Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het deur middel van gelykenisse vir die mense verduidelik waaroor die koninkryk van God – waaroor Hy so dikwels gepraat het – eintlik gaan. Maar almal wat Hom gehoor het, kon Hom nie verstaan nie. Jesus verduidelik dan ook die gelykenisse aan sy dissipels sodat húlle werklik beter kan verstaan wat Hy bedoel. Jesus se navolgers is dus bevoorreg om hul kennis en insig oor die koninkryk van God eerstehands te kan vermeerder – diegene wat reeds begrip het, sal nog meer kry.
TYD VIR VEROOTMOEDIGING!
BID VIR ONS VOLK EN ONS LAND!
Ds Andrè van den Berg
“As Ek die hemel toesluit dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde wee, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land genees”
2 Kron.7:13+14
2 Kron.7 vertel die verhaal van die skouspelagtige inwyding van die tempel in Jerusalem en die feeste wat daarna plaasgevind het. Nadat al die feesgangers huis toe is, het God een nag baie ernstig met koning Salomo oor Israel se toekoms gepraat. God het geweet dat dieselfde feesvierende volk so afvallig van Hom sou raak, dat die koninkryk in twee sou skeur. Salomo was die laaste koning van die gesamentlike ryk.
In die twee teksverse gee God vir Israel vroegtydig ʼn voorskrif vir hul genesing, amper soos ʼn dokter wat vir ʼn pasiënt sê dat hy baie siek gaan word en solank ʼn voorskrif vir genesing gee. In vers 13 waarsku God dat Hy ongehoorsaamheid met droogte en plae (sprinkane) straf en in vers 14 sê Hy vir Salomo hoe om sulke rampe te vermy – deur nasionale verootmoediging.
Luister hoe mooi praat God van Israel. Hy noem hulle: “...my volk oor wie my Naam uitgeroep is”. God praat nie hier met verlorenes nie want verlorenes het nie verootmoediging nodig nie, maar eerder bekering. Verootmoediging vra van gelowiges om deur verootmoediging van hul valse trots ontslae te raak. En dit was Israel se kernprobleem - valse trots. Omdat hulle die uitverkore volk van God was, het hulle geglo dat hulle beter as ander volke was en nie vir hul verkeerde optredes gestraf sou word nie. God sou ander pad kyk.
Dis wat valse trots aan mense en volke doen! Die Hebreeuse woord vir trots beteken om soos die see-gety op te stoot. Jy raak vol van jouself en sê: “Ek het God nie in my lewe nodig nie. Ek kan my eie potjie krap en self besluit hoe ek my lewe wil lei”. Valse trots verteer nie net enkelinge nie, maar ook gemeentes soos dié in Laodicea: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie...” (Openb.3:17). Laodicea wou sonder God oor die weg kom en het selfs goed daaroor gevoel!
Mense wat in die wurggreep van valse trots verkeer, luister nie na God nie. “Ore het hulle, maar hoor nie. ” (Ps.115:17). Daarbenewens is hulle soos die Fariseërs net op eie belange ingestel en smag na erkenning. Trotsaards is ook ondankbare mense wat hulle nie maklik laat teregwys nie en weier soos ʼn Jona van ouds om God se opdragte uit te voer.
God haat valse trots en eis van gelowiges om hulself eerder voor Hom te verneder. Die Hebreeuse woord vir verneder beteken om die knie te buig soos om onder God se gesag te kom. Paulus skryf aan die Filippense: “...sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is....” (Fil.2:10,11). En dis die vertrekpunt van verootmoediging – om voor God te buig.
In vers 14 sê God dat Israel baie ernstig moet bid. Sy was te trots op haarself. Valse trots maak mense biddeloos. Hulle sien die nodigheid van gebed nie in nie omdat hulle reken dat hulle op hul eie goed oor die weg kom. Nee, sonder Christus kom niemand goed oor die weg nie. In Joh.15 sê Jesus dat gelowiges soos die lote in die wynstok is. Sonder Hom, die ware Wynstok, is daar vir lote geen lewe nie. Dit wat buite die wynstok is, is net goed vir brandhout. Wie sonder Christus sterf, gaan vuur toe!
Valse trots laat mense op hul eie vermoë staat maak en leun hulle nie in gebed op Jesus nie. Gelowiges daarenteen is deeglik van hul eie onmag bewus en leun daagliks in die gebed op die Een aan wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort: Jesus Christus. Wie nie op sy knieë leef nie, sterf op sy voete!
