vir Jesus oor wat aan die einde gaan gebeur:
“En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie” (Mt.24:3,4).
Daar was deur die eeue altyd misleiding gewees.Teen die einde gaan dit egter oorhand toeneem. Om nie weg te dryf nie moet ons aan die Woord van God vasgemaak bly. Ware geloof word deur gehoorsaamheid aan die Woord van God gekenmerk. Sorg dat jy jou Bybel goed ken, want dan kan jy nie wegdryf nie!