Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Afrikanervolkie kan vandag ook soos in Psalm 80 by ons hemelse Vader pleit: "U het aan ons trane vir kos gegee en ons 'n beker vol verdriet laat drink. Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!"
TA-TA TUTU!
...ja, kom ons sê dit weer: Tat-ta Tutu!!
Ds. A.E van den Berg
Desmond Tutu was een van die mees omstrede figure in Suid-Afrika. Hy is egter met talle toekennings vereer waarvan die Nobelprys vir Vrede die mees onvanpaste was. Sy optredes, uitsprake en dreigemente het vrede verongeluk.
Desondanks het Ramaphosa hom as ʼn ikoniese geestelike leier, teen apartheidsaktivis en vegter vir wêreldmenseregte opgehemel. Barak Obama het hom weer as ʼn denker, volksleier en herder met ʼn sterk sedelike kompas beskryf. Niks kon verder van die waarheid as laasgenoemde gewees het nie!
Tutu het met sy kenmerkende poppespelgewaad en opruiende uitsprake agter ʼn kruis geskuil om buitelandse hulp vir die beëindiging van die apartheidstaat te verkry en hulle selfs met die eertydse Nazi-regime vergelyk.
Toe verraderlike politici in 1994 onder internasionale druk geswig het, het Tutu hom as die bewerker van versoening aangebied wat tot die totstandkoming van die Waarheid- en Versoeningskommissie gelei het. Hierdie staatsbesoldigde heksejag het nooit die baan van eenrigting versoeningsverkeer verlaat nie en rasseverhoudings vergiftig.
Tutu het hom by geleentheid ook onder die ANC ongewild gemaak. Hy het hul oor hul verbod op ʼn besoek van die Dalai Lama aan Suid-Afrika gekritiseer en gedreig om vir hulle val te bid. Die eertydse Polisiekommissaris Bheki Cele het hom kortgevat en gesê om sy smoel te hou en huis toe te gaan!
Tutu was veral berug as die argitek van die reënboognasie, ʼn proefneming wat uit die staanspoor klaaglik misluk het. Hy het egter geglo dat dit die wenresep vir suksesvolle saambestaan was en ʼn boek The Rainbow People of God(1994)geskryf.
Wie monsters beveg, moet oppas om nie self een te word nie. So het Tutu nie die duiwels van sy eie skepping raakgesien nie en later sy teleurstelling uitgespreek toe die proefneming in sy gesig ontplof het. Die reënboognasie het, aan die hoë misdaadsyfers gemeet, bose dades oos ʼn stofwolk in die land laat opstyg.
Tutu se grootste flater was egter sy openlike verkondiging van dwaalleer. Hy het hom bv. telkens ten gunste van homoseksualisme asook huwelike van dieselfde geslag uitgespreek. Hy het in ʼn toespraak tydens die Verenigde Nasies se Gay RightsCampaaign gesê dat hy weier om na ʼn hemel met slegs heteroseksueles te gaan en ʼn God wat homoseksualisme veroordeel, nie sal aanbid nie.
Die ironie hiervan is dat hy ʼn paar jaar tevore ernstig gepleit het dat die VIGS-pandemie hokgeslaan moes word. Gevolglik is Obama se siening van Tutu as ʼn sedelike kompas lagwekkend om die minste te sê!
Tutu se dwaalleer het egter nie hier geëindig nie. Hy het ook openlik verkondig dat nie alles wat in die Bybel staan waar is nie en nie geglo dat Jesus die enigste weg na die hemel is nie. Volgens hom is God almal se vader. Almal behoort dus aan een familie en niemand staan buite nie. God het nie vyande nie – almal word gered; Christene, Boeddhiste, Moslems ens. Nodeloos om te sê, het Tutu niks van die wedergeboorte, bekering of Jesus se versoeningsverdienste aan die kruis verstaan nie.
Sy ergste dwaling was sekerlik die ontkenning in 1980 van Jesus se maagdelike geboorte. Wie dit ontken, ruk die hart uit die evangelie en kan nie gered wees nie. Gevolglik maak niks gelowiges seerder as dwaalleraars wat vereer word nie. Om hulle nadoods te prys, is soos om ʼn lyk met blomme te bestrooi ten einde die aakligheid daarvan te verbloem.
(En dan sien ons dat News24 elke halfuur per 24 uur ‘n spesiale roubeklaagboodskap aan Tutu se afsterwe doen terwyl hy sy eie akteurs wat afsterf glad nie of ‘n eenmalige boodskappie bring...) – Red.