LYDENSTYD - GOEIE VRYDAG

Ds AE van den Berg

“En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie...” - Luk.23:34                                 

Dis ʼn Vrydagoggend nege uur in Jerusalem.  Buite die Damaskushek staan duisende mense langs ʼn pad wat na ʼn rotskoppie lei en soos ʼn skedel lyk;  Golgota, die plek waar doodsvonnisse voltrek word.   Romeinse soldate staan gereed om hul grusame werk te doen.  Daar is hierdie Vrydag slegs drie veroordeeldes.  Wat hulle name was en of hulle skuldig of onskuldig was, het hulle min geskeel.  Hulle was laksmanne wat ʼn dagtaak gehad het om af te handel.  Niks minder en niks meer nie.   Al wat hulle daardie Vrydagoggend wel geweet het, was dat daar drie manne was wat tereggestel moes word, waarvan een die veelbesproke Jesus was.  Daarom was daar soveel mense en dit het behoorlik gegons!   Die ander twee was opperste skobbejakke.

Daar was daardie Vrydagoggend baie meer mense as gewoonlik langs die pad; mense wat deur die morbiede atmosfeer van ʼn openbare teregstelling aangegryp is.  Hulle kon die magnetiese aantrekkingskrag om iemand te sien sterf, net nie weerstaan nie.  Hulle moes net Jesus sien sterf!

ʼn Klompie soldate met ʼn uitlander wat ʼn kruis dra kom te voorskyn – Simon van Cirene in Noord-Afrika.  Hy is egter nie die fokusfiguur nie.  Agter hom loop ʼn man meer dood as lewend .  Sy rug was aan flarde geslaan, sy gesig opgeswel en bebloed weens die doringkroon op sy hoof – Jesus van Nasaret!

Wanneer Simon die kruis op die skedelkoppie neersit, druk die soldate Jesus teen die kruis vas en slaan spykers deur sy hande en voete waarna hulle die kruis met toue regop trek om Hom die verskriklikste pyn denkbaar te laat ervaar terwyl die lewe met elke bloeddruppel uit Hom vloei.   Dit het ʼn gekruisigde minstens drie ure geneem om aan pyn en bloedverlies te sterf.

Om die Seun van God onskuldig te kruisig, was onvergeeflik!   Desondanks is Jesus se eerste woorde aan die kruis: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie...” Dit bring ons by die vraag: Hoe vergeef ʼn mens die onvergeeflike?  Het iemand al teenoor jou oortree dat jy vir jouself gesê het: “Ek sal hom nooit vergewe nie?” Maar jy weet dis verkeerd in die oë van God.   Hoe vergeef ʼn Christen die onvergeeflike?   Dis net moontlik as jy besef dat diegene wat jou seermaak in werklikheid nie besef wat hulle doen nie.

Wie was die hulle waarvan Jesus gepraat het?  “Vader, vergeef hulle...” Die Romeinse soldate?  Het hulle werklik geweet wat hulle doen?  Nee, Jesus se kruisiging was maar net nog ʼn item op hulle grusame agenda. “Gee die spykers aan.  Hamer dit stewig in.  Trek die kruis op. Volgende asseblief!"

Het Pilatus geweet wat hy doen?   Nee, hy het nie die volle storie geken nie en  op die ou einde maar net sy hande in onskuld gewas.  Het Kajafas geweet? Nee, hy wou net van Jesus ontslae raak.  Wat van Judas?  Hy was immers drie jaar saam met Jesus.  Ook hy het nie geweet wat hy doen nie.  Uit die NT is dit duidelik dat hy verward was.   Hy het geweet dat Jesus veronderstel was om die Messias te wees, maar het nogtans die verkeerde verwagting gehad nl. dat Jesus op ʼn sekere tydstip Jerusalem sou binneval, die Romeine verdryf en Homself as koning setel.   Toe dit nie gebeur nie, was Judas ontmoedig.   Jesus het nie aan sy verwagtinge voldoen nie.   Dit was een van die redes waarom hy Hom op die ou einde toe maar verraai het – totaal verward, ontnugter en teleurgesteld.

Met die kruisiging was almal skuldig –soldate, kerklui, skare, almal.  Dit bring ons by die sleutelwoord wat.  “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie...” Dis nie ʼn geval dat hulle nie geweet het dat  ʼn onskuldige gekruisig word nie.  Hulle is skuldig aan sy dood, maar baie erger – hulle het die Seun van God doodgemaak, die Messias van wie die profete voorspel het en  na Wie se koms hulle eeue lank uitgesien het!   Hulle het God se vergifnis meer nodig gehad as wat hulle besef het!   “Vader, vergeef hulle want hulle het U vergifnis baie meer nodig as wat hulle besef”.

