HY IS MY HULP

BEPROEWING

Ds AE van den Berg

“...en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” - Ps.40:3                                  

Was jy al ooit in ’n situasie wat vir jou soos ’n doodloopstraat gevoel het met geen hoop op uitkoms of iemand wat tot jou redding kon kom nie?   Miskien iets waarin jy onskuldig beland het en buite jou beheer soos Josef wat as slaaf verkoop is.  Miskien iets wat jou eie skuld is - jy het jou doodloopstraat gebou!

Koning Dawid was in ’n doodloopstraat toe hy Ps.40 geskryf het:  “Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede, ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof” (:13).   Hy noem sy nare ervaring 'n kuil van vernietiging – ’n put van die dood.  Dit was ’n bekende uitdrukking in die OT vir ’n plek van mens-en-God verlatenheid; ’n plek waaruit jy nie kan terugkeer nie - a point of no return. Jy spartel en spook, maar sink al dieper in die dryfsand van wanhoop weg.   Het jy dit al ervaar?

Jurgen Moltmann, ’n Duitse teoloog, vertel van so ’n periode in sy lewe.  Aan die einde van die Tweede Wêreld-oorlog het hy die skade wat die oorlog Europa aangerig het, betrag - baie mense is dood, miljoene huishoudings is ontwrig, stede en dorpe was flenters geskiet, hongersnood en waansinnigheid was aan die orde van die dag.  Die lewe was bitter lelik!

Hy was in ’n Belgiese konsentrasiekamp aangehou toe ’n kapelaan aan hom ’n Bybel met die NT en Psalms gegee het.   Die Psalms het aanklank by hom gevind, veral die klaag-psalms.   Hy kon hom met die omstandighede vereenselwig; mense wat kla, roep, vra en harte in wanhoop voor God uitstort.   Moltmann het ontdek dat die Bybel vir sulke mense ruimte maak deur hulle die kans te gee om hulle sê te sê.  En die wonderlikste van alles is dat God na hulle luister en hul omstandighede verstaan.  En wat meer is: Hy verhoor hul gebede.

Ps.40 is seker die treffendste Psalm in hierdie verband.  Dis nie ’n jammerlike gekerm van mense oor die lewe nie, maar ’n opregte geweeklaag voor God om hulp.  Hoor hoe treffend begin dit: “Ek het die Here lank verwag en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor”.   Daarna volg die teks: “en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” .

’n Gelowige is nooit alleen in beproewing nie.  God loop die lewenspad saam met sy kinders; ’n gerusstelling wat soos ’n helende refrein dwarsdeur Ps.40 loop.  Mense laat jou soms in die steek, maar God nie.  “Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou” (Ps.118:9).  “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie” (Ps.146:3).

Al is ons hulpeloos, arm en ellendig, help God ons.  Dis mos die hart van die Evangelie – in Jesus Christus buig God tot ons neer wanneer Hy self die kuil van vernietiging op Golgotha betree.   As ek dus deur donker dieptes gaan, is Jesus my beste Metgesel.  Hy was ook daar en selfs uitgeroep: “….My God, my God, waarom het U my verlaat?” Sodat ek en jy nooit deur God verlaat sal word nie!  Hierdie woorde van Jesus kom uit Ps.22:2 ’n psalm van Dawid.

God gryp in ons nood in, maar waarborg nie noodwendig die instandhouding van ons belange nie.   Wie in die modder van die lewe wegsink, moet soos ’n drenkeling aan die reddingsboei wat God na hom gooi vasklou.  Ons skryf nie aan God voor hoe Hy ons lot moet verander nie!

Baie mense moet eers by die sink-punt in hul lewe kom voordat hulle besin en die hand na God uitsteek.  Solank as wat mense op hulself en hul eie vermoëns vertrou, vertrou hulle nie op God nie.   Hy moet sekere mense soms eers pynlik stroop (kuil van vernietiging) voordat hulle ’n volle oorgawe aan Hom maak.

God verlos altyd sy kinders; ’n waarheid wat soos ’n hoogspanningsdraad  dwarsdeur Ps 40 loop.  Enersyds hoor ons van wonderlike dinge wat God gedoen het: “Groot dinge het U gedoen, Here, my God ….Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel” (:6).  Andersyds getuig Dawid voor die volk:  “Ek het ’n blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering verkondig; kyk, my lippe bedwing ek nie.  Here, U weet dit” (:10).

