Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons ons vertroue in God stel, en laat ons troos vind in die wete dat alles wel sal wees, as dit geskied volgens die wil van God. Want Hy weet wat die beste is vir ons tydelike en ewige welsyn.
KERSBOODSKAP
ONS CHRISTUSFEES
Ds Andrè van den Berg
“Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart; om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” - Jes.61:1
Dit is weer Kersfees – of soos ons eerder sê: Christusfees !
Hierdie fees is anders as die res van die Christelike feesdae omdat dit net van vreugde spreek. Tydens Lydenstyd raak ons bedroef as ons aan Jesus se lyding dink, maar hierdie fees is louter vreugde. Vergeef maar as mens dit soms steeds Kersfees noem aangesien die meeste mense uit gewoonte daarin vrede vind. ’n Mens sou graag van die Kersfeesgees in flesse wou opvang en elke maand een daarvan oopmaak. Dit sou ons van neerslagtigheid bevry. Dis goed om tydens hierdie fees opgewonde soos ’n kind te wees, want ons Verlosser het immers as kind na die aarde gekom. Kersfees moet egter in ’n mens se hart wees. Wie dit nie in sy hart het nie, soek tevergeefs daarna onder ’n kersboom in geskenkpapier toegedraai. Hierdie Christusfees is ’n hartsaak.
Dis ’n tyd van die jaar wat ’n mens nie alleen wil deurbring nie. Hoe vreeslik om ‘n kaggelvuur in jou hart te hê, maar niemand om langs jou te sit nie! Die hartseerste is egter wanneer mense slegs die opwinding van ’n Kersfees wil beleef, maar geen begeerte het om die Vredevors, die Een waaroor Kersfees eintlik gaan, as Verlosser en Saligmaker wil aanvaar nie!
Daar is geen Persoon na wie se koms so uitgesien is as Jesus s’n nie. Die Jode het eeue lank die koms van die Messias verwag omdat dit deur profete voorspel is. Hierdie verwagte koms van die Messias was ’n ernstige geloofsaak omdat dit alles met hul ewige eindbestemming te doen gehad het.
Gestel jy moet by ’n sekere bestemming uitkom, maar die pad daarheen is so bitter moeilik dat min by daardie eindbestemming uitkom. Maar dan hoor jy van ’n ander pad wat gemaak is; dis nuut, korter en baie makliker begaanbaar en almal wat dit enduit volg, bereik hul eindbestemming. Sal jy nie van koers verander nie? Beslis en met groot dankbaarheid!
Dis wat Jesus vir die Jode en daarna vir alle gelowiges (geestelike Israel) kom doen het. “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29). Jesus het ’n nuwe pad na die hemel kom aandui.
Die Jode het baie moeilik in die hemel gekom. Hulle moes twee dinge doen; die Wet onderhou en glo dat die Messias sou kom. Die onderhouding van die Wet was feitlik onmoontlik, sodat min die hemel beërwe het.
Die vooruitgesiene geloof in die koms van die Messias was so ’n werklikheid dat hulle tydens elke Joodse fees ’n ekstra plek aan die feestafel gedek het, ingeval die Messias by hul opdaag. Die oop stoel en gedekte plek aan die tafel het van ’n lewende verwagting getuig: Die Messias kom voorwaar!
As ’n geluk ’n mens tref, wil jy dit graag met mense deel. Toe Jesus die nag in Betlehem gebore is, het God gesorg dat mense dit weet en begin op ’n plek waar dit die minste verwag is – by ’n weiveld waar herders oor skape wag gehou het.
As ons aan herders dink, het ons altyd ’n positiewe beeld van hierdie eeu-oue beroep. Ons dink aan Ps.23: “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie” asook Joh.10:11: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” Beide spreek van deernis jeens skape (sondaars).
In Jesus se tyd het herders nie altyd ’n goeie naam gehad nie. Dit was eintlik ’n veragtelike beroep. Sommige was opperste skurke wat nêrens werk kon kry nie. Hulle was oneerlik en het openlik mense verkul. Sommige het selfs van hul werkgewers se skape verkoop, die geld in hul sak gesteek en vir die eienaars vertel dat ’n roofdier die skape gevang het. Daarom is Jode verbied om by herders vlies, wol of melk te koop.
