GOD IS ‘N LEWENDE WERKLIKHEID

Ds A.E. van den Berg

“Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie – dit is al sy gedagtes!” (Ps.10:4).                                          

Jare gelede sê ʼn man vir ʼn gelowige Skotse myner: “God bestaan nie!” waarop dié antwoord:

Dit kan nie wees nie!”  

“Ek sê jou, God bestaan nie!” sê die ongelowige vererg.

Wel, ek sê jou, dit kan nie wees nie!” sê die myner driftig.

Wat maak jou so seker dat God bestaan?” vra die man.

“Ek het vanoggend nog met Hom gepraat” antwoord die gelowige myner.

Waarom het die myner sy geloof in ʼn lewende God so sterk verdedig?   Omdat hy ʼn ervaring van God in sy lewe gehad het wat by die ongelowige ontbreek het. God was vir die myner ʼn werklikheid.

Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job.42:5).

Geloof is om God met ʼn geestesoog te sien en te ondervind dat Hy bestaan.

Israel se geloof was hoofsaaklik op hul ervaring van God gegrond.  Daarom wend die OT geen poging aan om die bestaan van God te probeer bewys nie. Die OT spekuleer nie oor die moontlikheid dat God bestaan nie, maar eerder wat Hy vir Israel gedoen het. Gevolglik was hul geloof op hul ondervinding van God gegrond.   En watter ondervindings het hulle nie met Hom gehad nie!   God het hul geskiedenis gedikteer en was dit nie nodig om Hom te bewys nie. Hy het Hom aan hulle bewys en sy wil aan hulle as volk bekend gemaak.  

Al wat Israel moes doen, was om meer van God te leer en Hom te waardeer. Hoe meer hulle van Hom geleer het, hoe sterker het hul geloof gegroei. Hulle geloof was op ʼn ervaring van God in hul lewe gegrond. En dis baie belangrik. Gelowiges moet God ook kan ervaar!

Let op die Hebreeuse naam vir God – Elohim.   Die voorvoegsel El beteken die sterk, helpende een. Hoe het hulle aan hierdie naam vir God gekom?   Op grond van hul ervaring met Hom!   Hy het hulle in Egipte gaan haal en ʼn land gegee. Op pad daarheen het Hy hulle 40 jaar lank versorg. Wat ʼn ervaring! Hulle het nooit nodig gehad om Hom te probeer bewys nie want hulle het Hom ervaar. Dis net diegene wat geen ervaring van God het nie, wat Hom probeer bewys!

Israel het nie God se bestaan beredeneer nie. Sy bemoeienis met hulle het alle twyfel uit die weg geruim – daar is beslis ʼn God! Toe Moses sy volk uit Egipte gelei het, het hy hulle nie eenmaal van God se bestaan probeer oortuig nie, maar van sy wonderlike eienskappe bewus gemaak.   Die eerste vyf boeke van die Bybel (Moses) getuig feitlik op elke bladsy daarvan.

God het Hom nie net aan Israel geopenbaar nie, maar ook aan Egipte. Die destydse wêreld het geweet wat in Egipte gebeur het. Hoor wat sê Ragab vir die verspieders:

“Ek weet dat die Here die land aan julle gegee het, want ons het gehoor dat die Here die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt” (Jos.2:9-11).

Die wonder-verlossing uit Egipte het aan die heidene bewys dat daar net een God is; dié van Israel.   Hy het ʼn verhouding met hulle as sy uitverkore volk gehad. Daarsonder sou hulle God nooit leer ken het nie. Dis ook van Jesus waar. Sonder ʼn verhouding met Hom, ken en ervaar geen mens vir God nie. Daarom sê Jesus vir Filippus:

“...Ek is al so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die vader gesien....” (Joh.14:9).

Wie Jesus ken en ervaar, ken en ervaar God want dis dieselfde Persoon.

In Ps.10 sukkel die Psalmdigter met die ateïsme van sy tyd. God het Hom so duidelik aan Israel geopenbaar, maar nogtans was daar mense wat sy bestaan ontken het. Die Psalmdigter wil amper soos die Skotse myner sê: “Maar dit kan nie wees nie!” Die ateïsme van destyds was anders as dié van vandag. Ateïste het nie net die bestaan van God ontken nie, maar geglo dat Hy sonder enige nagevolge uit die lewe gelaat kon word.

Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie ...” (Ps.10:4).                                          

Dit was praktiese ateïsme: Daar is wel ʼn God, maar met geen belang in mense se lewens nie.   Mense kon sonder vrees vir straf doen wat hulle wou. Hierdie oudwêreldse ateïsme is vandag nog met ons. Baie glo in God, maar het geen verhouding met of ervaring van Hom nie.   Die teksvers lui in Engels: “In hispride the wicked does not seek him; in all his thoughts there is no room for God”.   Om net te weet dat daar ʼn God is, maar geen verhouding met Hom te hê nie, bring jou nie in die hemel nie. Daarvoor moet jy ʼn verhouding met God hê!

Die Psalmdigter kyk na die optrede van onverskillige volksgenote. Hulle glo dat God bestaan, maar het geen verhouding met Hom nie. Gevolglik sondig hulle voort want wie gaan hulle straf?  Dis vandag nog so – mense hou aan sondig en glo dat God nie straf nie.   En baie van hulle sit in die kerk!

Kerkgang sonder ʼn verhouding met God, is selfbedrog. Kerke hou hul met soveel beuselagtighede besig, dat geloof tot ʼn verstandelike soeke na God verskraal word.   Net in die kop, maar nie in die hart nie!  

Wie God ervaar, weerkaats Hom na ʼn verlore wêreld.   Dit was immers die doel waarom God Israel uitverkies het - om deur hulle die wêreld te bereik. Mense moes in Israel se voorspoed God se goedheid raaksien en sy heerskappy in hul lewens begeer. Hy dwing by elke gelowige beslissings af. Jesaja roep in vervoering uit: “Hier is ek, Here, stuur my!”

Wie God ervaar, bring tyd met Hom deur. Jesus se voorbeeld getuig van so ʼn verhouding. God is in al ons doen en late betrokke en loer nie maar net so nou en dan in ons lewe in nie. Hy omring ons lewe soos water ʼn eiland omring.   Ons leef en asem God net in soos wat ons lug inasem en is van Hom deurdronge.

Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my...” (Gal.2:20).

In Hom leef, beweeg en is ons. Dit kan nie sonder ʼn persoonlike verhouding met Jesus geskied nie.  

Jesus wil met mense in ʼn verhouding wees. Desondanks dring Hy hom nie aan mense op nie en kom net by deure in wat bewustelik vir Hom oopgemaak word.

Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe ....” (Openb.3:20).        

ʼn Toe deur beteken geen verhouding nie soos wat in Israel gebeur het. Ten spyte van God se bemoeienis het baie van hulle nie oopgemaak nie, verhard gebly en in hul sonde gesterf. Hulle was niks beter daaraan toe as die heidene nie. So klop Jesus ook aan baie harte, maar mense maak nie oop nie. Kerkgang is vir hulle bloot ʼn gewoonte en geloof nooit ʼn ervaring met God nie.

Die kerk het ʼn nood aan geloofservaring!   Ja, dat Jesus so ʼn werklikheid sal wees, dat ons teenoor diegene wat sê dat Hy nie bestaan nie sal sê: “Dit kan nie wees nie, ek het dan so pas met Hom gepraat!”