Uit vers 14 is dit duidelik dat die nood nie verby was nie: “Laat dit U behaag, Here, om my te red; Here, maak tog gou om my te red” (:14).  Om God alreeds vir verlossing te dank voordat die nood verby is, is geloofsvertroue!

God red dikwels in verskillende fases.  Sommige dinge doen Hy onmiddellik; ander later sodat gelowiges hul des te meer in God se reddingsdade verlustig.  Dawid sê dat hy die Here lank verwag het.  Moet nooit vingers klap en verwag dat God dadelik moet regeer nie.  Wees geduldig.   “Wag op die Here!  Wees sterk en laat jou hart sterk wees!  Ja, wag op die Here!” (Ps.27:14).  Dis een van die min Bybelverse wat ’n uitroepteken aan die einde van elke sin het.  Dit beklemtoon die opdrag om op God se verlossing te wag.   Dit kom… op sy tyd!

Die Bondsvolk was dikwels in nood.  En wanneer dit vir hulle gelyk het asof dit neusie verby was, het God op wonderlike wyse in hul lotgevalle ingegryp en hulle nag in dag omgekeer.

Hoe lyk jou lewe vanoggend?  Is jy in ’n doodloopstraat?   ’n Doodloopstraat is natuurlik die beste straat om ’n U-draai in te maak; so ook in die lewe.  Dink maar aan die verlore seun wat tussen die varke in ’n doodloopstraat beland en toe die U-draai in sy lewe gemaak het, terug na sy vaderhuis.   God moet soms hard met sekere mense praat voordat hulle die U-draai van bekering maak.

Ongelowiges bevind hul dikwels in die put van die dood.  So ook gelowiges soos koning Dawid in Ps.40.  Gelukkig kyk gelowiges met ander oë na die put en weet dat hulle nie vir altyd daarin sal wees nie en dat God ook hul hulpgeroep sal hoor en die verlangde verlossing voorsien.

Een van die wonderlikste ervarings in gelowiges se lewe is dat hulle in tye van beproewing deur ʼn God van liefde vasgehou word.   Christus het nie gekom om ons leed weg te neem nie, maar om ons lewe met sy Teenwoordigheid te vul.  En dis al – Immanuel; God met ons, ook in ons beproewing.

God wil hê dat ons soos diamante in sy Koninkryk skitter.   Daarvoor word die hitte van beproewing dikwels benodig.   Daar sou geen diamante gewees het as daar nie hitte was nie.   Sulke beproewing is ook die diamantstof waarmee God sy juwele poets.

Ons lyding op aarde vergelyk geensins met die vreugde wat vir ons in die hemel wag nie.  Laat ons dus nie kla as ons ’n kruis moet dra nie.  As iemand anders dit moes dra, sou hy die oorwinnaarskroon ontvang het en nie ons nie!  Anders gestel:  Wie geen kruis wil dra nie, verdien geen kroon nie.

Baie mense sien God nooit in hul beproewing raak nie omdat hulle nie na Hom toe draai nie.   Moet nooit jou oë van Jesus af wegneem nie.  Beproewing is nie lekker nie.   God moet dikwels die oë van sy kinders met trane uitspoel sodat hulle Hom duideliker kan raaksien.   Die siel sou geen reënboog hê indien daar nie trane in die oë was nie.

Om vir Jesus te skyn, moet ons hitte kan hanteer.   Daar kom tye dat ons dink dis alles verby, net om te ontdek dat dit ‘n nuwe begin is.  Die pad van beproewing lei dikwels na ʼn paleis van heerlikheid.   Liewer saam met God in beproewing as sonder Hom in voorspoed.

Wees gerus - gelowiges het geen beproewing waarvan die Here nie weet nie.  Niks gebeur met ʼn gelowige waarvoor God hom nie krag gee nie.   Daarom sluit Dawid die Psalm met die volgende woorde af:  “Al is ek ellendig en behoeftig – die Here dink aan my; U is my hulp en my redder…” (Ps.40:18).