Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem dat hulle sy insettinge kan onderhou en sy wette bewaar. Halleluja! – Ps 104:44-45
AS GOD DIE DAG SWYG
Ds A.E. van den Berg
“En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie. (Luk23:9).
Mense beland dikwels in die nood hetsy geldelik, gesondheidsgewys, of in verhoudings. Die ergste nood waarteen ʼn mens hom kan vasloop, is ʼn swyende God wat niks wil hoor, niks wil weet of niks wil sê nie!
Die OT vertel van die Baalpriesters in die tyd van die profeet Elia wat op die berg Karmel tevergeefs na hul afgod geroep, geskreeu en hulself later stukkend gekap het om reaksie te verkry. Dat die afgodsdienaars geen antwoord van Baal gekry het nie, kan verstaan word. Maar wat gebeur as die swyende God die Here Jesus is?
“En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.”
Dis nie ʼn terloopse opmerking nie maar veelseggend!
Mense is gewoonlik bang oor wat gesê word. Hier gebeur die omgekeerde – ʼn koning is bang oor wat nie gesê word nie! Herodes het baie van Jesus gehoor maar nooit ʼn gesprek met Hom gevoer nie. In Luk.23 staan Jesus vlak voor hom. Miskien het Herodes verwag dat Jesus een of ander bonatuurlike teken sou gee, maar niks gebeur nie. Hy praat nie eens nie!
Herodes kon dit nie hanteer nie en toegelaat dat die owerpriesters en kerklui Hom beskuldig met die hoop dat Hy daarop sou reageer en iets sê,. Maar niks nie. Selfs toe Herodes Hom bespot en ʼn blink kleed aangetrek het om Hom aan die praat te kry, het Jesus geen woord geuiter nie, waarna Herodes Hom na Pilatus laat stuur het.
Herodes het baie mag gehad en kon almal wat hy wou, aan hom onderwerp. Mense het soos tjankende honde sy hande gelek. Gevolglik was hy gefrustreerd toe hy Jesus nie kon onderwerp nie. Hy was met goddelike waardigheid omring en Herodes soos een met die hoed in die hand. Soos wat Jesus met soveel gesag kon praat, kon Hy met net soveel gesag swyg. Herodes was ʼn politieke knoeier. Daarom het Jesus hom ʼn jakkals genoem!
Omdat Herodes gekry het wat hy wou hê, het Jesus se swye ʼn ongemaklike stilte veroorsaak. Herodes het sy Moses teengekom! Hy kon niks daaraan doen nie en het besef dat Jesus dwarsdeur hom sien. Herodes se sondeboekie was vol en sy genadetyd verstreke.
Van die laaste dae van Eli word gesê dat geen woord of openbaring van God uitgegaan het nie. God het niks vir Israel te sê gehad nie. Het jy al so ʼn nare ervaring gehad dat jy tot God bid maar Hy luister nie? Dit het met Israel gebeur toe goddeloosheid sulke afmetings aangeneem het, dat God geswyg het. Dit het ook net voor die ballingskap weer gebeur.
“En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie” (Jer.7:16).
Ons is tans in die Lydenstyd en dink in dié tyd aan die pyn en smarte wat Jesus vir ons redding deurgemaak het. Jesaja voorspel 700 jaar tevore van ʼn swyende Jesus:
“Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie” (Jes.53:7).
Die nood van ʼn swyende God wat niks meer wil hoor of sê nie, is iets wat mense oor hulself bring. God is nie wispelturig soos heidene se afgode wat gedurig gepaai moet word nie. Mense dra die gevolge van hul optrede. Paulus skryf:
“En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie....”(Rom.1:28).
God se straf word nie eers aan die einde gevoel nie, (:22) maar nou alreeds. Mense skep dikwels vir hulself ʼn hel op aarde!
Hand.12 vertel van Herodes se einde. Een dag sit hy in sy koningsgewaad op sy troon en spreek die volk vol eiewaan toe.
“Daarop het die volk hom toegeroep: ’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie!” (:22).
Toe het God genoeg gehad en verskyn die vlaggie op Herodes se lewensparkeermeter: Tyd verstreke!
“En onmiddellik het ’n engel van die Here hom getref, omdat hy die eer nie aan God gegee het nie; en hy is deur wurms verteer en het gesterwe”(:23).
Herodes het te laat besef dat ʼn swyende God ʼn gevaarlike God is! ʼn Swyende God is Een wie se geduld op is. Hoe dikwels is daar nie met Herodes gepraat nie; sedert sy pa se tyd wat die wyse manne uit die Ooste ontvang het en die kindermoord wat hy daarna geloods het.
God het ook deur die vurige prediking van Johannes die Doper met hom gepraat om die verkeerde dinge te los. Hy het God getart deur sy skoonsuster as vrou te neem. Hy was ʼn vrouedief! Omdat baie mense aan Johannes se lippe gehang het, het Herodes hom gevange laat neem om hom stil te kry en hom selfs gaan besoek.
“Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister”(Mark.6:20).
Kort daarna het Herodes ʼn feesmaal laat hou waartydens die skone Salome hom so betower het, dat hy in sy dronkmanstoegeeflikheid Johannes laat onthoof en sy kop op ʼn skinkbord laat plaas het. En so het Herodes die grootste van alle tye laat doodmaak!
In Luk.23 staan Herodes weer voor ʼn heilige Man wat deur Pilatus na hom gestuur is - Jesus. So anders as Johannes sien Jesus dwarsdeur hom.
“En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word” (:8).
Herodes wou sien wie Jesus werklik was. Die Fariseërs het hom laat weet wat Jesus van hom dink:
“En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond....” (Luk.13:32).
Toe Jesus voor hom staan, het Herodes gehoop dat Hy sal praat of een of ander wonderteken doen, maar niks nie. Daar was genoeg gespreksgeleenthede in die verlede, maar toe was Herodes die een wat geswyg het – oor sy sondes! Waarom nou skielik wil praat? Jesus het niks meer om vir hom te sê nie want Herodus staan aan die Koning van alle konings se verkeerde kant!
Hoe verskriklik as God die dag weens die sonde in jou lewe swyg! Jy wil praat, maar Hy kyk jou net aan en swyg. Moet daarom nooit swyg as God deur sy Woord of Gees met jou oor sonde praat nie. Solank as wat Hy praat, is dit nog genadetyd. Daar kan ʼn tyd kom dat Hy soos vir Herodes niks meer wil sê nie.
Daar gaan egter ʼn dag aanbreek wat almal die stem van God gaan hoor – met die oordeelsdag. Sy stem sal soos donderslae klink en met verskriklike gevolge:
“en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit..” (Openb.6:14).
Niemand kan hom die mag van God se stem indink nie! God praat of swyg. Wat sal Jesus se reaksie wees as ons nou voor Hom moet staan? Sal Hy praat of swyg? Net jy weet.