Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lyding op aarde vergelyk geensins met die vreugde wat vir ons in die hemel wag nie. Laat ons dus nie kla as ons ’n kruis moet dra nie. As iemand anders dit moes dra, sou hy die oorwinnaarskroon ontvang het en nie ons nie! Anders gestel: Wie geen kruis wil dra nie, verdien geen kroon nie.
BURGERLIKE ONGEHOORSAAMHEID
Ds A.E. van den Berg
“En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29).
Mense met baie name haat dit om vorms in te vul. Keiser Nero sou een kon wees - Nero Claudius Caesar Augustus Germanicus! Hy was 12 jaar lank keiser van Rome en met ʼn man getroud. Toe ’n brand ’n deel van Rome verwoes het, het hy die Christene die skuld daarvoor gegee terwyl hy self die brand laat stig het om plek te maak vir nuwe geboue wat hy wou oprig.
Paulus se brief aan die Romeine is tydens hierdie regering geskryf. Nogtans vuur hy gelowiges nie tot opstand teen die regering aan nie en sê dat die beginsel van regeermag van God kom. Hy skryf in Rom.13 dat die staat sy mag van God ontvang en sodoende ’n dienaar van God is.
Toe Jesus voor Pilatus verskyn, sê Pilatus vir Hom:
“…. Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10) waarop Jesus sê: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11).
Toe Paulus later voor Festus staan, sê hy:
“…. Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word…. as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11).
Dit bring ons by die vraag of gelowiges burgerlik ongehoorsaam mag wees? Daar is drie vorms van burgerlike ongehoorsaamheid.
Eerstens anargisme wat glo dat enige persoon na goeddunke kan kies om ʼn regering te gehoorsaam. Dit het in die lig van Rom.13 geen Bybelse ondersteuning nie.
Ekstremisme is ʼn tweede vorm van sulke ongehoorsaamheid wat glo dat ’n mens die regering van die dag gehoorsaam moet wees ongeag sy wetgewing en opdragte. Hierdie standpunt het ook geen Bybelse steun nie. Selfs die geskiedenis kom hierteen in opstand. Tydens die Nuremberg-verhore het een van die prokureurs die verskoning gebruik dat sy kliënte net hoër opdragte uitgevoer het en dus nie aanspreeklik gehou kan word nie. Een van die regters vra toe: “Meneer, is daar dan nie ’n hoër wet as menslike wette nie?” Dit het die opposisie se argument laat verkrummel. Die Heilige Gees oortuig van reg of verkeerd.
Die enigste Bybelse vorm van burgerlike ongehoorsaamheid is onderdanigheid aan God se Woord. Die Skrif leer ons om aan burgerlike regerings onderdanig te wees mits dit nie gruwels wettig nie. Dan mag gelowiges daardie owerheid nie gehoorsaam nie. Moses praat met sy volk en sê:
“Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie…” (Ex.23:2).
Die Bybel het talle voorbeelde van gelowiges wat ter wille van hul geloof burgerlik ongehoorsaam was. In Ex.1 het twee Hebreeuse vroedvroue die Faraso se opdrag om alle babaseuns dood te maak, veronagsaam:
“Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe” (:17).
God het hul geseën:
“ Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys.… En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk” (:22,21).
Josua 2 vertel van Ragab wat die koning se opdrag veronagsaam het deur die twee Israelitiese spioene nie uit te lewer nie Alhoewel dit ’n opdrag van haar koning was wat met die dood strafbaar was, het sy geweet dat sy dit nie kon doen nie. Toe Jerigo se mure inmekaar tuimel, is sy en haar hele huis gespaar.
In 1 Sam. gee Saul opdrag dat niemand iets moes eet nie voordat die geveg teen die Filistyne gewen is. Toe Jonathan dit verontagsaam en heuning eet, het Saul opdrag gegee om hom te dood. Toe sê sy manskappe:
“…. Moet Jonathan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! Sowaar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie!.... So het die volk dan Jonathan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie” (1 Sam.14:45).
1 Kon.18 vertel van ’n sekere Obadja wat God gevrees het. Toe koningin Isebel die profete van God begin vermoor, het hy 100 van hulle versteek. Sy optrede was ongehoorsaamheid aan die regering. Dit was egter in ooreenstemming met God se wil waarna Isebel se doodmaakplan nie geslaag het nie.
Die boek Daniel meld twee gevalle van burgerlike ongehoorsaamheid. Eerstens in hoofstuk 3; die bekende verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego wat nie voor die koningsbeeld wou buig nie en uit die vuuroond verlos is. Die tweede is in hoofstuk 6 - Daniel wat die koning se bevelskrif om niemand anders as hyself te aanbid nie, veronagsaam het, in die leeukuil beland en verlos is.
Hand. 4 vertel van Petrus en Johannes wat ’n verlamde man genees het en oor hul getuienis van Christus, in die tronk beland het. Die Joodse kerklui het die dissipels beveel om hul getuienis oor Jesus te staak. Hulle is as rusverstoorders gesien. Daarbenewens was Palestina ʼn opstandige land. As dinge nie in bedwang gehou kon word nie, kon Rome moontlik hardhandig ingryp.
Die apostels het egter ʼn duidelike beeld van hul opdrag gehad:
“Maar 'n engel van die Here het in die nag die deure van die gevangenis oopgemaak en hulle uitgelei en gesê: Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe. En hulle het geluister en vroeg in die môre in die tempel gegaan en begin leer...” (5:19-21).
.
Hulle was getuies en is deur die wet normaalweg as mense wat met eersterangse kennis spreek, geag. So ʼn persoon weet uit persoonlike ervaring dit wat hy sê, die waarheidis. Om so ʼn een te stop,was om die waarheid te probeer stop.
” Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis ; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien of gehoor het nie” (:19,20).
Toe die kerklui hulle daarna aan die opdrag tot swye herinner, sê Petrus:
“… Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29).
Die Joodse Raad was meer op mense se menings as op God se Woord gesteld, soos wat dit in talle kerke vandag gaan.
Die apostels se reaksie was nie ʼn verdediging of ʼn pleit om genade nie; dit was geloof in werking. Die les wat ons hier leer, is dat onderwerping aan menslike wette nooit belangriker as onderwerping aan God mag wees nie. Gelowiges gehoorsaam wette slegs sover as wat dit nie met die Skrif bots nie.
Die laaste voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid vind ons in Openb.13. Die Antichris gaan almal wat in die eindtyd leef, opdrag gee om die beelde wat van homself gemaak is, te aanbid of te sterf; net soos in die tyd van Daniel. Net soos wat gelowiges in die tyd van Daniel geleef het, sal dit ook in die einde wees - staatsvervolging maar ook goddelike ingrypings. God raap nie sekere gelowiges weg soos wat dwaalleraars verkondig nie, maar staan hulle op ’n baie besondere wyse by. Dis immers die kernboodskap van Openbaring.
Burgerlike ongehoorsaamheid is dus nie sonder meer sonde nie. As God se Woord in gedrang kom, het gelowiges, soos die apostels van ouds, geen ander keuse as om hul regeringswense teen te staan nie. As ʼn regering gelowige leraars wil dwing om homoseksuele pare in die eg te verbind, sê die gelowiges: “Nee, om die eer van die Here, nee!”