HOOR JY DIE PAASFEESKLOKKE?

Hoor jy die Paasfeesklokke? Hul lui van vroegdag af; hul jubel oor die wêreld: Die Heer is uit die graf! Hy, Christus, die oorwinnaar, is uit die donker uit! Die Heer, die sleuteldraer, sal ook my graf ontsluit.

Hoor jy die Paasfeesklokke? Die Heer het opgestaan! Hy het vir al ons sonde Hom aan die kruis laat slaan. In Hom is nuwe lewe, sy graf is leeg en oop. Hy gaan ons voor – verheerlik – en ons kan op Hom hoop!

Vanoggend sal duisende Afrikaners nie die gebruiklike nagmaal op hierdie Goeie Vrydag gebruik nie, net soos hulle eerskomende Sondag nie kerk toe sal kan gaan nie. Dit gebeur vir die eerste keer in ons volk se geskiedenis in hierdie land. Ons volk is onderwerp aan ‘n goddelose regering wat ons beveel het om in ons huise teen ‘n virus te skuil. Hierdie optrede is ‘n verloëning van God, al wil ons dit nie graag erken nie.

 

Dit laat die vraag ontstaan oor die aard en diepte van ons geloof. Soos gelowiges destyds (en party, dalk meeste, vandag nog), bang was om oor Jesus te praat, “uit vrees vir die Jode”, het ons vandag die situasie dat “uit vrees vir die owerheid” niemand dit sal waag om die afgekondigde Krygswet (sogenaamde Noodtoestand) teen te gaan nie. Die Paasfeesklokke sal beier, maar ons sal nie daarop antwoord nie.

In die Evangelie van Johannes asook in die ander Evangelies lees mens baie van die vlakke van geloof van die gelowiges van daardie tyd. So lees ons dat mense en ook sy dissipels Jesus begin volg het en kan ons dus praat van ‘n volgelingsgeloof. Wanneer die mense sien dat Hy wonders doen word dit ‘n wondersgeloof wat sterker is as ‘n blote volgelingsgeloof. Maar Jesus self het die geloofwaardigheid van die tekensgeloof (wondersgeloof) in twyfelgetrek (Joh 2:23,24).

Toe Jesus later vir sy dissipels vra wie Hy is, sê Petrus dat Hy die Messias is, die Seun van die lewende God (Matt 16:6), dus ‘n Messiasgeloof wat weer dieper is as die tekensgeloof. Maar steeds was daardie geloof nie voldoende nie, want niemand, nie eers sy dissipels, kon insien dat Hy ook moes sterf en opstaan uit die dood nie. Ja, eers as jy werklik glo dat Jesus die dood oorwin het, het jy ‘n ware Godsgeloof. Glo ons in Hom, dat Hy die dood oorwin het as ons wegkruip en nie aandring daarop om saam met gelowiges in die huis van die Here te gaan bely op die dag van sy opstanding nie? Waar is die protes? Waar is die Martin Luthers van vandag wat sal opstaan en sê: Hier staan ek. Ek kan nie anders nie!? Ons het ons leraars nodig gehad om leiding te gee. En indien hulle in opstand gekom het teen die owerheid se besluit om kerke te sluit, sou ons hulle gevolg het, dienste bygewoon het? Waar is die Godsgeloof?

Het ons ‘n halwe- of ‘n kwartpadgeloof? Het ons ‘n conservatio mentalis, ‘n gereserveerde, eiesinnige betekenis en opinie selfs oor geloof? Dis die vraag wat ons onsself in hierdie tyd moet afvra. Is ons geloof dus geloofwaardig? En bowe-al, dink Jesus ons geloof is geloofwaardig? Wat ons moet besef is dat Hy ons baie beter ken as wat ons onsself ken. Ons oppervlakkigheid, onverskilligheid, selektiwiteit, skynheiligheid, materialisme, selfsug, morele bankrotskap, godsdienstige vooroordeel, bygeloof, onkunde en huiwering – Hy sien dit alles!

In Johannes 4:43-54 lees ons van die seun van die koninklike beampte wat sy seun wat op sterwe was na Jesus gebring het. Hier kan ons seker (soos vandag met die Covid-19) praat van ‘n krisisgeloof. As gevolg van ‘n krisis in sy lewe met sy seun in sterwensnood kan die pa van die seun moeilik anders as om Jesus te glo. Tog groei sy geloof na ‘n volgelingsgeloof en ‘n tekensgeloof as Jesus sy seun gesond maak. So gebeur dit dan ook dat sy hele huishouding in Jesus begin glo het.

