Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal raak soms bang. Ps 108 nooi jou uit om veilig by die Here te voel selfs al verkeer jy in gevaar. Hierdie psalm praat van 'n geloof in dinge wat ons nie kan sien nie, 'n geloof wat jou staande hou selfs in die swartste nag. Die Here is altyd vir jou daar; daarom hoef jy nie bang te wees vir môre en oormôre nie: jy is veilig by God!
EINDDOEL VAN DIE GELOOF
Ds A. E. Van den Berg
“...en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele verkry” (1 Pet.1:9).
Dink u die volgende toneel in; ʼn Joodse konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Voor die staaldeure van ʼn Nazi gaskamer staan ’n ry mense en wag hul beurt af om te sterf. Agter in die ry staan’n ou rabbi, ’n waardige figuur en bid hardop: “Here, hoor ons in ons nood en help ons!”
Soldate lag hom uit en die ry beweeg vorentoe. Mense bid al hoe dringender; ’n jammerlike geroep tot God om in hul aangesig van die dood in te gryp: “Here, stuur tog U engel om ons te verlos. Laat die vlamme van U oordeel op die aarde val en hierdie bose mense verdelg!” bid die rabbi. Die soldate lag harder.
Geen engel daal neer en geen vlam van oordeel val op die soldate nie. Al wat val, is die trane van mense rondom die biddende rabbi; mense vir wie die laaste dag op aarde aangebreek het! As die rabbi voor die staaldeure kom, kyk hy op na die hemel en sê met ’n skor stem: “Daar is geen God nie!” Dan sluit die staaldeure en is sy stem vir ewig stil!
Nie een van ons het al so ’n afspraak met die dood gehad nie. Nogtans het ons al in situasies beland waar ons God om ’n dringende ingryping gebid en niks gebeur het nie. Jy het tot God geroep, maar Hy het nie gehoor nie en eerder sy gesig van jou af weggedraai. Al het jy nie jou geloof soos die rabbi afgesweer nie, was jy teleurgesteld in God. Waarom het Hy nie ingegryp nie? Waarom het Hy jou oorgeslaan?
In sulke tye kom daar vrae in ons gemoed op wat in twyfel gebore is: “Sê maar nou net daar is nie werklik ’n God nie? Sê maar nou net dat godsdiens eintlik ’n versinsel is en die kerk ’n klug? Sê maar nou net dat alles wat in die erediens gedoen word bedrieglike toneelspel is? Sê maar nou net….”
Wat wil ons eintlik met sulke vrae vra? Waarom moet my geloof so beproef word? Is dit werklik nodig? Sulke beproewing neem verskillende vorms aan: Jy kan soos Daniel se drie vriende letterlik in die aangesig van die dood beland. Miskien dra jy die kruis van kanker en weet dat jy nooit gesond sal word nie. Miskien is jy besig om finansieel onder te gaan of jy ervaar die spanning van ’n gebroke liefdesverhouding of kinders wat jou bitter teleurstel en jy vra die Here waarom dit spesifiek met jou gebeur? Jy ervaar ʼn geweldige Godverlatenheid en wil soos Jesus uitroep: ” My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Dis maklik om oor die geloof te praat as die son in jou lewe skyn. Wanneer dit donker in jou lewe word, is dit nie so maklik nie. In sulke tye vra jy jouself af waarin jy werklik glo – in God of’ in noodlot? Wat is in jou lewe waar – sien is glo of glo is sien? Vir Thomas was dit sien. Hy moes sien voordat hy glo: “As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Joh.20:25).
Petrus dring in sy Sendbrief by gelowiges wat weens geloofsvervolging groot beproewing deurgemaak het daarop aan dat hulle lewens van glo is sien getuig. Sommige soos Stefanus het hul lewe weens hul getuienis van Jesus verloor. Ander het hul eiendom en besittings verloor toe hulle vir hul lewe moes vlug.
Die mense aan wie hy skryf, het nie soos hy die voorreggehad om deel van die oorspronklike dissipel-groep te wees nie. Hulle het nie saam met Jesus van dorp tot dorp geloop, saam met Hom aan ’n etenstafel gesit of soos Paulus ’n hemelse gesig beleef nie. Al wat hulle gehad het, was die Evangelie wat aan hulle verkondig is en dis al. Nogtans het hulle geglo. Hulle het Jesus nie gesien nie, maar Hom nogtans liefgehad. Beproewing het hulle nie ontsenu nie al het hulle aardse dinge verloor en dierbares aan die dood afgestaan!
