VERSET TEEN DIE OWERHEID

Amptelike standpunt van die AP Kerk

Hier word nie oor alle soorte geweld gehandel nie, maar gekonsentreer op die vraag of geweld teen die owerheid Bybels geregverdig kan word. Tog is dit belangrik om op die volgende te let:

Protes: Dit is ’n nie-gewelddadige optrede teen ’n besluit, wet, opinie of daad in die vorm van ’n afkeurende gesindheid, kritieklewering of geskrifte. In hierdie optrede is iets positiefs.

Verset: Dit is ook ’n nie-gewelddadige optrede, maar sterker as protes. Die klem val hier meer op die negatiewe: weiering om te aanvaar, om saam te werk. Verset wil verwerp en teenwerk.

Burgerlike ongehoorsaamheid: Dit is ’n openbare nie-gewelddadige aksie van morele protes teen ’n bestaande wet of wette of dele daarvan, wat deur die owerheid as onwettig beskou word.

 

Skrifuitsprake

Romeine 13:1-7

God beveel onderwerping aan die owerheid as instelling van God. Dit geld vir Christene en heidene. Die vraag is egter: geld dit nog as die owerheid sy mag misbruik, as hy nie binne die perke wat God aan sy mag stel (vers 3 en 4), optree nie, maar sy eie menslike dwaasheid afdwing?

Dit is nie wat die Woord van God hier leer nie. Wanneer die owerheid dan so optree dat hy daardeur die gewetens van die gelowiges dwing met besluite (vers 5) wat nie in ooreenstemming met die wil van God is nie, kan die voorskrif tot onderwerping nie vir hom geld nie.

Natuurlik moet die gewete gevorm wees deur die Skrif self. Dit mag nie blote subjektivisme wees nie. ’n Owerheid versaak sy roeping wanneer hy ’n dienaar

van afgode word. As die gelowige dan gehoorsaam is aan besluite van die owerheid wat in die uitvoering daarvan juis nie God sal vereer nie, het hy die owerheid liewer as vir God.

Handelinge 4:19; 5:29 en Matthéüs 10:37

Daar is ’n perk in gehoorsaamheid aan die owerheid. Wanneer die owerheid (en soveel te meer die een wat hom beroep op Christelikheid) iets van sy onderdaan eis of verwag wat in stryd met die wil van God is, mag die gelowige daardie owerheid in daardie saak nie gehoorsaam wees nie.

1 Petrus 2:13-17

Wanneer die apostel handel oor menslike verordeninge beteken dit instellinge tot instandhouding of handhawing van lewe en orde in die samelewing. Dit moet gaan om die lewe van die onderdane te beskerm, dit ’n kwaliteitslewe te maak of te laat bly en nie die gevolg hê dat lewens geminag en bedreig word nie – dan sou dit nie meer tot eer van God wees nie. Daarom kan die owerheid in so ’n geval nie aanspraak op gehoorsaamheid maak nie (Hand. 4:19 en 5:29).

Die Vyfde Gebod

a. Onderworpenheid

Die owerheid moet geëer word, liefde en trou moet bewys word en onderworpenheid aan hulle goeie regering word gevra. Met die swakhede en gebreke van die owerheid moet daar geduld wees.

b. Geduld

Verset en geweld teen die owerheid moet daarom slegs ter sprake kom nadat alle ander weë geduldig gevolg is, maar nie geslaagd was nie – dit ook slegs eers wanneer die owerheid die onderdane nie meer met die “goeie leer” regeer nie.

c. Voorbidding

’n Christen moet hom voor God kan verantwoord dat hy vir sy owerheid/owerhede ernstig voorbidding gedoen het en steeds doen sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid (1 Tim. 2:2).

d. Absolute eerbied vir die owerheid?