Ons, met alles wat ons vandag van Jesus weet en met al die kennis van die Bybel tot ons beskikking, het geen rede om Jesus verkeerd te verstaan nie. As ons dus nie glo nie is ons in presies dieselfde bootjie as die Fariseërs. Hulle wou nie in Hom glo nie. As jy Hom verwerp, verwerp jy die hele Woord van God, die verlossing en die ewige lewe. (Joh 5:24).

Noudat Christene die kans het op getuienis, nou kruip hulle weg en het vir mekaar te vertelle hulle gaan in hulle huise na ‘n video van hulle wegkruipende predikant luister – ja, daardie predikant wat in die eerste plek standpunt namens sy gemeente moes inneem teen die sluiting van die kerke.

Ons huldig ‘n oppervlakkige geloof en ‘n spookgeloof. Dit is ‘n gerieflikheidsgeloof waardeur niks bely word nie, want ons kan baie ander dinge ook doen daar in die huis waar ons wegkruip. Liggelowiges soek na verskonings, en wat ‘n gerieflike verskoning is die virus nie. Op dieselfde dag egter sal Checkers besoek word, die koerant gekoop word en sal die verslawende lewenstyl voortgesit word.

Daar is ‘n groter en gevaarliker virus en siekte as Corona en dit is die sondesiekte, ‘n siekte wat tot die ewige dood lei. Dis daardie siekte wat ons moet afsper en vankant maak. As ‘n liggelowige nie in die woord van God bly nie, nie in die geloof groei nie, eindig hy maar net weer as ‘n ongelowige.

Jesus aan die kruis het ons uit die slyk van sonde getrek, uit die donker van ons verlede, uit die buitenste duisternis van ons oordeel, uit die nag van dood, uit die vrees vir ‘n virus en uit die doderyk van ons huidige werklikheid. As ons dit glo, waarom is ons nie bereid om dit in die huis van die Here saam met gelowiges te bely nie?

Ware geloof is die produk van die Heilige Gees wat ons lei na die volle waarheid (1 Kor 12:3). In hierdie tye moet ons soos die pa van die seun in Markus 9 vra dat met dit wat van ons geloof oor is, Jesus ons ongeloof te hulp kom want waarlik wat mens sien en beleef onder gelowiges getuig van ‘n wankelende gerieflikheidsgeloof! In ons tyd is dit wat ons van geloof sien, eerder ‘n angsgeloof. Dis ‘n skrikgeloof en lei tot angsdenke oor ‘n visitasie van God, ‘n virus om ons geloof te toets.

‘n Regering wat neutraal staan teenoor Jesus is téén Jesus! Godsdiensgelykheid is teen Jesus.Vra uself die vraag of ‘n Godvresende Afrikaner-owerheid in die vorige eeu, in ons geskiedenis, ‘n Paul Kruger of ‘n Andries Pretorius, die bywoning van kerkdienste sou verbied het. Nee!

Dringende selfondersoek is nodig om te bepaal of ons geloof nie dalk geweeg en te lig bevind is nie. “Ongelowige geslag”, het Jesus sy dissipels toegeroep; mense wat beter moes geweet het. Soos ons. As ons vir ‘n virus terugdeins sonder enige bewys dat ons samekoms ons en ons mede-gelowiges se lewens in gevaar stel, hoe maklik om dan nie ook vir enige ander rede nie?

Soos ‘n geleerde teoloog al opgemerk het is die weerhaan op die kerktoring nie daar om die windrigting aan te dui nie, maar ons te waarsku teen die wisselende windrigtings van ons gees, wat, soos ons nou sien, so maklik omswaai teen Jesus Christus en sy kerk!

Deur gebed, die sentrum van die waaksaamheidslewe van die gelowige, moet ons bely dat ons hierdie Paassondag Hom net van veraf wou ken. Dat ons skrik en angs en ongeloof ons weerhou het van sy kerk. Dat ons kennis neem van sy opstanding. Mag ons tot ons sinne kom en weet dat Hy hom nooit vir ons geskaam het nie. Dat Hy bereid was om die hoogste prys te betaal vir ons ongeloof.

Ja, niks wat ons op aarde ly nie, kan ons van sy liefde skei nie. Hoogte, diepte, vreugde, rou – niks ontruk ons aan Gods trou.