GELOFTEDAG: MOET EK OF WIL EK?

Henning Dafel

Is dit regtig nodig om Geloftedag te herdenk? Is dit regtig nodig om in die warm son na dieselfde geskiedenis te gaan luister wat ons verlede jaar en die jaar voor dit gehoor het? Buitendien is ’n mens hierdie tyd van die jaar so moeg, dat jy nie nog krag daarvoor het nie. Kan ek nie maar net rustig by die huis bly of by vriende gaan kuier nie? Om Geloftedag by my vakansieplanne te probeer inwerk, is net een te veel. Miskien volgende jaar ...

As ’n mens sulke vrae vra is daar dadelik ʼn paar ou ooms met vuur in die oë wat sal opspring en sê: “Natuurlik moet jy!” Gewoonlik volg daar dan ’n hele relaas oor hoe afvallig vandag se jongmense is en dat ons afvalligheid die rede is waarom dinge in ons land gaan soos wat dit gaan. In alle eerlikheid is dit waarskynlik die rede hoekom baie jongmense nie wil gaan nie: “Geloftedag is vir oumense wat aan ou goed dink – ek het niks daar verloor nie.” Tussen BBBEE, die droogte, politiek, skuld en die familie se probleme het ek regtig nie nodig om die heeltyd te hoor dat ek my ‘sokkies moet optrek nie!’”

 

As dit die kort en die lank van Geloftedag is, dan het jy miskien ʼn punt beet. Ons staar uitdagings in die gesig wat vorige geslagte nie geken het nie. Ons moet egter versigtig wees om nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Is dit regtig al wat Geloftedag is?

Ek is oortuig dat die antwoord ’n definitiewe “nee” is. Geloftedag is nie net ʼn dag vir oumense nie! Ja, geskiedenis is ’n baie belangrike deel van dié dag, maar die bedoeling was nooit dat ons bloot ander mense se seer moet onthou of dat ons ander mense se oorwinnings moet vier nie. Beide die seer en die oorwinning onderstreep op ’n sekere manier die eintlike boodskap van Geloftedag.

Op Geloftedag dink ons daaraan dat God in die verlede vir sy kinders goed was. Op Geloftedag dink ons daaraan dat God dit wat vir gelowiges onmoontlik was, laat gebeur het. Ons kyk dus beslis terug, maar dit mag nie daar eindig nie! Ek is daarvan oortuig dat wanneer ’n mens hierdie dag as ’n dankdag vier (soos wat die veronderstelling was toe die Gelofte afgelê is), daar ’n duidelik toekoms-dimensie is. Gaan lees weer die Gelofte. Dit dink op ’n baie spesifieke manier oor die toekoms.

Gelowige Voortrekkers het aan God belowe dat hulle die roem en die eer van die oorwinning aan Hom sal gee en dat hulle dié dag sal gebruik om hulle kinders te leer dat Hy vir hulle goed was. Die Gelofte voorveronderstel dat ons in die toekoms kinders sal hê aan wie ons dit kan vertel. Die Gelofte voorveronderstel dat ons God in die toekoms op só ’n manier sal ken, dat ons ons kinders van sy groot genade kan en wil vertel!

Amper twee eeue later kan ons bevestig dat die voorveronderstellings in die Gelofte oor God se goedheid, nie verkeerd was nie. Kinders is ’n geskenk van God af. Om ’n verhouding met Hom te hê, is ook ’n geskenk. God is nog steeds goed vir ons. Meer nog; die Gelofte los ons ook met ’n spesifieke beeld van die toekoms waarin God se voortdurende goedheid sigbaar bly. Daarom kan ek met sekerheid sê dat Geloftedag oor “aanhou onthou” gaan! Soos die liedjie sê: “Ons moet vergeet om te vergeet en onthou om te onthou!”

Om te onthou wie God is en wat Hy doen, is baie belangrik. So belangrik dat Petrus dit as rede vir sy tweede brief aanvoer.

Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is. En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek … (2 Petr. 1: 12-13).

Dit is ook die rede waarom Psalm 105 geskryf is. ’n Lang Psalm met 45 verse waarin Israel aan hulle geskiedenis herinner word. Hoekom? Sodat Israel kon onthou wat God alles vir hulle gedoen het.

Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend. Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders (Ps. 105:1-2).

Vervolgens moet ons seker ook vra: Hoekom moet ’n mens soveel moeite doen om hierdie dinge te onthou? Dit is seker nie moeilik om die antwoord te raai nie. Dit is redelik voor-die-hand-liggend: Omdat ons vergeet, veral wanneer die hede ons bo ons vermoë uitdaag en die toekoms donker lyk. Ons vergeet waar die mense voor ons troos gekry het toe hulle hartseer was, of krag gekry het toe hulle bang was; waar hulle hulp gekry het toe hulle magteloos was. Ons vergeet hoe God in hulle lewens gewerk het.

Ons vergeet ook dat God belowe het dat Hy my en jou nooit alleen sal los nie.

Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie (Jos. 1:5 en Hebr. 13:5).

Ons vergeet dat God ons in Psalm 50: 15 leer:

… roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.

Dit is waaroor Geloftedag se ‘onthou’ gaan. God wil hê dat ons moet onthou dat Hy vir ons omgee soos wat Hy vir ons voorouers omgegee het. In die Gelofte het ons aan Hom belowe dat ons sal bly onthou. As ’n mens mooi daaroor dink, is dit waaroor Kersfees ook gaan: God het mens geword om ons te red. Hy is God met ons (Immánuel). Hy het juis gekom om op ’n baie tasbare manier sy hand na ons toe uit te steek en te sê:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig (Mt. 11:28-30).  

Dit is hoekom ek Geloftedag wil vier: Ek wil onthou! Ek wil onthou dat die Here my voorouers se Beskermer was. Ek wil onthou dat die Here my Beskermer is. Ek wil onthou dat die Here my kinders se Beskermer is. Ek wil hê dat my kinders dit ook moet onthou.