Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die voordeel van pyn is dat dit ons meegevoel met ander leer. Wie eenmaal diep pyn ervaar het kan nooit weer ongevoelig staan teenoor die lyding van ander nie.
TOT HIERTOE HET GOD GEHELP
Ds A.E. van den Berg
“Toe het Samuel ’n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen en dit Ebenhaeser genoem en gesê: Tot hiertoe het die Here ons gehelp” (1 Sam. 7:12)
’n Mens leer uit jou foute, so lui die gesegde. Dis hoe ‘n mens in die lewe vorentoe beweeg; so ook ’n volk. Die grootste fout is om nie uit jou foute te leer nie, want dan misluk jy. ’n Mislukking is ’n fout wat nie reggestel is nie.Sommige mense/volke stel foute onmiddellik reg; ander neem baie jare om dit te doen!
Oud-Israel het so ’n fout gemaak maar dit eers 20 jaar later, na baie ontberings, tydens ’n keerpunt in hul volkslewe reggestel. 1 Sam.17 vertel die verhaal van hierdie keerpunt in hul lewe. Israel was aan hul aartsvyand, die Filistyne, onderdanig nadat hulle die ark van die verbond tydens ’n oorlog aan hulle afgestaan het. Israel was gebroke en “die hele huis van Israel het agter die Here aan geweeklaag” (:2).
Israel was self vir dié penarie verantwoordelik. Hulle het ’n dwase ding gedoen deur die ark van die verbond in die oorlog teen die Filistyne saam met hulle na die slagveld te neem; iets wat God hulle nie beveel het nie. Die lewensverlies was hewig –34,000 man het in die bloedige geveg gesneuwel; een van die grootste nederlae in Israel se geskiedenis!
Die ergste van alles was dat die Filistyne die ark gebuit het. Hierdie heilige kis van akasiahout en goudbeslag was die versinnebeelding van God se heilige teenwoordigheid in Israel se midde. En nou was dit weg; God was nie in hul midde nie. Israel was verlore! Daarom het hulle lank oor die verlies getreur.
Israel het afvallig geword en God het die Filistyne as ’n tugroede teen hulle gebruik. Die heidene het alles wat vir Israel heilig en kosbaar was, aangetas net om te wys wie baas is. Dit was vir die volk van God ’n bitter pil om te sluk! God het egter ’n einde aan die heidenheerskappy gemaak en sy volk bevry: “Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie” (Ps.103:9).
Dit het alles begin toe die profeet Samuel ’n volksvergadering by Mispa byeen geroep het sodat Israel belydenis van hul sonde kon doen. Dit het Israel 20 jaar geneem om by hierdie punt uit te kom, iets wat hulle baie eerder moes doen en hulle baie moeite en verdriet sou spaar. Dis ongelukkig nie altyd maklik om sonde te bely nie. Dis nie in ons sondige aard om die knie voor die almagtige God te buig en te erken dat ons oortree het nie. Daarvoor moet ons eers deur die wedergeboorte in Christus nuut en ons aard verander word.
Die Bybel noem twee soorte berou:
“Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor.7:10).
Daar is ’n goddelike en ’n wêreldse berou. Israel het vir 20 jaar lank wêreldse berou getoon deur hulself jammer te kry en nie oor die dinge wat hulle aan God gedoen het nie.
Tydens die volksvergadering by Mispa het Samuel vir sy volk gesê “...As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer…” Hulle moes doelbewus na God terugkeer. In Luk.15:18 sê die verlore seun: “Ek sal opstaan en na my vader gaan...” Hy het besef dat hy op die verkeerde pad was, weggedraai en die regte pad gevolg. Dis wat Israel moes doen – erken dat hulle op die verkeerde pad was en terugdraai.
Wat het Israel op die verkeerde pad laat beland? Afgode! Israel moes eers van die afgode wegdraai voordat hulle na God kon draai. Hulle kon nie beide dien nie. Dis moeilik te glo dat ten spyte van alles wat met Israel gebeur het (die verlies van die verbondsark en hul vryheid) hulle na 20 jaar steeds afgode gedien het – Baäl en Astarte, nietige Kanaänitiese afgode. Toe Elia die Baälpriesters by Karmel uitgedaag het, kon Baäl nie eens ’n vuur uit die hemel aansteek nie, terwyl God selfs die klippe van die altaar met vuur verteer het.
Waarom het Israel aan die afgode van hul vyand vasgeklou? Omdat dit met seksuele toespeling gepaard gegaan het. In die Kanaänitiese godsdiens was die bordeel en die tempel dieselfde ding. Gevolglik is dit nie moeilik om te verstaan waarom Israel aan die afgode geheg was nie; die sondige vlees het hul lewe beheer. Dieselfde ding gebeur ook vandag – hoeveel van ons volksgenote is nie aan pornografie verslaaf nie? Ons kan nie Satan en God gelyk dien nie.