Hoe het hulle dit reggekry? Hulle het iets raakgesien wat nie met vleeslike oë raaksien kan word nie – die onsienlike God! Die Hebreër-briefskrywer skryf van Moses: “… want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (:27).
Wie met oë van geloof na die lewe kyk, sien dinge raak wat ongelowiges nie sien nie. Toe ek aan die Kaapse Weskus predikant was, het daar ’n elektrisiën by die een visfabriek gewerk wat skeel was. Ek vra eendag vir ’n stoorman hoe die man met sulke oë kon werk? “Dominee, waar ou Dawie se twee oë bymekaarkom, sien hy dinge raak wat ek en jy nie raaksien nie!”. Hoe waar is dit nie ook van die geloofslewe nie – waar geloof en vertroue bymekaarkom, sien gelowiges dinge raak wat ander nie sien nie!
Om te glo, is om die onsienlike God te sien en vreesloos te leef. “Laat julle hart nie ontstel word nie; glo in God, glo ook in My” (Joh.14:1). En as vrees aan jou deur klop, antwoord jou geloof en sê: “Jammer, hy is nie tuis nie!”
Om te glo is om 100% seker te wees van die dinge waarop ons hoop en nie toe te laat dat omstandighede jou laat twyfel nie. Dis ’n lewende hoop. So ’n hoop maak die nag minder donker, die eensaamheid meer draaglik en die vrees al minder.
In my studentejare was daar ’n blinde student in ’n universiteitskoshuis. Een aand aan die etenstafel was, was daar ’n kragonderbreking en so donker dat niemand by sy kamer kon uitkom om ’n flits te kry nie. Toe staan die blinde student op en lei ’n student tot by sy kamer om ’n flits te kry; ’n buitengewone toneel – ’n blinde wat in die donker kon “sien” en iemand na hulp kon lei!
Suid-Afrika het al vir baie jare ’n geestelike kragonderbreking. Dis pikdonker weens politieke verraad en kerklike misleiding. Mense is benoud en vra: “Here, waar is U om die onreg reg te stel, reg en geregtigheid te laat seëvier, misleiers van kansels te verwyder en heidene uit die politieke kussings te lig? Waarom doen U niks hieraan nie?”
Sulke mense kyk met die verkeerde oë na God. Wat ’n nood het ons Boerevolk nie aan mense met geestelike nagsig nie; mense wat baie verder en dieper as die hier en die nou kyk en God raaksien. Ons volk het ʼn nood aan gelowiges wat aanhou om gelowig te leef.
Dit beteken nie dat gelowiges ’n blinde oog vir die wêreld se werklikhede moet ontwikkel nie. Nee, ons sien die nare werklikhede raak en is besorg daaroor. Ons sien egter verder – ons sien die bloedbevlekte strate van ons stede en dorpe wat in die naam van demokrasie en geregtigheid vir almal op ons afgedwing is, maar ter selfde tyd sien ons ook die goudbedekte strate van die Nuwe Jerusalem. Sulke geloof bou ʼn brug oor hierdie droewige wêreld na die ewige tuiste wat Jesus in Joh.14 beloof het.
Ons hoor die nasies woel en raas. Ons sien die gepeupel wat telkens opborrel en ons land ontwrig, maar ons hoor ook met geestesore getuies van Jesus Christus wat sy vrede en vergifnis verkondig en gelowiges bemoedig.
Kortom: Ons sien en beleef die ellendes van die wêreld, maar ons sien ook die einddoel van ons geloof – die ewige saligheid in die Nuwe Jerusalem. En dit vervul ons met onuitspreeklik blydskap: “en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele verkry”. Dis geloof! Wie die Onsigbare ken, kan die onmoontlike verwag.
Hang jou geloofslewe van jou lewensomstandighede af ? As dit met jou goed gaan, is jou geloof sterk en as dit met jou sleg gaan, is dit flou? Of bepaal jou geloof jou lewe? Wat is van jou waar – sien is glo of glo is sien? Antwoord hierdie vraag met jou lewe. En as geloof jou lewe nie verander nie, moet jy daaraan dink om jou geloof te verander. Gelukkig is elkeen wat nie sien nie, maar tog glo!