Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die simboliek van die brandoffer en spysoffer in die Ou Testament soos deur God self voorgeskryf gedoen moes word, het volledige betekenis aan skuldbelydenis gegee: Die kop van die dier wat geoffer is het die setel van die mens se denke verteenwoordig; die gewaste binnegoed die mens se diepste innerlike; die dier se pote die mens se hande en voete wat aan God gewy moet word; ook mag daar geen suurdeeg in 'n spysoffer wees nie wat bedekte motiewe sou verteenwoordig; ook geen heuning nie want dit was verteenwoordigend van opgesmuktheid. Die soenoffer aan God moes dus in alle opsigte opreg, rein en volledig gebied word. Wat verstaan ons in hierdie moderne tye nog van soveel opregtheid?
DIE WÊRELD VERGAAN ONDER LEUENS!
Ds A.E. van den Berg
“En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ʼn slegte gesindheid om te doen wat nie betaam nie”(Rom.1:28).
Ons leef in ʼn wêreld van leuens, veral dié wat goed op die oor val; die sg. sagte leuens bv. dat jy net gelukkig kan wees as jy dit wat jy wil hê, kry. Dit laat my aan die verhaal van die koning dink wat ʼn ander koning wou straf en besluit het om dit nie met geweld te doen nie, maar hom alles te gee wat hy wou hê. Die man het verveeld geraak en gewens dat daar eerder oorlog met hom gemaak is!
Die wêreld is oorhoops met die bevrediging van menslike begeertes. Let op die TV. Baie van die programme is op die bevrediging van vleeslike dinge ingestel. Mense trou nie, bly saam en laat buite-egtelike verhoudings opwindend lyk.
Dit spel een ding uit: Sonde en bose begeertes het onder die vel van ons mense ingekruip. Satan vang ons met ʼn slap riem deur booshede net so onskuldig soos die vrug in Eden te laat lyk. En ons sê soos Eva: “Kyk hoe mooi lyk die vrug; met so ʼn iets kan daar mos nie fout wees nie!” En kyk hoe siek het dáárdie vrug die mensdom nie gemaak nie – ons ly vandag nog aan gevolge daarvan!
Waar lê die probleem? By mense wat sonde verkeerd hanteer; ʼn baie ou probleem soos uit Rom.1 duidelik blyk. Mense glo dat sonde net soos die vrug in Eden nie so skadelik is nie en selfs geniet kan word!
700 jaar gelede het Dante in sy gedig Die goddelike komedie die sewe dodelike sondes aangetoon. Vandag kan daar van die sewe dodelike mites gepraat word:
(i) die wêreld skuld jou geluk. Jy is daarop geregtig;
(ii) jy sal net gelukkig wees indien jou begeertes bevredig word;
(iii) moenie oor misstappe skuldig voel nie. Jy is ʼn mens en nie ʼn engel nie;
(iv) jy is inherent goed;
(v) jou sienings is basies goed;
(vi) jy kan alles hê sonder om te wag en;
(vii) jy is slim genoeg.
Tel hierdie sewe mites bymekaar. En die antwoord? Jy het God nie meer nodig nie want jy is jou eie god!
Wie God nie nodig het nie, vervang goed met kwaad. Baie akteurs, sangers, musikante en kunstenaars leef vieslike lewens. Alkoholisme, dwelms, misdaad, pedofilie en sedeloosheid vier hoogty in baie van hierdie mense se lewens. Maak dit ʼn mens gelukkig? Geen wonder dat talle al selfmoord gepleeg het nie!
As mense aanhou sondig, onttrek God sy genade van hulle en oorhandig hulle aan slegte dinge soos wat die teksvers lui. “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ʼn slegte gesindheid om te doen wat nie betaam nie”(Rom.1:28).Hy hou op om hulle te waarsku sodat die wat vuil is nog vuiler word.
Mense is al eeue lank soekers na ydele eer en genot en span selfs bose dinge in om hul begeertes te bevredig. Rom.1:29-30 noem 22 sondes by naam, en dit 2000 jaar gelede! Paulus skets die pad van sonde. Dit begin by iets aanloklik. Jy besef dat jy dit nie het nie, maar graag wil hê. Dit word spoedig so ʼn brandende begeerte, dat niks vir jou belangriker word as om dit te verkry nie. Dit word selfs belangriker as God se wil en is derhalwe afgodery!
Paulus gebruik in Rom.1 die bevrediging van seksuele begeertes as ʼn voorbeeld hiervan. Dieselfde keuse is ook op ander lewensterreine van toepassing; jy moet kies – of God of Satan. Sonde is om nie vir God te kies nie.
