Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit wat op Kersdag gebeur het, was nie maar net ’n mooi gebaar van God nie, maar om die puin van sonde in ons lewens op te ruim sodat ons waarlik vry kan wees. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh.8:36). ’n Mens is of vry of gebind. Is jy vry of is daar iets wat jou bind?
WAT HET MET ONS LAND GEBEUR?
Suid-Afrika beleef sedert 1994 ʼn sedelike vryval nadat die Christen-grondwet tot niet gemaak en die land amptelik tot ʼn wêreldstaat verklaar is. Die lugleegte wat dit gelaat het, laat misdaad hoogty vier en geweld sulke ongekende afmetings aanneem, dat mense daagliks selfs binne hul huise vir hulle lewens vrees.
Dis nie ʼn demokrasie nie maar eerder ʼn skrikbewind waar barbaarse optrede gangbaar is, plaasmoorde die hoogte inskiet, dwelmverslawing epidemiese afmetings aanneem, dissipline sienderoë kwyn, woede oral opbou en booswigte die land daagliks plunder. Aanspreeklikheid het’n stille dood gesterf, gesonde werksetiek het skaars geword en infrastrukture in duie laat stort.
Daarbenewens het onderwys ʼn ongekende laagtepunt bereik en word ʼn geslag jongmense sonder kennis van die Bybel groot. Dit voorspel niks goed vir die toekoms nie! Die vraag op almal se lippe is: Wat het met ons land gebeur? Waarom val alles uitmekaar? Wat gaan aan?
Suid-Afrika ervaar God se toorn. Hy onttrek Hom aan ʼn volk wat met sy weë en die waarheid vertroud was en dit bewustelik verlaat het. Hy waarsku Israel:
“Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie?” (Deut.31:17).
1. Godsopenbaring
God openbaar Homself. Gevolglik weet elke mens dat Hy is:
“...omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;” (Rom.1:19,20).
Dis die natuuropenbaring. Gevolglik kan niemand sê dat hy nie van God weet nie. Paulus sê tydens sy reis in Griekeland vir die Atheners: “... ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God...” (Hand.17:22,23).
Alhoewel God deur die geskape wêreld aan mense bekend was, het hulle Hom bewustelik verwerp en die leë gevoel wat toe in hul lewe ontstaan het met allerlei afgode gevul. Na beraming hang bykans 1,7 biljoen mense wêreldwyd ongeïdentifiseerde godsdienste aan!
Alle godsdiens soek egter nie na die lewende God nie. Baie mense spook om deur die primitiewe verwarring, bose tradisies en foute van hul voorsate by die ware God uit te kom sonder om daarin te slaag. Niemand klim uit die slym van afgodery op na God nie, maar sak verder daarin terug.
God roep deur sy Gees sondaars tot die lig:
“...en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig....” (Rom.8:30).
“God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here” (1 Kor.1:9).