MISLUKKING

Ds A.E. van den Berg

Leermeester of begrafnisondernemer?

Die lewe isdikwels soos skilderwerk. Alles loop tot op ʼn puntreg waarna God ʼn streep daardeur trek en van voor af beginmoet word. Die eindresultaat is egter altyd beter. Daarbenewens kan die lewe ook met ʼn mosaïek-kunswerk vergelyk word wat uit klein stukkies gebreekte glas bestaan. As ons Hom toelaat, maak God van ons gebreekte lewensglas ʼn nuwe prentjie.

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword(2 Kor.5:17).

Gevolglik is mislukkings is nie sondermeer sleg nie en dikwels die pilare waarop sukses gebou word en die eerste stap in die rigting na dit wat God van ons verlang. Sy planne met gelowiges is altyd groter as hul mislukkings. Soms is mislukkings net die lont wat iets groot aan die brand steek.

God leer ons deur mislukkings om te volhard en wys ons dat as plan A misluk, dat daar nog 25 letters van die alfabet oor is. Solank as wat ons mislukkings nie die gevolg van bewustelike dwaasheid is nie. Ongelukkig moet sommige mense se lewens eers uitmekaar val alvorens hulle dit agtermekaar kry.

Mislukkings is van die speserye wat aan die lewe geur gee en leer ons soms meer uit mislukkings as uit suksesse. Ongelukkig misluk baie mense omdat hulle, toe hulle op die punt van sukses was, tou opgegooi het. Misluk eerder as om nooit te probeer nie. Sodoende laat jy nooit gulde geleenthede deur jou vingers glip nie.   Om dan te misluk is beter as om nooit te probeer nie.

Mislukking is nie permanent nie. Dis ʼn wond en nie ʼn tatoeëermerk nie. Mislukkings is dikwels kosbare lewenservaring en die geursel wat smaak aan uiteindelike sukses gee. Vir gelowiges is ʼn mislukking slegs ʼn oefenrondte en ’n onderwyser; nie ’n begrafnisondernemer nie.   Mislukkings vertraag slegs die lewenspas, maar vernietig dit nie. Dis ʼn ompad en nie ’n doodloopstraat nie!