Wie verkeerd kies, betaal ʼn prys. Moses waarsku sy volk: “Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen die Here, en weet dan dat julle sonde julle sal uitvind” (Num.32:23). Sonde word nou of later gestraf. Paulus skryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai, maar hy wat in die gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Gal.6:7,8).
Wie werklik gelukkig wil wees, moet nooit teen God kies nie, al lyk die vrug ook hoe aanloklik. Kyk maar net wat in die Tuin van Eden gebeur het –veral! Let ook op die verval in ons eie volkslewe. Baie volksgenote se optrede verskil niks van die heidene s’n nie. En die rede? Hulle het teen God besluit!
Waarom doen hulle dit? Omdat hulle glo dat hulle op hul eie sal regkom. Duisende mensgerigte boeke vertel jou vandag hoe om gelukkig te leef. Almal het een basiese sentrale boodskap; die mens het nie ʼn redder nodig nie, hy is sterk en bekwaam genoeg om homself te red!
Gevolglik leer hulle dat sonde geen katastrofiese gevolge het nie. En mense glo dit! Dit vervaag hulle begrip van reg en verkeerd en maak dat sonde slegs ʼn hersenskim van die verstand is. Daar is dan selfs kerke wat die bestaan van Satan en die hel betwyfel! Dis nie net mense wat nie meer na die Woord van God luister nie, maar ook kerke. Wat ʼn misleiding!
Mense maak, net soos Dawid ná sy owerspel met Batseba, asof sonde niks is nie. God het Dawid se sake vir hom gewerk! “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer... want u hand was dag en nag swaar op my...” (Ps.32:3,4).
Sonde roer ʼn mens. Dis nie ʼn hersenskim nie, maar iets dodelik wat net deur vergifnis ongedaan gemaak kan word. Dawid het die regte ding gedoen en skryf: “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (:5)
Toe Adam en Eva die Satan se leuen glo dat hulle by sonde kon baat en om soos God te wees, het hulle gou hul fout agter gekom. Sonde laat jou eerder soos Satan wees; totaal van God vervreem. Dit het hulle die Tuin van Eden gekos!
Dis vandag nog net so waar; sonde vervreem jou nie net van God nie, maar kos jou ook geluk. Pasop vir Satan se leuens! Daarom het God vir ons die Bybel as die padkaart na ware geluk gegee. Daarsonder gaan jy vir seker verdwaal en verongeluk al is jy ook hoe ryk of geleerd!
Sonde keer alles wat reg is om en maak mense siek. Paulus gebruik die voorbeeld van homoseksualisme. Daarmee keer Satan God se orde om. Die huwelik is ʼn instelling van God. Gen.2 is duidelik – dis tussen een man en een vrou. Satan keer hierdie heilige ordening om – ook tussen mense van dieselfde geslag. Wat sê Satan? Dis glo alternatiewe liefdeslewe.
En kyk wie stem saam met hom saam: ontspoorde kerke! Lees hulle nie die Bybel nie? “...mense wat – al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen”(Rom.1:32).
Ons volk staan voor ʼn keuse; leef volgens die Bybel, of die wêreld. Wie op die wêreld bou, se lewenswaardes verander gedurig. Doelpale word verskuif en gruwels word ontsondig word. Alles skuif rond en niks staan vas nie.
Sulke gerondskuif laat ongelowiges glo dat hulle hul eie verlosser is, alles kan kry en wees wat hulle graag wil wees, Dis musiek in hulle ore! Dan breek daar ʼn dag aan dat daardie mens op die damwal van die lewe gly en in diep water beland. Hy probeer hom aan sy eie hare uit die penarie trek want die boek van dr. Wysneus sê dat hy kan. Dan kom die skokkende ontdekking: hy kan nie! En kyk wie sit op die wal – ou Niek (Satan)en hy lag vir die gespook en gespartel totdat die mens onder die water verdwyn en verdrink, want hy het nog iemand gevang – net soos in die Tuin van Eden!
Staan vas, moenie dat mense of kerke jou mislei om sonde en gruwels saam met hulle goed te praat nie. Dis waaroor Paulus aan die gelowiges in Rome skryf. Hulle was omring deur sonde en verleiding. Daarom pleit Paulus by hulle om nie hul greep op die waarheid van God se Woord te verloor nie. Die wêreld is ʼn sterk stroom wat mense met leuens meesleur.
Staan vas want Jesus kom!