OPSTANDING DIE ANKER VAN ONS GELOOF

Ds AE van den Berg

"Geen deel van die Christelike leer word so aangeval soos Jesus se opstanding nie.  Waarom gebeur dit?   Omdat die opstanding die pen is wat ons geloof vashou.  As daardie pen uitgetrek word, stort die hele Christelike leer soos ’n kaartehuis in duie!  Waar staan jy in hierdie teologies waansinnige wêreld met sy geleerdes wat die opstanding van Jesus as simbolies en ’n storie afmaak?"

“En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê….” Joh.20:5                           

Ek het onlangs in ’n dokumentêre film gesien hoe die lyk van ’n gebalsemde man na 20 jaar opgegrawe is.  Die liggaam het merkwaardig goed bewaar gebly; selfs die klere waarmee hy begrawe is.  Toe dink ek aan ’n ander graf wat nie deur mensehande oopgemaak is nie, maar deur God self.  ’n Graf met geen liggaam in nie, slegs grafklere; die graf en klere van ons Here Jesus wat uit die dood opgestaan en by sy graf uitgeloop het.  Al wat in die graf oorgebly het, ja, die enigste getuienis dat Hy wel in die graf was, was die grafdoeke.

Daar is baie aspekte waaroor leraars op Opstandingsdag kan preek; belangrike aspekte.   Ek vra u aandag vir die boodskap van Jesus se grafklere.  Hy het dit doelbewus as ’n getuienis van sy opstanding agtergelaat.

Nadat Jesus aan die kruis gesterf het, is aan Josef van Arimathea en Nikodemus toestemming verleen om sy liggaam vir die graf voor te brei, ’n nuwe graf wat aan Josef behoort het.  Nadat hulle Jesus se liggaam daarin neergelê het, het die Joodse leiers Pontius Pilatus gevra om dit te verseël en soldate rondom te plaas sodat die dissipels moontlik nie die liggaam nie kon wegneem nie.

Vroeg daardie Sondagoggend het vreemde dinge rondom die graf gebeur. “En daar kom ’n groot aardbewing, want ’n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.  En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword” (Mt.28:2-4).

Op daardie oomblik het die dissipels uit vrees vir vervolging weggekruip.  Toe Maria later die oggend die graf oop vind en die dissipels daarvan gaan vertel het, kon hulle hul ore nie glo nie.  Was sy nie straks by die verkeerde graf nie?  Toe hulle daar kom, het hulle gesien dat dit wel die regte graf was, maar al wat daarin was, was die grafdoeke.  Die graf was ’n toneel van volmaakte orde.

Toe die nuus van die leë graf Jerusalem se ore bereik, het die Joodse kerklui met die Romeinse owerheid gaan praat en ’n verhaal opgedis dat Jesus se liggaam wel gesteel en na ’n onbekende bestemming geneem is.

Die toestand binne-in die graf het egter daarvan getuig dat hulle onbeskaamd gelieg het.  As die dissipels wel die liggaam gesteel het; waarom is die grafklere agtergelaat?   Dit sou tyd in beslag geneem het om dit eers te verwyder.   Diewe gee mos sodra moontlik van die misdaadtoneel af pad!   Siende dat hulle van die kruisigingstoneel weggevlug het, sou hulle dit nie eens gewaag het nie!

Indien dit grafrowers was soos wat sommige moontlik gedink het, waarom sou hulle die liggaam saam met hulle neem?  Hulle sou beslis nie al daardie moeite gedoen het nie!  Indien die Joodse leiers of selfs die Romeine die liggaam sou neem wou uit vrees vir wat die dissipels met die liggaam kon doen, sou hulle tyd gemors het om eers van die grafdoeke ontslae te raak?

Daar is net een logiese gevolgtrekking waarom daar soveel orde in die graf was; Jesus het deur sy grafklere heen opgestaan en ’n toneel van vrede en orde nagelaat sodat diegene wat daardie Sondagoggend in die graf gekyk het, vrede in hulle harte moes hê dat Hy wel opgestaan het.

Die grafklere het ’n sterk boodskap gehad – dit het van ’n verrese Heiland getuig.   Die opgevoude grafklere het ’n verdere boodskap vir die wêreld gehad: Alles waarop Jesus aanspraak gemaak het, alles wat Hy gepreek het en alles wat Hy beloof het, was die waarheid!

Net drie dae tevore het die dissipels gesien hoe Hy in hegtenis geneem word, vervolg word en aan ’n kruis gesterf het.   Nou het hulle sigbare bewys gehad dat Hy lewendig was!  Die feit van sy opstanding het krag aan sy beloftes gegee.  Dit het sy aanspraak bekragtig dat Hy die enigste weg na God is.   Daar is geen ander brug tussen God en mens nie.   “…Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).

Jesus se opstanding gee krag  en hoop vir almal wat vir verlossing na Hom kom: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Heb.7:25).   Jesus se opstanding gee moed vir almal wat in sonde verlore is.  Dit vertel dat hulle hul toevlug na Jesus kan neem en in Hom ’n lewende God vind wat ’n Vriend van sondaars is.

Die oop graf vertel ook van die Vader wat die dood van sy Seun as volle betaling vir die sondeskuld van die mensdom aanvaar het.   Niemand anders as Jesus kon ons sondeskuld delg nie; nie ons trane nie, maar sy bloed; nie ons droefheid nie, maar sy lyding.   As Hy nie alles ten volle betaal het nie, was ons lewenslank in die skuld.

In die NT word gemeld dat Jesus deur die Vader uit die dood opgewek is.   As Hy ’n sondaarmens was, sou Hy in die graf ontbind het, maar omdat Hy sondeloos was, kon die dood Hom nie vashou nie. “Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word” (Hand.2:24).

