LEEF SINVOL

Ds A.E. van den Berg

Jy het net een lewe; leef sinvol

Die vrees van die Here is ʼn fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spr.14:27).

Salomo was bekend vir die uitsonderlike wysheid wat hy van God ontvang het. Wysheid is die uitsonderlike vermoë om tussen reg en verkeerd te onderskei. Salomo kon deur mense se voorgee sien wat hom nie net in sy eie lewe gehelp het nie, maar ook dié van sy onderdane wat met probleme na hom gekom het.

Uit Spreuke en Prediker is dit duidelik dat hy baie van die kortstondigheid van die lewe bewus was en gevolglik die noodsaaklikheid om reg te leef.   Vir hom was die sin van die lewe nie noodwendig om probleme op te los nie maar ʼn gawe van God wat geniet moes word. Sy lewe en sy geloof was nie twee dinge nie, maar een. Salomo was lief vir die Here en die Here lief vir Salomo.

God wil hê dat ons die lewe as ʼn gawe uit sy hand moet geniet. Ons doen die lewensreis net een maal en nie weer nie. Dis soos ʼn valskermsprong; jy moet dit die eerste keer regkry. Daar is nie ʼn tweede kans nie! Om reg te leef, is Bybelse leiding onontbeerlik. Daarom het God ons die Bybel gegee om reg te leef.Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!”(Ps.90:12).

Salomo sê: “Die vrees van die Here is ʼn fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spr.14:27). “Dorings en vangnette lê op die pad van die verkeerde; hy wat sy siel wil bewaar, bly ver weg daarvandaan” (22:5)

Niks verongeluk ʼn lewe soos ʼn verkeerde lewenswyse nie. Dit beëindig selfs lewens voortydig. Die lewe is hoogstens 10% van dit wat met jou gebeur maar 90% van wat jy daarvan maak. Daarom kan ons niks aan die lengte van ons lewens doen nie, maar wel aan die diepte (sin). Daarvoor moet ons reg leef!

God wil hê dat ons voluit moet leef. Ongelukkig bestáán baie mense eerder; hulle leef nie maar bestaan omdat hulle banger vir die lewe as vir die dood is. Dis nie wat God wil hê nie. Ons word nie gebore om te oorleef nie, maar om te leef. Daarom moet die lewe hoopvol en voluit geleef word.

Daarvoor moet ons keuses maak wat God behaag: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.. En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.” (Ps.1:1-4).

Wie so leef, ontvang God se seën; oud en jonk: “Hy sal diegene seën wat die Here vrees, die kleintjies saam met die grotes” (Ps.115:13).

Die lewe gaan gou verby. Die een oomblik is jy daar en die volgende oomblik weg. Dis soos ʼn partytjie; jy kom daar aan as dit alreeds begin het en vertrek voordat dit klaar is. Moses skryf: “...ons bring ons jare deur soos ʼn gedagte” (Ps.90:9).   Gevolglik is die lewe te kosbaar om dit met slegte dinge te besmet. Jesaja berispe Juda: “Hulle voete hardloop om kwaad te doen... hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hul paaie” (Jes.59:7).

Elkeen wat leef moet onthou dat daar ʼn einde aan sy lewe gaan kom: “.... want die mens gaan na sy ewige huis...”(Pred.12:5).   Die lewe is ʼn huiswaartsreis. Die hoofrede waarom God dit gee, is om ons siele vir die ewigheid voor te berei. Die lewe is as’t ware die proeflopie vir die ewigheid. Jy slaag of jy misluk en die lewe is derhalwe die somtotaal van jou besluite.

Wie hom bekeer, is wys. Hy verlaat die lewe sonder vrees vir die ewigheid. Onbekeerdes vrees die ewigheid. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad”(2 Kor.5:10). As ons reg leef, leef ons dubbeld; fisies op aarde en dan geestelikgelukkig in die ewigheid.

Die lewe is egter nie altyd maneskyn en rose nie. Dit het ook sy beproewings. Dis soos ʼn ui wat lagie vir lagie afgeskil word, met trane tussenin. Salomo het egter ervaar hoe God mooi dinge aan gelowiges se lewe toevoeg. Daarom het hy, toe God hom die keuse gegee het, wysheid bo rykdom verkies.

Kennis is die mag van die verstand. Wysheid is egter die krag van die siel. Mense voer deur wyse optredes goeie lewens. Dis wat God wil hê.   Hy leen die lewe soos ʼn lamp aan ons om dit helder te laat skyn en gee aan ons ewige voorskrifte om sukses te verseker. “U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Ps.119:105). Hierdie deure van wysheid maak nooit toe nie!

Wie van God se voorskrifte afdwaal, leef en sterf sinneloos. Om sinvol te leef, moet ons twee goue reëls gehoorsaam. Nommer een; moet nooit van God se Woordleiding afdwaal nie. Nommer twee; moenie die eerste reël vergeet nie!

As ons hierdie kortstondige aardse lewe van ons gaan geniet, hoe gaan ons die lewe in die hiernamaals nie geniet nie!   Gevolglik maak dit nie saak hoe jy doodgaan nie, maar eerder hoe jy leef – wys of dwaas?

Almal verlang na ʼn lang lewe. Dis egter nie altyd die beste lewe nie. Ek het talle ou mense begrawe wat nooit tot bekering gekom het nie en sonder Jesus gesterf het. Ek het ook jongmense begrawe wat wel tot bekering gekom en met Jesus gesterf het. Die beste lewe is die een wat, ongeag die lente daarvan, deur die bekering aan Jesus gewy is.

Die enigste probleem wat ons wel met die lewe het, is dat daar soveel mooi dinge te doen is, maar te min tyd daarvoor. Terwyl ons lewe moet ons vir God en medemens doen wat ons kan. Iemand skryf “Die lewe het my aan die arm beetgekry en gesê: Ek gaan nie lank met jou wees nie. Laat ons roer!”

Ons is van ons geboorte tot met ons dood gaste aan ʼn tafel wat ons nie self gedek het nie.   Moet dus nie vir ʼn lewe sonder sorge bid nie maar vir ʼn geseënde een. Min dinge is so aangenaam soos ʼn vreugdevolle gister en ʼn hoopvolle môre. Dis net moontlik indien ons die lewe aan iets toewy wat langer as ons aardse lewe gaan duur. Daarenteen is die grootste tragedie van die lewe nie om dood te gaan nie, maar dat iets in jou doodgaan terwyl jy nog leef.

Onthou dat die lewe nie ʼn besitting is nie maar ʼn lening van God wat met die dood vereffen word. Dis soos die manuskrip vir ʼn verhaal wat jy by die hemelse Uitgewer inhandig. Jou verhaal word aan jou lewe en nie aan jou woorde beoordeel nie.

Moet dus nooit kennis met wysheid verwar nie. Kennis help jou hoogstens om ʼn redelike bestaan te maak. Wysheid help jou om ʼn goeie lewe te maak. Luister na Salomo se raad vir so ʼn lewe: Die vrees van die Here is ʼn fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk”

Daar is drie groot gebeure in ʼn mens se lewe; sy geboorte, sy lewe en sy dood. Van sy geboorte weet hy niks nie en die dood is ʼn beproewing. Jy het dus net die lewe om voluit te gaan. Die dag toe jy gebore is, het jy gehuil en daar was vreugde in jou gesin. Leef so dat as jy sterf, jou familie sal huil en jou siel met vreugde na God sal terugkeer. Mag jy al die dae van jou lewe met wysheid leef!