NEDERIGHEID

Ds A.E. van den Berg

“Hy moet meer word, maar ek minder” (Joh.3:30).                            

Woordvoerders praat slegs in opdrag van hooggeplaastes. Hulle is spreekbuise en sê net wat die betrokke persoon wat hulle stuur mense wil laat hoor. Daarom luister mense na woordvoerders asof die hooggeplaaste self praat. God het profete as spreekbuise gebruik en het baie van die boodskappe met die woorde “So spreek die Here” begin. Wie nie na die profete geluister het nie, het nie na God geluister nie. En dit was vir die profete ʼn baie ernstige saak, nie omdat dit hulle eer kon aantas nie, maar God s’n.

Die profete was ʼn belangrike skakel tussen God en mens. So ook die priesters ʼn skakel tussen God en hul gemeente. Dit was ʼn wisselwerking - profete was die skakel tussen God en mens en priesters die skakel tussen God en ʼn kleiner groep mense.

Die Bondsvolk het nie altyd na die profete as gesante van God geluister nie. Jesaja beween dit: “Wee die sondige nasie; die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jes.1:14).

Jesaja kla nie oor Juda wat nie na hóm wou luister nie, maar wat nie na God wou luister nie.   Dit gaan vir ʼn woordvoerder nie oor hom as boodskapper nie maar oor die sender.

Die OT maak van talle uitstaande profete soos Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniel melding. Maar wie was die grootste van alle profete?   Een wat nie in die OT by die naam genoem word nie, maar net sy optrede; Johannes die Doper. Jesus sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie ...” (Mt.11:11).  

Omdat die profete dit deurgaans voorspel het, is die Messias eeue lank verwag. Jesaja praat 750 jaar voor die geboorte van Jesus van die maagd wat met die Messias swanger sal raak (Jes.7:14).   Sy geboorte sal soos ʼn lig wees wat in die sonde-duisternis skyn (Jes.9:1). Jesaja voorspel dat die Messias ʼn wegbereider sal hê: “ ’n Stem van een wat roep: ‘Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis ʼn groot pad vir onse God!” (Jes.40:3).

Tot en met die profeet Maleagi het God gereeld met die volk gepraat, self toe hulle in ballingskap was. Esegiël het bv. sy profesieë almal in Babel ontvang. Ná Maleagi het die stem van die profete vir 400 jaar stil geword omdat God niks meer vir sy volk te sê gehad het nie.

Toe God hierdie eeue-lange stilte verbreek en Johannes in die woestyn begin profeteer, het dit gevolglik ʼn opskudding onder die Jode veroorsaak. Ná 400 jaar het God weer vir hulle iets te sê! Toe die mense Johannes vra wie hy is, het hy gesê: “Ek is die stem van die een wat roep in die woestyn; Maak die pad van die Here reguit...” (Joh.1:23). So is die profesie van Jesaja bewaarheid. En op die Messias se bekendstelling 30 jaar later, sê Johannes: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh.1:29).

Johannes is ongeveer ʼn jaar voor die kruisiging van Jesus onthoof weens sy onverskrokke getuienis teen die koningshuis. Hy was ongeveer 33 jaar oud.   Ondanks ʼn kort bediening het hy ʼn meesterlike rol as woordvoerder van God in die bekendstelling van die Messias gespeel. Johannes is vir elke gelowige ʼn rolmodel van wat dit beteken om Christus tot die dood toe te volg.

Benewens Johannes se onverskrokke getuienis is daar een aspek van sy lewe wat aandag verdien – sy nederigheid.   Ten spyte van sy aansien as enigste profeet van sy tyd, het Johannes nooit die kalklig by Jesus probeer steel nie. Sy bediening het slegs om die bekendstelling en daarna die verheerliking van Jesus gegaan. Hy moet meer word, maar ek minder”.