God duld geen afgode nie en straf oortreders tot in die vierde geslag. Die Boerevolk is niks beter as oud-Israel nie. Ons het met presies dieselfde oortreding as oud-Israel te kampe – afgodery! Hoe lyk jou afgode? Kan jy hulle op die naam noem of het jy nie die moed daarvoor nie? Dit het Israel 20 jaar geneem om dit te doen. En die gevolge was droewig. Moenie dieselfde fout maak nie, maar leer uit die Woord!
Mense kla graag as hulle in ’n gemors beland. Dis in die meeste gevalle wêreldse berou – dit wat hulle probeer het, het geboemerang. Berou en verleentheid skeur hul uitmekaar, maar dis nie ’n goddelike berou wat hulle na Jesus laat draai nie, dit is selfbejammering.
Hoe lyk die afgode in ons lewe? Ek praat nie van Boeddha-beeldjies of iets dergeliks nie, maar moderne afgode? Enigiets wat vir jou belangriker as God, sy Woord en sy kerk is. Dinge wat jou van Hom af weghou, wat verhoed dat jy die Bybel bestudeer, gereeld kerk toe gaan en maak dat jy onbetrokke by jou gemeente is. Kortom: Dit wat jou van geestelike groei beroof. Net jy weet!
Luister wat sê Samuel vir sy volk: plaas God eerste! As Israel van die heidense regering oor hulle ontslae wou raak, moes hulle eers van hul afgode ontslae raak. Afgode is in ’n geestelike sin baie swaar en Israel het haar daaraan dood gedra. Jesus nooi alle draers van afgode:
“Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28).
Die eerste ding wat Samuel vir Israel tydens die volksvergadering vra, is om na God toe terug te draai. Die verlore seun se pad was weg van die vaderhuis. Toe hy hom vasloop, keer hy daarheen terug. Dis wat Israel moes doen.
Die tweede ding wat Samuel vir Israel sê, is om hulle nie met God se genade te misreken nie. God straf, maar vergeef ook. Toe die Filistyne van die byeenkoms in Mispa hoor, het hulle geweet hier kom ’n ding en in hul duisende op Israel afmarsjeer. Israel was tot die dood toe bang vir die oormag en het Samuel gevra om vir hulle by God in te tree. Ten spyte van hul afvalligheid het hulle geweet dat gebed sake verander.
Ongelukkig beskou te veel gelowiges gebed as die laaste uitweg terwyl dit die eerste keuse behoort te wees. Ons probeer om op ons eie uit die penarie te kom, maar niks verander nie. Dan bid ons maar as ’n laaste opsie tot God. Dit wat eerste moes wees, word laaste. Geen wonder dat God ’n volk soos Israel op haar knieë gedwing het nie!
Om op jou knieë te wees, is die regte plek vir ’n gelowige want gebed beweeg die Hand wat die heelal beweeg. Daarbenewens is geen afstand so kort as dié tussen God en ʼn gelowige bidder nie. Gebed styg vanuit die diepste put tot in die hoogste hemel op.
Ek weet nie hoe jou lewe hier aan die einde van 2021lyk nie. Miskien is jy ook in stryd met vyandige magte en weet nie herwaarts of derwaarts nie, veral nie wat 2022 gaan oplewer nie. Wat staan jou te doen? Luister na vers 9:
“….en Samuel het die Here aangeroep vir Israel; en die Here het hom verhoor”.
Wat ’n prentjie –die Filistyne kom in hul oormag aangestorm, Samuel bid, God verhoor en stuit die vyand in hul spore. Ebenhaeser was die Bloedrivier van die OuTestament en ’n beslissende oomblik in die volk van God se geskiedenis. God bepaal die toekoms:
“Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die Here” (Spr.21:31).
Ons moet God se genade nooit vergeet nie. Wanneer dit by die dinge van God kom, is gelowiges baie vergeetagtig. Daarom het Samuel ’n klip as gedenkteken opgerig om Israel aan die genade van God te herinner. Ebenhaeser het Israel aan sonde sowel as genade herinner!
Die Boerevolk is vandag net soos oud-Israel aan heidene onderworpe. Baie van ons volksgenote, selfs familielede, lek soos tjankend honde die hande van hul kastyders. Wat het met ons volk gebeur dat ons so veragter het?
Is die Boerevolk deur kerke en politici mislei? Ja, hulle is, maar dis ook net deels waar. Wat is dan waar? Dat ons, net soos oud-Israel, ’n menigte van moderne afgode begin dien het.
Wat staan ons te doen? Om die afgode te los en in opregte berou tot God terug te keer.
“En die Filistyne is verneder, sodat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie en die hand van die Here was teen die Filistyne al die dae van Samuel” (:13).
Toe Israel hul hande in gebed en berou saamvou, het God syne vir hulle oopgemaak.
Ons aanbid nie ’n ander God as Israel nie. Wat Hy vir Israel gedoen het, wil Hy ook vir die Boerevolk doen. Hy wil ons van die heidene verlos. Kom ons vou die hande en buig die knieë voor Hom!