DIE LAM EN DIE LEEU

Ds A.E. vd Berg

“Is U die een wat sou kom, of moet ons ʼn ander een verwag?(Mt.11:3).

Die Bybel vertel van talle merkwaardige profete waarvan Johannes die Doper, Jesus se wegbereider, die grootste was. Hy het destyds ʼn groot beroering in kerkgeledere veroorsaak omdat die stem van die profete na Maleagi vir vier eeue stil was. God het niks meer vir Israel te sê gehad nie. Toe Johannes dus hierdie profetiese stilte na 400 jaar verbreek, het mense nuuskierig kom luister. God het na al die tyd weer met Israel gepraat!

In Mt.11 sit Johannes in die tronk; verneder, ontnugter en met soveel twyfel, dat hy boodskappers na Jesus stuur: “Is U die een wat sou kom, of moet ons ʼn ander een verwag? Sy vertwyfeling was deel van die bitterheid wat toe alreeds aan Jesus se lydensbeker toegevoeg is; dat sy wegbereider aan Hom getwyfel het!

Johannes se vertwyfeling leer ons dat geloofshelde ook net mens is en stadiums van vertwyfeling en ontnugtering beleef. Elia, een van die grootste profete van die OT, het by geleentheid selfs onder ʼn besembos gaan lê en gewens om te sterf. Gelowiges weet dat ʼn mens uit genade en nie voortreflikheid gered word.

Johannes was die eerste profeet om die koms van die langverwagte Messias aan te kondig. Hy praat van die Leeu van Juda wat die dorsvloer sou deurtrap en mense tot onmiddellike bekering oproep asof dit weldra te laat sou wees.

Maar nou sit Johannes in die tronk en sou nie lank hierna onthoof word. Hy was teleurgestel. Waar is die vlamme van God se wraak wat die werkers van ongeregtigheid sou verteer? Sy aanvanklike vuur en ywer in die woestyn was skynbaar geblus. Daarom sê hy deur die gesante vir Jesus: Ek het U heel anders aan my volgelinge voorgehou. Het ek my dalk met U misgis?

Mense maak dikwels dieselfde fout as Johannes nl. om verkeerde voorstellings en verwagtings van Jesus toe te dig en nie na die Bybel terug te gaan en die eienskappe wat aan Jesus toegeskryf word, te toets nie.

Die OT onderskei twee duidelike lyne van die Messias – Kneg en Koning; Lam en Leeu. Na Jesus se doop sê Johannes: “Daar is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem”. Hy het net soos sy volksgenote ook maar heimlik na ʼn staatkundige leier gesmag. Israel het immers ook staatkundige leiers soos Moses en Dawid as geestelike leiers gehad. Waarom nie Jesus nie? Op pad na die hemelvaart vra die dissipels vir Jesus of dit nie tyd was om Israel staatkundig in ere te herstel nie? Hy was mos uit die nageslag van Dawid.

Jesus het in sy bediening niks aan Israel se staatkundige opset gedoen nie. Hy het selfs nie eens met hooggeplaastes omgegaan nie, maar was ʼn vriend van tollenaars en sondaars en gevolglik nie deur Jode geag nie. Vandaar Johannes se twyfel. “Het ek my dalk misgis en die verkeerde man as Messias aangewys?”Om Jesus te volg, was so anders as wat Johannes voorgestel het.

Dis vandag nog so. Geen mens volhard in eie krag nie. Die stroom wat mense die wêreld inspoel is sterk. Min mense weerstaan dit: “Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Mt.7:14).

Ons staan op die vooraand van Kersfees. Die stroom weg van Jesus af word al hoe sterker en dit bekommer ons so, dat ons wil vra: “Here, waarom laat U al hierdie onreg en booshede toe? U kan mos iets hieraan doen” En so maak ons dieselfde fout as Johannes! Ons mag nooit verwagtinge koester van verwagtinge wat Jesus nooit gemaak het nie. Johannes het die Leeu verwag en toe kom die Lam. Israel het ʼn politieke verlosser, toe kom die siele Verlosser.

Kersfees beteken nie dat Jesus aarde toe gekom het sodat gelowiges geen siekte, pyn of teleurstellings sal hê nie.   Ons moenie soos Johannes vergeet dat ons in die bedeling van die Lam leef nie. Die Leeu kom nog. Dis nou nog saaityd; oestyd het nog nie aangebreek nie.

Ons moet nog deur die siftingsproses van die eindtyd gaan. En dit gaan hewig wees. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:21,22).

Ons verkeer tans nog in ʼn gunstige bedeling en moet geestelike skatte bymekaar maak. Daar kom ʼn tyd dat aardse skatte geen waarde sal hê nie behalwe vir hulle wat hul siele aan Satan verkoop het en aan die Antichris onderdanig is. Ons verkeer dus in genadetyd.

By die Lam is dit moontlik om versoening te kry, maar nie by die Leeu nie want dan is dit vir ewig te laat. Dis nou lydenstyd en nie heerlikheid nie; werkstyd en nog nie rustyd nie. Die Leeu wat Johannes verwag het, sal kom in krag en majesteit soos beloof. Laat ons hierdie Kerstyd verlangend op die Leeu wag, maar totdat Hy kom, ons in die genade van die Lam verlustig.