Absolute eerbied kom net God toe. As die draer van die swaardmag sy mag misbruik deur self die misdadiger te word deur te dood (in plaas van die doodslag met die dood te straf), of deur moordenaars willens en wetens

nie hul verdiende straf op te lê nie, tree daardie owerheid nie volgens die wil van God op nie en word dit ’n roeping om so ’n owerheid met een wat waardig die wil van God sal regeer, te vervang – al kos dit geweld. Ons moet God meer gehoorsaam wees as mense (Hand. 4:19 en 5:29).

Gewelddadige verset

’n Christen mag ’n owerheid weerstaan as dit vir hom duidelik geword het

dat sy gehoorsaamheid aan God deur sy gehoorsaamheid aan sy menslike owerheid belemmer of uitgeskakel word;

dat ’n owerheid sy plig as owerheid deur God hom opgelê, versuim en dus nie meer op onderdanigheid en gehoorsaamheid van sy onderdaan aanspraak het nie;

dat meer mense as hyself en meer belange as net sy eie belange deur die pligsversuim van ’n owerheid in die slag bly. God gebied immers Christene dat hulle hulle naaste se “skade, soveel as wat in ons vermoë is, moet afkeer” (HK So. 40 antw. 107).

Wanneer ’n Christen hom voor God kan verantwoord dat protes tevergeefs was en niks behalwe verset vir hom oorbly nie, bewandel hy eers die weg van lydelike verset sover moontlik en wend hom daarna as laaste uitvlug,

onder leiding van volksleiers, tot geweld. Wanneer ’n vreemde owerheid ’n volk verdruk, kan dit wees dat die Here daarmee besig is om die volk te straf oor sy ongeregtighede. God sit konings af en stel hulle aan (Dan. 2:2; 4: 17). In die tyd van Jeremia gee die Here opdrag dat die volk hulle aan Babel moet onderwerp (Jer. 27:12-13).

Aan die ander kant leer die Bybel ook dat dit gebeur dat God volksleiers beskik wat hulle volk gewelddadig uit die mag van vreemde oorheersers bevry. Hy gebruik Gideon teen die Midianiete. Israel skreeu: Die swaard van die Here en van Gideon! (Rigt. 7:20). Die Here verlos sy volk van die Ammoniete deur “’n baie groot slag” (Rigt. 11:33). In Jefta se oorlog tree hy op in die krag van die Gees van die Here (Rigt. 11:29). God laat Simson gewelddadig teen die Filistyne optree.

Dit is dus nie waar dat die Bybel leer dat dit ’n algemene beginsel is dat ’n Christenvolk wat deur ’n ander volk verdruk en oorheers word, nooit tot geweld mag oorgaan nie. Hoe ’n volk uit dwingelandy uitkom, word deur God bepaal. Dit mag wees dat Hy dit op ’n onvoorsiene wyse wonderdadig mag doen, of dit kan wees dat Hy ’n leier beskik wat die volk in ’n oorlog saamsnoer ten einde die juk af te werp.

Calvyn verduidelik die saak pragtig in sy Institusie. Hy sê God wek mense uit sy diensknegte om as openbare wrekers die oorheersers te straf. Wanneer God mense uit sy eie volk gebruik om sy volk te verlos, is hulle dade wettig. Toe hulle die wapens teen die konings opgeneem het, het hulle daarmee nie die majesteit wat God aan die konings gegee het, geskend nie, omdat hulle uit die hemel bewapen is en die kleiner mag van die koning met die groter mag van die Here bedwing het (kyk vertaling van HW Simpson 1991, bl. 1856).

Ons moet die beginsels wat in die Woord vervat is, eerbiedig en met verantwoording aan Hom, konkretiseer. Dit kan ons weet: Hy is in beheer en Hy sal beskik op sy alwyse wyse.

