KEN JOUSELF

Ds A.E. van den Berg

Kennis van jouself is die begin van wysheid en wie homself vind, bly in ʼn huis waarin hy vir die res van jou lewe gelukkig is. God het nie ʼn fout begaan toe Hy jou gemaak het nie. Sien jouself derhalwe soos wat Hy jou sien - ʼn siel met ʼn liggaam en nie ʼn liggaam met ʼn siel nie.

Niemand is soos jy nie en dis juis jou krag. Maak derhalwe vrede met jouself en aanvaar wat jy is asook dit wat jy nooit in die lewe kan wees nie. Wees net jouself. ʼn Oorspronklike dokument is altyd beter as ʼn kopie.

Om jouself te ken, is egter nie maklik nie en by tye selfs ongemaklik. En dis hier waar selfdissipline deurslaggewend is - die vermoë om in rat te bly ongeag omstandighede. Wie in hulself glo, verrig selfs verstommende dade!

Selfdissipline vereis ʼn beheersing van die gedagtegang. Wie sy denke nie kan beheer nie, skep vir homself oneindige probleme want met ʼn verkeerde uitkyk op die lewe is jou ore en oë min werd. Wie homself vind, verloor baie van sy ellendes. Moenie dus nooit met jouself opgeskeep raak nie. Wat voor of agter jou is, is niks in vergelyking met wat in jou is nie.

Ons is almal iets, maar niemand is alles nie. Wees net jouself want dit bring rustigheid in jou en in diegene rondom jou. Laat ander toe om hulself in jou teenwoordigheid te wees. Moenie hulle na jou smaak probeer verander nie want dan is jy net op jou spieëlbeeld in hulle verlief.

Jy het alles wat nodig is om goed te leef binne-in jou. Moet dus nie wag dat iemand anders jou vuur aansteek as jy self die vuurhoutjies het nie. Niemand kan jou sonder jou toestemming minderwaardig laat voel nie.Die enigste een wat jou in die lewe kan aftrek, is jyself!

Pasop daarom op vir selfbejammering. Dis ʼn vermorsing van tyd en ʼn slegte gewoonte. Selfondersoek is beter. ʼn Boogskutter wat sy teiken mis, soek die fout by homself en nie by die teiken nie. Om dit te kan tref, moet hy sy eie vermoë ken. Selfondersoek laat ʼn mens jou eie tekortkominge en moontlikhede ontdek. Laasgenoemde is so groot soos jou vertroue in jou eie vermoëns. Dink dus soos ’n skoenlapper al is jy ʼn mot!

Al het ons nie nou al die antwoorde nie, sal ons dit eendag wel hê. Dit maak die lewe interessant. Wees sterk omdat jy weet hoe dit voel om swak te wees. Wees vreesloos omdat jy weet hoe dit voel om bang te wees. Wees wys en ken jouself omdat jy weet hoe dit voel om radeloos te wees.

Ken jouself. Wees jouself. Gee jouself!