AS DIE BOEMERANG TERUGKEER!

Ds Andrè vd Berg

Kyk, seuns is ʼn erfdeel van die Here; die vrug van die moederskoot is ʼn beloning. Soos pyle in die hand van ʼn held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het!”(Ps.127:3-5).

En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efes.6:4)                                          

Ps.127 is ʼn bedevaatslied van Salomo; die enigste wat in Psalms opgeneem is. Dis wysheidsliteratuur en leer ons om opreg te leef.   Ps.127 handel oor die oneindige vreugde en genoegdoening wat gelowige kinders hul ouers bied.

Van al God se gawes is ouerskap van die grootstes omdat kinders die enigste is wat ons hemeltoe kan vat; alle ander dinge word na ons dood op die aarde gelaat.   Daarom is min dinge belangriker as oueropvoeding. Dis egter nie maklik nie. Die lewe is soos ʼn boemerang; dit wat jy daarheen gooi, keer later na jou toe terug, soms met hartseer gevolge waarvoor net jyself te blameer is.

Probleemkinders het gewoonlik probleemouers. Hulle word nie so gebore nie, maar eerder so gemaak. Daarom steek die dorings van die bos wat ouers geplant het, altyd die seerste!

Min min dinge is tans so in Satan se spervuur as kinderopvoeding. Daarom lê die Bybel klem op ouers se geestelike versorging van hul kinders. Wie kinders sonder eerbied vir God en sy gebod opvoed, maak slim duiwels groot! Wie kinders geestelik reg opvoed, stuur eerbare mense die lewe in. As die fontein skoon is, sal die stroompies ook skoon wees. Giftige bronne het egter nooit vars stroompies nie.

Geestelike kinderopvoeding begin by ouers wat oor die sieleheil van hul kinders besorg is. Let op die treffende voorbeeld van Job:

“En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen” (Job.1:6).

Gelowige ouers is padwysers na die hemel. Hulle maak daagliks deposito's in die geheue-bank van hul kinders. Onthou, kinders kyk baie krities na hul ouers. Ouers se lewens is die handboek waaruit kinders leer hoe om te leef. Kinders is soos ongeslypte diamante en ouers die slypers. As ouers kinders nie teleur stel nie, sal kinders ouers nie sommer teleur stel nie. Dit sny na twee kante.

ʼn Kind aanvaar God makliker as sy hemelse Vader as hy iets van God in sy eie vader se lewe sien. Geesteswaardes word egter nie aangeleer as hulle niks daarvan by hul ouers sien nie en onreg wat in ouerhuise gedy, word nie daarbuite reggestel nie. Jy kry nie heel eiers in onderstebo neste nie!

Kinders volg hul ouers se voorbeeld. Die appel val nie ver van die boom nie. Die verhaal word vertel van die man wat by die krap kom en hom vra waarom hy so skeef loop. “My pa loop skeef en my ma loop skeef. Waarom sal ek dan anders wil loop?” antwoord die krap hom.

Deut.6 onderstreep geestelik verantwoordelike oueropvoeding baie sterk:

“Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut.6:4-7).

Wie hul kinders laat doop, het ʼn verbondsverpligting teenoor God en beloof om hul kinders in die vrese van God op te voed. Hierdie belofte bly tot hul dood van krag en verval nie as so ʼn kind huis eendag die huis verlaat nie. Daarom is dit tragies as ouers van hul kinders toelaat om in ʼn fophuwelik saam te bly. Waar is die doopbelofte? Is dit dan nie ʼn skans teen sedeloosheid nie?

Ons gemeenskapslewe tel bitter vinnig spoed op - weg van Bybelse sedeleer. En dit begin by ouerhuise. Gebrekkige geestelike opvoeding baar gebrekkige sedes. Daarom word die gat in ons volk se morele osoonlaag al hoe groter. En kerke werk lustig saam! Van die 22 beskawings wat al tot ʼn val gekom en van die wêreldtoneel verdwyn het, het 19 weens sedelike verval verdwyn.

In meetkunde is ʼn reguit lyn die kortste afstand tussen twee punte. So ook in die sedelike lewe. Daar is nie ompaaie nie. Dis reguit! ʼn Sedelose lewe is soos ʼn gebuigde sleutel; dit sluit nie die slot van vreugde oop nie.

Ouers wat God’s water oor God’s akker laat loop is bang kinders beskou hulle as pretbederwers. Gevolglik het ouers wat te bang is om hul voet neer te sit, gewoonlik kinders wat op hul tone trap. Hulle vrees hul kinders meer as God.

Ouers het soms brille nodig om te sien wat onder hul neuse aangaan. Dink maar aan Eli: ”Maar die seuns van Eli was deugniete; hulle het die HERE nie erken nie. En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag” (1 Sam.2:9).Was Eli werklik onbewus van hul booshede?“ ...Waarom doen julle sulke dinge, dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge moet hoor?” (1 Sam.2:22).

Eli was daarvan bewus, maar het niks daaraan gedoen nie. God het Eli daarvoor aanspreeklik gehou: “Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My ...” (1Sam.2:29).Mislukte kinderopvoeding stuur kinders hel toe!

In die vroeë 70er jare is Rodney Axe, ʼn 19 jarige jongman, weens moord ter dood veroordeel. Hy was die produk van mislukte oueropvoeding. Toe hy die doodstraf opgelê is, het regter Baker vir sy pa gesê: “Ek moes jóu na reg vandag ter dood veroordeel het!”Rodney was deel van ʼn bose kringloop.

Kinderopvoeding is soos ʼn aflosresies. ʼn Paar mense neem daaraan deel en gee die aflosstokkie vir mekaar aan. Dit verwissel van hande, maar die hele span wen. So ook met kinderopvoeding! Ouers gee die stokkie aan.

Ons volkslewe val uitmekaar. Die herstel van ons gesinslewe is al wat dit nog kan keer.   Ons moet by die kleinste gemene deler begin – die gesin - en keer wat verkeerd loop. Jy kan ʼn kers doodblaas, maar nie ʼn vuur nie.

Ouers is soos Moses. Alhoewel hy geweet het dat hy nooit die beloofde land sou binnegaan nie, het hy sy mense vir ʼn lewe voorberei wat hy self nie sou beleef nie. So is dit ook met ouers en hul kinders.

Kinders is die lewende boodskappe wat ouers die toekoms instuur vir ʼn tyd wat hulle self nie gaan beleef nie. Wees daarom versigtig om so besig te wees om vir jou kinders die stoflike dinge te gee wat jy as kind nie gehad het nie en in die proses vergeet om hulle die geestelike dinge wat jy wel gehad het, te gee!

Daar is vir ouers min dinge aangenamer as voorbeeldige, gelowige kinders. So ook vir grootouers. Dis soos ʼn aflosresies wat gewen word. Wie geestelike atlete nalaat, sterf eintlik nooit nie. Sulke ouers leef in hul nakomelinge se gedagte voort. Wie ergerlike kinders kweek, sterf in werklikheid voor hul dood.

Leer jou kinders reg en maak baie seker dat hulle Jesus as Verlosser ken en die Woord van God liefhet. Dit sal verhoed dat jy eendag met die uitgebrande as van wrede ontnugtering sit as daardie boemerang na jou toe terugkeer!