Ds A.E. van den Berg
Die vier soorte storms in ʼn mens se lewe
Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak.1:12).
God laat soms storms in ons lewens toe om ons oor die lewe te laat besin en ʼn geestelike verdieping te ervaar. Hy beskik ook storms in ongehoorsame mense se lewens sodat hulle God se wil sal uitvoer. Die profeet Jona is ʼn sprekende voorbeeld van so ʼn mens. Hy het op ʼn dag ʼn opdrag van God ontvang om na Ninevé te gaan en God se komende oordeel te verkondig sodat die inwoners dit hoor, hul bekeer en die ramp afweer.
Hierdie opdrag het Jona dwars in die krop gesteek. Nineve was 800 km Oos van hom. Die ergste was dat dit ‘n volslae heidense gebied was. Heidene is as buite God se reddende genade beskou. Jona het gevoel dat dit tydmors sou wees en eerder 800 km wes na Tarsus gevlug. Die Bybel gebruik die woord vlug omdat diegene wat God se opdrag nie uitvoer nie, van God af wegvlug.
God het ʼn storm ter see gebied en is Jona op eie versoek oorboord gegooi waarna God ʼn groot vis (walvis?) hom laat insluk en drie dae later op droë grond laat uitspuug het. Jona het ʼn nare ondervinding in die donker pens van die vis gehad en beskryf dit as volg:
“En Jona het tot die Here sy God gebid en uit die ingewande van die vis gesê: Uit my benoudheid het ek die Here aangeroep ... Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras was om my hoof gedraai. Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek...” (Jona 2:1,5,6).
Jona het ʼn duur les geleer – hy moes ʼn laagtepunt in sy lewe bereik om ʼn les te leer wat hy andersins nooit sou geleer het nie. Jy kan nie vir God weghardloop nie! God gebruik soms ʼn storm om jou in die regte rigting te dwing.
Geen mens kan God ontvlug nie. Daarvan getuig koning Dawid:
“Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!”(Ps.139:7,8).
In die tyd van Jeremia het dwaalleraars optree asof God hulle nie sien nie. Dan antwoord God:
“Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die Here” (Jer.23:24).
Nog iets wat ook storms in mense se lewe veroorsaakis die verontagsaming van goddelike waarskuwings. Dit gebeur wanneer God gelowiges gebruik om mense van ʼn komende gevaar te waarsku, maar hulle luister nie.
Hand.27 vertel van Paulus se skipbreuk op pad na Rome. God het hom vooraf getoon dat hulle teenspoed gaan hê. Hy het die opvarendes daaroor ingelig:
“En omdat ’n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het .... het Paulus hulle gewaarsku en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees... Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus” (:9,11).
Die opvarendes het na baie ontberings wel hul eindbestemming bereik. Dit kon egter sonder voorval gewees het indien hulle na Paulus as God se gesant geluister het. God gebruik mense om mense te waarsku. As sulke waarskuwings geminag word, is lewensstorms onafwendbaar.
Waar wil ons ʼn meer sprekende voorbeeld as die OT profete hê wat die Bondsvolk vir 250 jaar oor God se komende straf en ballingskappe gewaarsku het! Het hulle geluister? Nee. Was daar toe storms in die volkslewe? Ja, en hoe! Lees gerus Klaagliedere.
Een van die ergste storms van die lewe is besetenheid – wanneer Satan sy intrek in sekere mense neem. Hulle raak besete soos in Jesus se tyd gebeur het:
In Mark.5 lees ons van so ʼn geval:
“En hulle het aan die oorkant van die see gekom in die land van die Gadareners. En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet ’n man met ’n onreine gees... En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan. En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer en skreeu met ’n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie. Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit! En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie. Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie. En dáár teen die berge het ’n groot trop varke gewei, en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar. En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop — daar was omtrent tweeduisend — het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink”.
Die egste storm van die lewe is dikwels die onverwagte storm as ʼn geliefde onverwags sterf, jy jou werk verloor of as jy met ʼn ongeneeslike siekte gediagnoseer word. Sulke beproewings is bitter sleg maar ook ʼn geloofstoets: of jy dit wat met jou gebeur as God se wil en beskikking aanvaar en slegs net op Hom vir uitkoms vertrou. “Doen slegs U wil Heer, U wil met my.”
Job is hier ʼn uitstaande voorbeeld. Op een dag sterf al 10 sy kinders in ʼn groot wind wat die huis waarin hulle fees gevier het in puin gelê het. Net voordat dit gebeur het, het boodskappers by Job opgedaag met die tragiese nuus dat veediewe sy hele boerdery geroof en vuur uit die hemel op die res geval het. Job het niks oorgehad nie. Wat doen ʼn mens in so ʼn geval?
“Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloof! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.” (Job.1:20-22).
Dit was nie die einde van Job nie. Dinge val soms vir gelowiges uitmekaar voordat groter dinge gebeur. Ons lees in hoofstuk 42:
“En die Here het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertienduisend stuks kleinvee en sesduisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad. Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad.En Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte. En Job het gesterwe, oud en afgeleef.”
As jy al deur die storm van die lewe gegaan het, wonder jy miskien hoe jy dit oorleef het! Daar kom stormagtige tye in gelowiges se lewe waar jy dink alles is verby, net om te ontdek dat God ʼn nuwe begin in jou lewe beskik het. Dink hier aan Elia in die woestyn. Beproewings leer gelowiges hul geesteskrag ken. Wat meer is – gelowiges het geen beproewing waarvan Jesus nie weet nie.
Jona leer ons om God se opdragte uit te voer. Paulus leer ons om na God se waarskuwings te luister en Job om nooit in tye van beproewing ʼn vinger na God te wys nie. God se raad aan Josua is ook sy raad aan elke gelowige:
“Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” (Josua 1:9).