RUS IN VREDE?

Ds. A.E van den Berg

Inleiding

Geen grafskrif is meer as rus in vredegeyk nie. Grafsteenmakers bring dit al vir baie eeue op grafstene aan. Dit kom selfs op grafte in die katakombes van vroeë Christene voor. Die woorde kom van Latyn en wens ontslapenes ʼn plek van rus en vrede in die hiernamaals toe. Dis ʼn biddende versoek dat die liggaam tot die oordeelsdag vreedsaam in die graf sal rus om dan met die siel herenig te word en in ʼn ewige, vreugdevolle heerlikheid met Christus te wees.

Die probleem is dat dit as ʼn gebed voorgehou word en geensins Protestants is nie. Dis eerder diep in die Roomse tradisie ingeburger en deel van die Roomse dwaling om vir dooies te bid. Dis onbybels. Die oomblik as ʼn mens sterf, is sy lot verseël en kan geen gebede iets daaraan doen nie.

1. Onskriftuurlik

Verder is hierdie uitdrukking nie Skriftuurlik korrek nie. Die naaste wat die Bybel daaraan kom, is aan die einde van die boek Daniel waar ʼn engel sê:

“En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Dan.12:13).

Die uitdrukking word gebruik om die gedagte aan die dood,wat vir baie mense skrikwekkend is, te versag. Uitsprake soos: “Hy is nou ʼn engel”, “God het nog ʼn engel in die hemel nodig gehad” is onsinnig.

Ironies genoeg raak mense wat nie godsdienstig is nie soms baie godsdienstig met begrafnisse. Hulle glo dat hulle self nie te sleg leef nie en ook hemel toe sal gaan. Hulle dwaal omdat hulle die Bybel nie ken nie!

2.   Twee eindbestemmings

Die Bybel sê dat die fisiese dood nie die einde van die mens is nie:

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê... maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Joh.3:16-18).

Daar is twee eindbestemmings - hemel en hel.

“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28).

En hulle sal weggaan in die *ewige straf, maar die regverdiges

in die *ewige lewe.” (Mt.25:46).

Daar is geen duideliker voorbeeld van wat na die dood met ʼn mens gebeur as in Luk.16 nie. Jesus vertel van ʼn onverskillige ryk man en ʼn gelowige bedelaar. Die ryk man het tydens sy lewe nie aan God gedink nie en is na sy dood hel toe. Lasarus het weer niks anders as die redding van sy siel gehad nie en is na sy dood hemel toe.

3.   Tussen hoop en wanhoop

Die Bybel sê dat mense wat sonder die bekering tot Jesus sterf, geen rusplek vir hul siel vind nie:

Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie” (Jes.57:21).

Die dood verskil egter vir hulle wat in Christus is. Paulus skryf:

“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom.8:1).

Hy skryf ook aan die Tessalonisense:

“Maar broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thess.4:13).

Desondanks al die hartseer en verdriet van die dood is daar vir gelowiges hoop!

4.   ʼn Metafoor

Die Bybel verwys soms na die dood as ʼn slaap:

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor.15:20).

“...wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe” (1 Thess.5:10).

Slaap word as ʼn metafoor gebruik om aan te toon dat die dood van ʼn gelowige tydelik is.

Paulus skryf aan die Korintiërs dat om uit die liggaam te wees (dood), is om by Jesus in te wees:

“Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (2 Kor.5:8).

Wie Jesus Christus as Verlosser aangeneem het, is na hul dood by Hom in die paradys:

“ En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:43).

5. Ware rus en vrede

Daar is egter wel rus en vrede na die dood te vind. Wie deur die bekering in ʼn persoonlike verhouding met Jesus Christus verkeer,stap na die dood in hierdie ewige rus in. Dit begin voor die dood. Wie egter nie tot bekering kom nie, mis dit vir altyd.

“...want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebr.4:10,11).

Hierdie rus baar ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan:

“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie...” (Joh.14:27).

“En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:7).

Slot

Rus in vrede ʼn afgesaagde, niksseggende meegevoel betuiging en niks meer nie. Om ongelowiges na hul dood met geykte sinlose grafskrifte te vereer, is sinloos en selfbedrog.