Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alles in ons land is bedorwe; politiek, kerk, kultuur, handel, ja, alles! Nêrens gaan dit beter as in die verlede nie. Dis die gevolg van die Christengrondwet wat met ʼn sekulêre een vervang is en die Tien Gebooie met ʼn Handves van menseregte! Dit laat ʼn mens aan die woorde van Ps.2 dink: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (:2,3). Suid-Afrika het met iets anders as die nag donker geword!
JOU UURGLAS LOOP UIT
Ds Andrè van den Berg
“Beywer jou om voor die winter te kom....” - 2 Tim.4:21
Dit is weer winter en die koue begin toeneem. Benewens 2 Tim.4:21 praat die Bybel slegs op een ander plek ook van winter - in Mt.24:20 waar Jesus oor die Groot Verdrukking praat en sê dat mense moet bid dat hul vlug nie in die winter sal wees nie.
2 Tim.4 is Paulus se laaste woorde. Hy het geweet dat sy dood baie naby was: “Want ek word alreeds as ʼn drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby” (2 Tim.4:6). Geleerdes reken dat Paulus in 63nC. op bevel van keiser Nero in Rome tereggestel is. Gevolglik is ʼn laaste brief gewoonlik aangrypend. Ek is in besit van ʼn afskrif van die laaste brief van ʼn 23 jarige man (Wessels) wat in 1976 weens moord tereggestel is. Dis aangrypend!
Paulus skryf sy laaste brief aan Timoteus, ʼn jongman wat vir hom soos ʼn eie seun was. In die brief sien ons Paulus as ʼn mens met behoeftes - Timotheüs moet Markus asook sy reismantel, boeke en perkamentrolle saambring. En in vers 9 skryf hy dat hulle gou moet kom; vóór die winter (:21). Paulus se uurglas was besig om vinnig uit te loop.
Paulus se behoefte dat hulle voor die winter moet kom, is veelseggend. Hy het waarskynlik kennis van ʼn teregstellingsdatum, iewers gedurende die winter, ontvang. Daarom moes Timotheüs en Markus hul litte roer. Op daardie stadium was Timotheüs in Efese en om in die winter na Rome te reis, lewensgevaarlik. Die Egeïese- en Adriatiese see was berug vir winterstorms sodat daar betreklik min skeepvaart daardie tyd van die jaar was. Hand.27 vertel dan ook van Paulus se nare ervaring ter see.
Toe Timotheüs hierdie brief ontvang het, moes hy dadelik reëlings begin tref en na Rome vertrek. Wat ʼn ondervinding was dit nie vir hom om Paulus weer te sien nie, al was hy ʼn ter doodveroordeelde in ʼn Romeinse tronk. Timotheüs was heelwaarskynlik tot op die laaste oomblik by Paulus totdat die bewaarders hom kom haal het.
Ek kan my die afskeidstoneel voorstel. Timotheüs druk Paulus in ʼn laaste omhelsing teen hom vas. Paulus se liggaam is warm, maar sal binne enkele minute koud word. Timotheüs kyk Paulus in die oë - daardie oë wat altyd van die liefde vir Christus en besorgdheid vir sy medegelowiges geglinster het. Dit sou binne enkele minute dof wees. Daarna finale woorde. Timotheüs het heel moontlik die slag van die swaard gehoor en ʼn bewaarder wat vir hom kom sê het: “Dis alles verby!” Daarna is Timotheüs met gemengde gevoelens terug Efese toe – hartseer oor ʼn lewe wat so tragies geëindig het, maar dankbaar dat Paulus by Jesus was.
Seisoene het feitlik in elke beskaafde taal figuurlike betekenis. In die Bybel verwys somer na ʼn gunstige tyd in die lewe om die Here te soek. Winter het weer ʼn ongunstige betekenis want dit herinner jou dat die somer en moontlik ook God se genade verby is soos met Juda gebeur het: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en ons is nie verlos nie!” (Jer.8:20).