Hoe mag die Christen-onderdaan teenoor ’n verworde regering optree, veral as ’n groot deel van die volk saam met die regering afwyk van wat God vir die owerheid verorden het, en die saak nie by ’n stembus reggestel kan word nie? Calvyn redeneer dat individuele persone hulle nie in hulle private hoedanigheid teen die owerheid mag verset nie, maar dit wel deur middel van volksamptenare mag doen.2

In hierdie verband is dit ook nodig om na Romeine 13:1-7 en 1 Petrus 2:13-17 te kyk. Daar word onder meer gestel dat elke mens hom aan die owerheid moet onderwerp, omdat dit deur God ingestel is; dat aan die koning eer bewys moet word; en dat die onderdane belasting moet betaal. Dit is weer eens belangrik om na die verband van die uitsprake te vra.

Eerstens word daarop gewys dat daar baie spesifieke redes gegee word wat te doen het met God se bedoeling met owerhede. Hy wil die owerheid as sy dienaar gebruik. Die owerheid moet dus God se wil uitvoer. Wanneer hy dit doen, strek dit ons ten goede. ’n Burger wat nie kwaad doen nie, hoef niks van die owerheid te vrees nie. Dit is die kwaaddoeners wat moet vrees. Die owerheid het juis die swaard van God ontvang om hulle te straf – nie om die wat goed doen, te onderdruk nie. Wanneer gesê word dat die owerheid diegene wat goed doen, prys, word bedoel dat ’n slagoffer van kwade handelinge deur die regsproses beskerm en vrygespreek word sodat sy naam in ere herstel word. So word hy “geprys”. ’n Owerheidwat sy roeping getrou vervul, verdien die eer van sy onderdane.

In die tweede plek moet weer vasgestel word wat die verband van die teksverse is. Dit is deurslaggewend belangrik in die verstaan van enige teks in die Bybel. Die woorde in Romeine 13 is geskryf terwyl die Romeinse owerheid van die dag oor die algemeen ’n goeie regering gevorm het, al was dit ’n heidense een. Misdadigers is gestraf en goeie burgers is beskerm. Toe die brief aan die Romeine geskryf is (56 of 57 n.C.), was die Christene nog nie deur die Romeine vervolg nie. Nero het eers sewe tot nege jaar later met die vervolginge begin! Neem nou hierby vers 3 wat sê hy wat ’n goeie burger is, hoef nie die owerheid te vrees nie. Paulus sou dit nie skryf as sy lesers dag vir dag vir hulle lewe gevrees het omdat die Romeine hulle (wat vreedsame burgers was) enige oomblik oor hulle geloof kon vermoor nie. Romeine 13 se uitsprake oor die owerheid geld die normale gang van sake. Dieselfde geld van 1 Petrus 2. Alhoewel hierdie brief lank ná die brief aan die Romeine geskryf is, was dit ook voor die Romeinse vervolging van Christene.

Die kerk mag nie pasifistiese oogklappe aanhê en daardeur alle kwaad wat ’n owerheid maar mag bedink, vergoeilik nie. Vroom word deur sommige Christene gesê dat ’n Christen nooit geweld mag toepas nie, maar net bereid moet wees om te ly. Dan word byvoorbeeld na die volgende gebeure rondom die Here Jesus se lewe verwys: Hy bestraf die dissipels wat wil hê dat vuur uit die hemel moet daal om die Samaritane wat Hom nie wou ontvang nie, te verteer (Lk. 9:55); Hy beveel Petrus om sy swaard te bêre wanneer hy Malchus se oor afkap (Joh. 18:10-11 en Mt. 26:52). Hierdie mense maak van die uitsprake algemeengeldende waarhede, terwyl hulle miskyk dat Hy daardeur dade afgewys het wat sy Messiaanse werk in die weg wou staan. Die mense vergeet dat Hy ook ’n sweep van toutjies gevleg het ... (Joh. 2:18).

Natuurlik pleeg die kerk nie geweld nie. Sy taak is om sy lidmate toe te rus ten opsigte van beginsels wat die Skrif oor allerlei fasette van die lewe leer. Burgers sal in elk geval nugter moet besin of die opsie van geweld in ’n konkrete situasie nie selfvernietiging tot gevolg sal hê nie.