In sy Woord beloof God aan almal wat Jesus as Verlosser leer ken en sterf, dat hulle met die laaste oordeel net soos Jesus sal opstaan, nie om geoordeel te word nie, maar om hemeltoe te gaan.  “Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel” (2 Kor.4:14).

Johannes vestig ons aandag daarop dat die doek wat op Christus se hoof was eenkant apart opgevou gelê het.   Dit was met ’n doel.  In die Bybelse tyd het ’n welgestelde man met sy servet sekere tafeltekens aan sy bediendes gegee.  As hy klaar geëet het, het hy sy servet gekreukel laat lê.  Dit het beteken dat hy klaar was en nie terug sou kom nie.  Indien hy dit opgevou het, was dit ’n teken dat hy die tafel net vir ’n tydjie verlaat en weer sou terugkeer.   Wat Jesus met die opgevoude gesigsdoek by die dissipels wou tuisbring, was dat Hy net vir ’n tydjie weg sou wees, maar weer sal kom.

Toe Petrus en Johannes by die graf kom, het hulle die ergste gevrees.  Miskien het rowers, Jode of selfs die die Romeine die liggaam weggeneem.  Johannes wat volgens Mark.1:20 saam met bediendes grootgeword het, het die boodskap van die opgevoude gesigsdoek duidelik verstaan.

Alle gelowiges aanvaar dat Jesus uit die dood opgestaan het.  Ons doen dit in die geloof.   Ons het Hom nie sien leef, sterf of ’n leë graf aanskou nie.  Nogtans het die opgevoude gesigsdoek vir ons ’n verdere boodskap – al is Jesus nie nou te sien nie, is Hy binnekort terug!  “Kyk, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien….” (Openb.1:7).  Dit gee ons weer moed.   Jesus het ons met die wonderlike belofte gelaat dat Hy gaan terugkom en ons na die Vaderhuis neem (Joh.14:1-3).

In Joh.20: 5-8 vind ons vier keer die werkwoord sien.  “En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê…” (:5).   Hierdie sien beteken “om vlugtig te kyk” (Engels: glance).  Johannes het vlugtig gekyk en gesien dat Jesus nie daar was nie, slegs die grafdoeke.   Petrus betree ook die graf en sien ook die grafdoeke.  Hierdie sien beteken “om met ’n opmerksame oog rond te kyk” soos wat ondersoekers doen.  In vers 8 kyk Johannes “met begrip” .   Hy het geweet Jesus lewe!

Ongelowiges kyk anders na Jesus se leë graf en kom met baie redes voor die dag waarom Jesus nie fisies kon opstaan nie.  As mense sterf, is hulle nie meer hier nie.  Hulle staan nie na ’n tyd weer op nie.  En al kon hulle, staan hulle nie dwarsdeur hul grafklere op nie!   Hulle sou, soos wat met Lasarus gebeur het, iemand nodig hê om hul los te maak.  “En die oorledene het, het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind en sy gesig was toegedraai met ’n doek.  Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan” (Joh.11:44).

Die Jode glo deur die eeue heen dat die dissipels Jesus se liggaam weggeneem het.  Dit maak glad nie sin nie!  Want waarom het al Jesus se dissipels met die uitsondering van Johannes ’n martelaardood gesterf?  Omdat hulle Jesus se opstanding uit die dode verkondig het!   ’n Mens sterf nie vir iets wat jy weet ’n leuen is nie.   Die wil om te leef, is so sterk dat die dissipels, soos enige ander mens, dit onder druk as ’n leuen sou erken het.

Daar is net twee maniere om op die boodskap van die leë graf te reageer; aanvaar of verwerp dit.   Waar staan jy in hierdie teologies waansinnige wêreld met sy geleerdes wat die opstanding van Jesus as simbolies en ’n storie afmaak? En wat word van hulle studente?   Is dit wat vandag vanaf kansels verkondig word nie die rede waarom so baie mense kerke van Gereformeerde belydenis vir sektes verlaat nie?   Niks berokken ons volk groter skade as die flou stem van ʼn sieklike kerklike gemeenskap nie!

Geen deel van die Christelike leer word so aangeval soos Jesus se opstanding nie.  Waarom gebeur dit?   Omdat die opstanding die pen is wat ons geloof vashou.  As daardie pen uitgetrek word, stort die hele Christelike leer soos ’n kaartehuis in duie!

Geen grafklere het ooit in die geskiedenis soveel betekenis soos Jesus s’n gehad nie.   Gelowiges is dankbaar dat Hy opgestaan, opgevaar en vir ewig is.   Hy het hierdie getuienis onweerlegbaar in ’n leë graf agtergelaat.   Jesus se opstanding gee ook vir ons die krag om vastigheid in ’n verwarde wêreld en misleide volk te vind.  Paulus praat van die krag van Jesus se opstanding wat ook na gelowiges deurwerk:  “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding…” (Fil.3:10).   Ervaar jy die krag van Jesus se opstanding?

Laat ons geen pad neem wat nie van ons geloof in ’n opgestane Christus getuig nie.   Mag ons geloof in die opgestane Jesus met onsigbare klinknaels aan ons siele vassit tot die dag van ons dood!   Al gaan dit sleg met ons land en duur die kerklike misleiding voort, sal ons nooit ontmoedig word nie.

Die geskiedenis leer ons ’n baie belangrike les:  Al lyk dit asof die Christendom sterf, herleef dit telkens deur die genade van God omdat Jesus aan sy regterhand sit vanwaar Hy die kerk regeer.  Ons glo mos nie verniet aan ʼn Verlosser wat die pad uit die graf ken nie?