In die tweede teksvers vra God dat Israel iets baie belangrik moet doen: “...en my aangesig soek.” Dis ʼn Bybelse uitdrukking wat beteken om in God se rigting te draai. Sonde laat ons van God af wegdraai. Ons moet deur verootmoediging na Hom toe terug draai.
Pasop vir sonde! Wie met sonde volhard, keer God later die rug toe en dra die gevolge van sy straf soos wat met Israel nie baie jare na die inwyding van die tempel gebeur het! Daarom is verootmoediging uiters belangrik - die mens wat deur selfondersoek doelbewus na God toe omdraai soos wat koning Dawid na sy sondes gedoen het. Ons hoor hom in Ps.139 bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg van smart is, en lei my op die ewige weg” (:23,24).
Die laaste vereiste wat God daardie nag vir Salomo vir Israel se volksherstel gee, is: “... hulle bekeer van hul verkeerde weë”. Wie sy verkeerde weg verlaat, ervaar God se heiligheid in sy lewe. Dit geld ook vir volke.
Een ding waaroor die Bybel baie duidelik is en wat ons volk al te duidelik nie verstaan nie is dat daar geen veiligheid sonder heiligheid aan die suidpunt van Afrika kan wees nie. Ons gee aan onheiligheid die groen lig! As daar nie genoeg geld vir welwillendheid is nie, word dobbelary gewettig en mense aangemoedig om die Lotto te speel. As tienerswangerskappe die hoogte inskiet, leer verbondsouers nie hul kinders om heilig te leef soos hulle met die doop beloof het nie, maar eerder om voorbehoedmiddels vroegtydig te gebruik. So ook met die VIGS-epidemie. Mense word nie geleer om uit eerbied vir God kuis te leef nie, maar om die sonde met die minste moontlike nadele te geniet.
Wat van sedelike vergrype en gruwels soos homoseksualisme? Waarsku kerke nog enigsins daarteen? Bitter min! Sommige praat dit selfs goed en beskou dit as ʼn alternatiewe vorm van erotiese liefde. Geen wonder dat God hierdie land van ons so straf nie! Kerke sleep dan die kosbare naam van ons Here Jesus Christus bewustelik deur die sonde-modder!
Die Bybel waarsku sulke kerke baie duidelik: “...mense wat – al ken hulle die verordeninge van God goed, dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien – dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hul goedkeuring skenk aan dié wat dit doen” (Rom.1:32).
Ons voel die straf van God vandag aan ons lyf - ons land is droog en verdrink in misdaad. Almal smag na water – mens, plant en dier. En ook na veiligheid en vrede. Daarom het ons ʼn geestelik reën, ʼn berouvolle terugkeer na God, baie meer nodig. Daar is vir ons net een uitweg uit hierdie verval; draai om, terug na God toe! Salomo skryf: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr.28:13).
Hierdie belofte uit Salomo se pen stem met 2 Kron.7:14 ooreen: “ ...dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land genees” . Voordat herstel kan geskied, moet mense eers skoon kom. Luister spesifiek na God se reaksie in vers 14 op verootmoediging: “ ...dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land genees”. Eers hoor Hy, dan maak Hy skoon; daarna herstel Hy.
Let op die woorde: “...en hulle land genees”. Die klem val op die woord genees. Die Hebreeuse woord vir genees beteken om iets aan mekaar te werk. Heidenregeerders en ontspoorde kerke het ons land stukkend gemaak. Dit wat aan mekaar was, is nie meer aan mekaar nie. Daar is baie om aan mekaar te werk!
Kom ons bid vir ʼn volksbekering dat ons volk en al die ontspoorde kerke tot hul sinne sal kom en ophou sondig. Die Boerevolk moet tot bekering kom! Bekering is interessant genoeg nie oorspronklik ʼn godsdienstige term nie. Dit kom van die ou swerwende nomade wat sonder landkaarte deur onherbergsame landstreke en woestyne getrek en maklik kon verdwaal het. Hoe het hulle geweet dat hulle aan die verdwaal was? As die omgewing waardeur hulle getrek het geleidelik vreemd begin word het. Dan het hulle van rigting verander.
En dis wat bekering is – om van rigting te verander. Die gelykenis van die Verlore Seun onderstreep dit. Eers toe daardie knaap tussen die varke beland het, het hy agter gekom dat sy rigting verkeerd was. Daarna maak hy die nodige verandering wat hom by sy vaderhuis laat uit kom.
En dis wat hierdie volk van ons moet doen. Kom ons bid vir ons volk en ons droë en misdadige land dat God sal vergewe en in sy grote genade die sluise van die hemel oor ons sal ooptrek.
Amen!