Dit geld vir alle mense wat jou seermaak – hulle het jou vergifnis meer nodig as wat hulle besef.   Diegene wat jou seermaak, weet hoogstens wat hulle doen, maar verstaan nie die omvang daarvan nie.  Hulle het jou vergifnis meer nodig as enigiets anders.  Dis die boodskap van die kruis – jy kan die onvergeeflike vergewe as jy besef dat die mense wat jou te na gekom het, nie werklik besef wat hulle doen nie.  As die soldate en kerklui daardie Vrydag besef het dat Jesus die Seun van God was, het hulle Hom waaragtig nie gekruisig nie.   Net Jesus kon hulle vergewe.  So ook jy teenoor die wat teenoor jou oortree het!

Hoe vergeef jy iemand wat jy nie wil vergewe nie?  Mag jy dit maar teen hom hou?   Nee, die Woord sê dat kinders van God moet vergewe.  Hoe doen jy dit?   Eerstens deur te besef dat hulle wat ons te na kom nie werklik weet wat hulle doen nie.   Tweedens is dit ook moontlik om die onvergeeflike te vergeef as ons onthou dat Jesus ons vergeef het toe ons onvergeeflik was.

Kyk na nog ʼn woord - hulle.  Jesus bid: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie...” Wie is hierdie hulle?  Die soldate? Ja. Die kerklui? Ja. Die skare? Ja.  Is dit al?  Nee. Hierdie hulle sluit ook vir jou en my in.  Ons is nie so goed as wat ons dink nie.  As ons daar was, het ons miskien die spykers aangegee of saam met die skare kruisig Hom geskreeu!  Ek en jy is nie so goed as wat ons dink nie.

Dit bring ons by die kruks van vergifnis.  Wat weerhou ons daarvan om mense wat ons te na gekom het te vergewe?   Die eie ek!  Ons dink dat ons beter as hulle is in die sin dat ons vir onsself sê dat ons niemand so seer sal maak nie. Valse trots weerhou ons van vergifnis.   Hoe dwaas!  Hoe vals!  Ons het al die moontlikhede om presies dieselfde skade aan te rig.  Ons raak ook maar net so omgekrap soos alle ander mense.  Ons kruisig ook mense met woorde.  Op stuk van sake is daar geen verskil tussen ons en diegene wat ons te na kom nie.   Ons is sondaars in alle opsigte en misluk op baie maniere.

As ons onsself deur die oë van God kon sien, sal ons minder kwaad raak vir mekaar.   As ons net wil erken dat ons nie alle wysheid in pag het nie en derhalwe ook maar foute maak, sal ons baie beter met mekaar oor die weg kom en dit makliker vind om mense wat ons te na gekom het, te vergewe.

Die geheim van vergifnis is dat daar tussen jou en hy wat teen jou oortree het werklik geen verskil is nie.   Jesus het jou vergewe toe jy onvergeeflik was.  Wat maak jou beter as Jesus?   Toe Hy die woorde van ons teksvers aan die kruis gebid het, was dit nie net vir die mense aan die voet van die kruis nie, maar ook vir ons eeue later.

Dat die eerste woorde aan die kruis ʼn woord van vergifnis was, bevestig dat Jesus ten diepste ʼn Man van vergifnis was.   Hy het na hierdie wêreld gekom om ʼn kerk tot stand te laat kom, ʼn oase van vergifnis in die woestyn van haat en wraak.   Die kerk van Jesus Christus huisves ʼn geestelike familie van vergewensgesinde mense, klein en groot.

In die Skrif kry ons die opdrag om soos Jesus heilig te wees.  As ons meer soos Hy wil wees, moet ons begin waar Hy begin het en mense vergewe.   Wanneer ons doodmaak, is ons soos diere.  Wanneer ons oordeel, is ons soos mense.  Wanneer ons vergewe, is ons soos God.   Sulke vergifnis verander nie net die verlede nie, maar verruim ook ʼn gelowige se  toekoms.  As jy vergewe, kies jy vir die liefde en doen die wil van die Here.  Daar is geen mens wat nie jou vergifnis en derhalwe jou liefde verdien nie.  Daarbenewens is die genot van vergifnis baie groter as dié van wraak. Om te vergeef, is soos om ʼn gevangene vry te laat net om te ontdek dat daardie gevangene jyself was!

Aan die kruis het Jesus in gees die oortreder omhels en die oortreding vergewe.   Dit het van Hom in sy uur van liggaamlike swakheid ʼn geestelik reus gemaak.  Swakkelinge daarenteen vergewe nie.  Vergifnis is slegs ʼn eienskap van sterkes. Is jy sterk in die Here?   Onvergewensgesindheid beteken ʼn verlies aan geesteskrag.  Daarbenewens is dit ʼn ondraaglike las.  Dis Paastyd.  Moenie dit verder saamsleep nie!