Herders het so ’n slegte naam gehad dat hulle getuienis nie in die Joodse Raad aanvaar is nie. Hulle is met dieselfde minagting as tollenaars behandel; voëls van eenderse vere. Hulle was die uitvaagsels van die samelewing met wie geen ordentlike mens hom opgehou het nie.
Gevolglik het God ’n ongewone ding gedoen toe Hy die engele na die herders in Betlehem gestuur het met die tyding dat die langverwagte Messias gekom het. Hy kon die engele net sowel na die dominee van Betlehem of na een van sy Kerkraadslede of watter ander verdienstelike groep gestuur het. Desondanks stuur Hy hulle na ’n veragtelike groep wat nie eens as mense-getuies geag is nie om van hemelse dinge te getuig - die grootste gebeurtenis in menseheugenis!
God kon sy engele na die heilige tempel-sale toe gestuur het. Dit sou meer gepas wees en die boodskap van die koms van die Messias duideliker verstaan en vinniger versprei word. God doen dit egter nie, maar stuur sy engele na die landbousektor waar veragtes daar werksaam was. Waarom doen God dit? Om die Kersboodskap te benadruk – Jesus vereenselwig Hom met sondaars.
In Luk.19:10 word die doel van die koms van die Messias duidelik uitgespel: Hy het gekom, gesoek en gered. Jesus sê by geleentheid dat gesonde mense die dokter nie nodig het nie, maar siekes. En dis presies wat Hy in Jesus kom doen het; om sondaars van hul sonde bevry. Ek wonder hoeveel mense weet dit? Kersfees word tog so maklik in ydelheid deurgebring sonder dat mense weet waaroor dit gaan. Jesus het die lint gesny en nuwe pad na die hemel kom open!
In ons gelese gedeelte is Jesus 750 jaar voor sy geboorte aan die woord: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart; om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” Dis die kersboodskap in die OT!
Jesus praat hier van ootmoediges. Dis mense sonder aansien en die onderlaag van die samelewing - die vaal mannetjies en vroutjies van die lewe. Hierdie onderlaag was dikwels die vloermat van die bolaag van die samelewing waarop getrap is. Hulle kon nie op mense-hulp staatmaak nie; slegs God kon vir hulle uitkoms bring.
Dis hoe dit met die skaapwagters met Jesus se geboorte was. Daarom was dit vir ootmoediges wonderlik toe Jesus tydens sy aardse bediening by tollenaars en sondaars (kerklos-mense) geëet het. Hy is deur die kerklui van sy tyd as ’n besondere Rabbi geag. Daarom het hulle niks daarvan gehou dat Hy Hom met die onderlaag van die samelewing ophou nie.
Wanneer die engel aan die herders verskyn, praat hy spesifiek met hulle en nie met die kerklui of enige anderse Joodse groep nie. “Moenie vrees nie, ek bring vir julle ’n goeie tyding “. Dit kom tot die veragtes van die samelewing. God het iets vir hulle te sê: “dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker, wat Christus die Here is” Daar het redding vir die vodde van die huis van Dawid gekom!
God is lief vir ootmoediges. Die Bybel vertel aangrypende verhale van ’n onderlaag wat geestelik uitgestyg en in die kerk leiding geneem het. Die steen wat die bouers verwerp het, word so dikwels ’n hoeksteen. Die meeste van Jesus se dissipels was eenvoudige vissermanne.
Die herders van weleer het agter in die ry gestaan en in die vergetelheid van veragting weggesink. God het hulle agter uit die ry gaan haal en na vore gebring om die eerste getuies van Jesus se koms te wees. Wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste!
God gebruik vandag nog dikwels mense wat nie geleerdheid, geld, aansien of wat ook al het nie, om kragtige getuies in sy diens te wees, selfs mense in groot beproewing. Koningskinders hoef geen akademiese sertifikate, aansien of stoflike welvaart te hê nie; slegs een kwalifikasie – hulle harte moet in die bloed van Christus gewas wees sodat hulle vry is en nie meer gevangenes van die Satan nie.
“Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart; om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” .
Dek hierdie Christusfees opnuut vir Jesus plek in jou hart en laat Hom jou belangrikste Gas wees!