GEES VAN VREESAGTIGHEID

Ds AE vd Berg

Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim.1:7).                                  

Wanneer dit in die bosveld donker word, hoor ʼn mens baie diere-geluide waarvan sommige jouself kan bang maak. As jy egter langs ’n knetterende kampvuur sit, hoor jy baie minder geluide en is jy feitlik van geen gevaar bewus nie. Maar sodra die vuur begin uitbrand, word jy al hoe meer van die geluide en moontlike gevaar bewus. Hoe kleiner die vuur, hoe donkerder en gevaarliker word die nag.

Dis ook van die geestelike lewe waar; vrees groei die weligste in die donker van die lewe. Hoe sterker die vuur van die Heilige Gees egter in ons lewens brand, hoe minder vrees ons. Hoe flouer dit brand, hoe makliker ontstaan daar ’n gees van vreesagtigheid by ons.  

Paulus skryf aan Timoteus, ’n jongman wat die Evangelie verkondig en die wind van die heidendom baie sterk van voor gekry het.   Dit het hom so bang laat word, dat hy op ʼn stadium wou ophou.   Paulus skryf in ’n tweede brief aan hom: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.   Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here…. maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie…” (2 Tim.1:7,8).

Fotograwe maak van ’n donkerkamer gebruik om negatiewe te ontwikkelom foto’s van te maak. Die fotograaf stap met mooi foto’s uit daardie kamer uit. Daar is egter ook ’n donkerkamer waar geen positiewe ontwikkeling plaasvind nie; en dis in die mens se lewe. Dié donkerkamer het ʼn naambordjie - VREES. In hierdie kamer word ook negatiewe ontwikkel maar daar kom niks mooisby hierdie deur uit nie.  

Vrees lê ʼn mens se hele bestaan lam. Dis ʼn geestessiekte wat jou magteloos maak. En dis nie ’n moderne verskynsel nie, maar so oud soos die mensdom self.   Let op Gen.3. Die eerste reaksie van die gevalle mens was vrees. Voor die sondeval gaan die mens God tegemoet. Na die sondeval kruip hy vir God weg. ” Ek het U geruis in die tuin gehoor en gevrees…” (vers 9).  

Vrees sou voortaan die lot van almal wees wat hul rug op God keer. Let op die heidene wat in gedurige vrees vir bose geeste leef. So ook almal wat Jesus nie as Verlosser ken nie. Hulle is gedurig bang vir die toekoms en wat moontlik met hulle kan gebeur.   Dis die gees van die wêreld!

Hoe anders is dit nie met gelowiges gesteld nie!   By hulle is ʼn ander gees te bespeur – die Gees van God wat die vuur van krag, liefde en selfbeheersing hoog in hul lewe laat brand. “Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Rom.8:15).      

Ons beleef al vir 25 jaar baie moeilike tye. Toe die eertydse Christelike grondwet met ’n wêreldse een vervang is, het twee geesteswêrelde met mekaar gebots en is die lewe aan die suidpunt van Afrika lelik ontwrig. Ps.11 praat van fondamente wat omgekeer is.

Suid-Afrika het sienderoë ontaard waarna ʼn gees van vreesagtigheid mense beetgepak het wat net nie einde kry nie. Hoe raak ’n volk van hiervan ontslae?   Is daar enige ontvlugting-meganismes?   Baie van ons volksgenote probeer dit in plesier/vermaak vind.

Tydens die Tweede Wêreld-oorlog was daar in Brittanje gereeld sg. Black outs. Dan maggeen lig saans geskyn het uit vrees vir nagtelike vliegtuigaanvalle nie. Bioskope is ook gesluit.   Mense het byna mal van spanning geword totdat die teaters weer oopgemaak is. Plesier was ’n ontvlugting-meganisme.

Ander mense soek weer ontvlugting in drank- en dwelms. Hulle is bang vir die lewe en wil die werklikheid ontsnap, al is dit net tydelik. Sommige beland in ’n doodloopstraat waaruit hulle nie kan kom nie en pleeg selfmoord.

Watter raad is daar vir iemand wat deur ’n gees van vreesagtigheid lamgelê word?   Moet hy homself maar net regruk, soos die sielkundiges sê?   Dis soos om vir ’n drenkeling wat nie kan swem nie te sê dat hy maar moet probeer swem.   Hy moet sy eie lewensredder wees. Nee, wie sy toevlug nie na Jesus, die enigste Lewensredder, neem nie, gaan vir seker verdrink!  

Die teksvers lui: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing”. Dis ’n ruiltransaksie wat in die hemel ontwerp is; ruil jou vrees vir God se vrede. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:6,7).  

Daar is geen ander reddingsboei in hierdie stormsee nie – jy moet ruil!   God gee ons die teenmiddel vir vrees – Sy vrede. “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27).   Wat ’n wonderlike berustingom te midde van ʼn hewige ontwrigting nie bang te wees nie!  

Daar word vertel van ’n skilder-kompetisie wat jare gelede in Europa gehou is en baie deelnemers gelok het. Die tema was vrede.Die meeste het rustige natuurtonele geskilder. Die wenner het iets geheel anderste geskilder – ’n voëltjie op haar nessie in ’n boomwat enige tyd oor ’n siedende waterval kon stort. Sy was nie bang nie en het rustig op haar nes gesit. So is die vrede van God in gelowiges se lewe – rustigheid te midde van ’n wêreld wat kook!

Gelowiges is nie bang om ʼn onbekende toekoms aan ʼn bekende God toe te vertrou nie. Al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons Wie se hand dit is.“Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4).  

Die toekoms behoort aan God. Waar ek gaan, sal Hy met my wees. Koning Dawid skryf::“Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my” (Ps.23:4).

Paulus praat in die teksvers met ʼn jongman wat weens die politieke ontwrigting van sy tyd baie gespanne was en sê dat God nie ’n gees van vreesagtigheid by gelowiges wil hê nie, maar ’n gees ”… van krag en liefde en selfbeheersing”.

Krag, wanneer ongelowiges in swakheid versink.   Liefde, wanneer haat ’n deug in ’n onreg-bedeling geword het. Selfbeheersing wanneer mense van spanning oorboord wil gaan.     Hiervoor het ons die krag van die Heilige Gees nodig. Kom ons bid dat Hy die geloofsvuur so hoog in ons lewens sal laat brand dat ons die onheil-geluide daar buite nie hoor nie!