Soos wat die natuur seisoene het, het die lewe ook sy seisoene. Winter spreek van sorge, droefheid en die dood. Jy verloor miskien jou man, vrou, kind of werk en dit word skielik winter om jou. Daar is egter ook dinge wat ʼn mens voor die winter van sy lewe moet doen. God gee aan die mens genoeg somertyd om gunstige dinge te doen. Dit moet egter voor die winter gedoen word.
Jy hoor die winter van verwyte in baie mense se stemme: “Ag, as ek maar net dit of dat gedoen het!” of ” as ek maar net wou luister!” Ongehoorsaamheid aan God bring ʼn vinnige winter in baie mense se lewens. Lewensseisoene wissel mekaar soms plotseling af. Die een oomblik is dit somer in jou lewe en die volgende een is dit winter, soos Job ervaar het.
As dit eers winter in jou lewe geword het, sal sekere dinge agterweë bly en geleenthede verbygaan. Daarom roep die Woord van God ons op om alles van ons lewenssomer te maak, voor die winter aanbreek en dit vir ewig te laat is. “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie...” (Pred.12:1). Salomo praat hier oor die somer en winter van die lewe.
Timotheüs was ver van Rome toe Paulus se brief met die dringende versoek om voor die winter te kom, hom in Efese bereik het. So kom daar ook tye in ons lewe dat ons 'n tipe van brief ontvang met ʼn stem wat sê: “Kom asseblief, kom voordat dit te laat is!” Miskien het iemand jou baie nodig. Hierdie stem wat roep is miskien oor ʼn jaar stil.
Baie mense worstel met verwyte ná die dood van ʼn geliefde omdat hulle gulde geleenthede laat verbygaan het. So ook met kinderopvoeding toe die winter van verbroude kinderopvoeding hulle ingehaal het. “As ek maar net meer tyd aan my kinders afgestaan het!” Niemand kan die winter terugskuif om die somer te geniet nie. So kan verbroude kanse nie ongedaan gemaak word nie. Dis vir altyd verby!
Hoeveel oumense word nie gerieflikheidshalwe in ouetehuise geplaas en as’t ware daar vergeet nie? En kinders troos hulle daaraan dat hulle goed versorg word terwyl hierdie mense wat in die winter van hul lewe verkeer na die somerson van net ʼn bietjie meer aandag verlang!
Ek het van ʼn omie gehoor wat so in ʼn ouetehuis ingeprop en toe basies vergeet is. Sy seun het vir hom gesê dat hy hom eendag sal kom haal om by hulle te kom kuier. So het hy elke oggend met sy groen tassie by die ingangshek vir sy seun gaan wag en saans weer terug kamer toe gegaan. Sy seun het hom nooit kom haal nie. Die enigste keer dat die seun weer daar was, was toe die ouetehuis hom een oggend vroeg laat weet het dat sy pa oorlede is en hy in die kamer oor die groen tassie gestruikel het. Hoor ons die stil noodoproepe van siekes, bejaardes, eensames en noodlydendes: “Kom tog voor die winter!?”
Die belangrikste oproep om voor die winter te kom, is dié van God aan sondaars. Kom na Hom en maak die saak reg voordat die winter in jou lewe aanbreek: “Vandag, as jy My stem hoor, verhard jou hart nie ... ” (Hebr.3:15).
Ons geestelike lewe is nie altyd op die selfde vlak nie. Soms verkeer ons op die piek van die berg en geniet ons die somer. Ander tye val ons tot daar onder in die put en verkluim ons in die winter van ons lewe. Die belangrikste is dat ons vir ons sieleheil voor die winter van ons lewe na Jesus Christus kom.
Luister weer na wat Salomo sê: “En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie...” (Pred.12:1). Luister wat sê Jesus: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37). Moenie wag nie; jou uurglas loop ook uit!
Amen!