GEHEIM VAN SUKSES

Ons leef net een maal op die aarde en is dit derhalwe belangrik om suksesvol te wees. Sukses is geen kitsgeluk nie en gevolglik nooit teen winskooppryse beskikbaar nie. Dis ʼn vrug wat stadig ryp word, ʼn reis en nie ʼn eindbestemming nie. Om hierdie reis te begin, moet ʼn mens die eerste tree gee en dan aanhou loop.

Sukses het hoë standaarde wat nie verlaag word om mense tegemoet te kom nie. Mense moet daarheen opklim. Die hysbak na sukses is altyd buite werking. Trappe moet geklim word; een op ʼn slag en nie met hande in die broeksak nie.

Die sonskyn van sukses is egter nooit sonder wolke nie en word sukses dikwels deur mislukkings vooraf gegaan. Dis wel ʼn leerproses. Mislukking is ʼn les wat geleer word en sukses een wat toegepas is. Wie dié les leer, verloor nie sy geesdrif nie omdat elke terugslag die saad van moontlike toekomstige sukses dra. Daarom het mense wat hoogtes bereik het, geleenthede raakgesien, besluite geneem en daadwerklik opgetree.

Die pad na sukses begin by regte besluite wat dikwels deur ervaring vooraf gegaan is. Sommige van hierdie ervarings kom weer van verkeerde besluite wat geneem is. Baie mense het al op die drumpel van sukses tou op gegooi omdat die grens tussen sukses en mislukking soms so na aan mekaar is dat dit nie raakgesien word nie.

Talle suksesse is al op die fondament van terugslae gebou. Dit vereis egter selfdissipline en moet mense soms dinge doen waarvoor hulle nie lus is nie. Wie dit baasraak, ontdek dat sukses dikwels niks anders as ’n paar eenvoudige dinge is wat daagliks nagekom moet word nie.

Sukses hang nie van geluk of kennis af nie, maar van sinvolle voorbereiding en vasberadenheid. Daarvoor moet mense studeer terwyl ander slaap; hard werk terwyl ander lyf wegsteek; voorberei terwyl ander tyd verkwis en mikpunte laat verwerklik terwyl ander net daarvan droom.

Sukses is nooit sonder sy kwota versperrings nie. Wie egter ʼn versperring teëkom en ʼn pad òm dit vind, bereik altyd sy bestemming. Mense kan jou miskien in jou spore stuit, maar net jy kan ophou.   En daarvoor moet die vuur binne-in jou sterker as die vuur rondom jou brand!

Suksesvolle mense loop gereeld onder kritiek deur sonder om spoed te verloor. Sommige bou selfs stewige fondamente met die klippe wat mense na hulle gooi. Dis mos nie hoe jy die hawe uitvaar wat van jou ʼn goeie skeepskaptein maak nie, maar hoe jy na ʼn storm daarheen terugkeer.

Die pad na sukses loop altyd opdraand. Mense moet noot ʼn snelheidsrekord daarop verwag nie. Daarbenewens is hierdie pad altyd in aanbou.   Daar is geen galeislawe op die boot na sukses nie; elkeen roei vir homself.

Sukses moet egter eerbaar verkry word sonder om beginselsprys te gee. Sorg dat die leer na sukses altyd teen die regte muur staan. Moet nooit in die greep van ʼn ydele, onversadigbare drang na sukses beland nie. Dit sal wees soos om met ʼn ongedierte te stoei. Jy kan nie ophou as jy moeg raak nie. Hy moet eerste moeg raak! Laat jou strewe na sukses altyd jou geloofslewe belig en nie skaad nie.