Johannes kon met die aanhang wat hy gehad het, maklik sy eie beuel geblaas het.   In Mt.11 lees ons dat hy selfs dissipels gehad het; mense wat hom gevolg het om meer van Jesus te leer.   Desondanks het Johannes altyd na Jesus gewys.   Johannes het ag geslaan op Jesus se woorde: “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16). God se grootheid het in Johannes se nederigheid geskitter.   Nederigheid is ʼn gawe van God wat ʼn mens, al besit hy die wêreld, niks as sy eie ag nie; dis alles gawes en hy slegs die rentmeester daarvan.

Die koninkryk van God is baie anders as aardse koninkryke.   Burgers van aardse koninkryke meet met ander maatstawwe as dié van die koninkryk van God. Die wêreld sê dat as ʼn mens groot wil wees, hy vir homself naam moet maak. Om in die koninkryk van God groot te wees, moet jy van jouself vergeet. En dis net moontlik deur klein voor God te word.   Hoe kleiner die mens, hoe waardevoller is hy vir God.   En dis hier waar baie mense misluk – hulle wil te graag groot wees.

Die Bybel leer: Groot in die wêreld, klein voor God; klein voor die wêreld, groot vir God.   ʼn Nederige mens sien mense vir wat hulle werklik is. Hy kyk nie teen sy eie belangrikheid vas nie. Nederigheid is ʼn volstrekte vereiste om vir God diensbaar te wees. Daarsonder kan niemand skatte in die hemel bymekaar maak nie en daarsonder is ʼn mens geestelik bankrot.

Nederigheid is een van die mooiste eienskappe in gelowiges se lewe. En wat ʼn nood het die kerk nie daaraan nie!   Baie kerkmense is so vol van hulself dat daar vir Christus geen plek in hulle lewe is nie.   Sommige sit so stewig op die troon van hul eie lewe dat die stootskraper van die Evangelie hulle nie lig nie!

Ons leef in ʼn wêreld wat in ʼn soeke na eie eer en roem vergaan.   Dit lei tot geestelike armoede. Geestelike rykdom lê juis in ʼn klein-wees voor God.   Jesus het by geleentheid die dissipels gevra om die pasga voor te brei en toe niemand die gebruiklike voete-was wou doen nie, het Hy dit self gedoen.

Leer van die vrugteboom; die tak wat die laagste hang, is die een wat die meeste vrugte dra. Die gelowige wat die laagste buig, is die vrugbaarste in God se koninkryk en wie die meeste van homself dink, dink die minste aan God.

By geleentheid vra iemand vir Augustinus wat die belangrikste eienskap in ʼn gelowige se lewe is: “Die eerste, tweede en derde belangrikste eienskap is nederigheid”antwoord hy.   Nederigheid is die wortel waaruit alle ander goddelike deugde spruit. ʼn Nederige hart is die mooiste tempel vir God.

In die NT lees ons van die Fariseërs wat baie godsdienstig, maar nie nederig was nie. Hulle wou graag vroom wees, maar het nie kans gesien vir die nederigheid wat dit moes vergesel nie. En dis vandag nog waar. Daar is baie mense wat vroom voorkom, maar in wie se lewens nederigheid ontbreek. Al wat vir hulle belangrik is, is dat mense hulle moet sien.

Die Bybel leer ons dat nederigheid die altaar is waarop ons ons offers vir God neerlê.   Nederigheid laat jou nie minder van jouself dink nie, maar minder áán jouself. Daarenteen het trots al van engele duiwels gemaak.

Wie vol van homself is, is nie net vir God onbruikbaar nie; mense vermy ook so ʼn persoon. Wie egter leeg van homself is, is vir God bruikbaar en ‘n geliefde onder mense.  

Luther het gesê dat God die wêreld uit niks gemaak het nie en dit geld ook vir die mens. Solank as wat ons niks is nie, kan God iets van ons maak.   Mag God ons met nederigheid bedeel en opnuut met dankbaarheid vervul vir dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. “Hy moet meer word, maar ek minder”.