SAL ONS MEKAAR IN DIE HEMEL HERKEN?

 Sal ek my familielede en my vriende in die hemel herken? Ja, ons sal ken soos ons geken word. 1 Korinthiërs 13 vers 12 sê: “Nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Hierdie getuienis kry ons ook van mense wat uit ‘n skyndood weer tot bewussyn gekom het, dat hulle in daardie toestand bewus geword het van die Here Jesus se nabyheid, maar ook van dié van ‘n afgestorwe familielid wat hom of haar tegemoet gekom het.

In die verhaal oor die rykman en Lasarus, weet die rykman dadelik dat dit Abraham is wat aan die anderkant van die kloof by Lasarus is. Dit bevestig dat ons persone wat ons op die aarde geken het, weer in die hiernamaals sal herken.

           As jou ouers dood is, sal hulle jou ken as jy sterf en jy kom in die hemel?

Ja, die Bybel sê dat die gelowige onmiddellik na sy sterwe geestelike heerlikheid met Christus by God in die hemel geniet. Lees maar onder andere Luk. 16: 19 tot 31, II Kor. 5: vers 1 tot 8 en I Tess. 4 vers 13 en 14 en ook in die Openbaringboek waar die gesaligdes geteken word as nou al lofprysend en juigend voor God se troon, in sy teenwoordigheid. Maar hierdie genieting van geestelike heerlikheid sonder die liggaam, is ook ‘n bewustelike bestaan en daarom sal geliefdes mekaar dan ook in hierdie heerlikheid herken.

Maar ons wat leef, moet daarby net onthou dat ons verlange nie net na ‘n weersiens met geliefdes behoort te wees nie, maar dat dit veral ‘n verlange moet wees na God, om in sy heerlike teenwoordigheid te wees en Hom te prys.

Dan moet ons ook onthou dat ons geliefdes wat ons vooruitgegaan het en reeds in die heerlikheid van God verkeer, niks van ons weet nie. Hulle weet nie hoe ons na hulle verlang en oor hulle dood treur nie. Ons mag treur, want in die dood sit daar altyd iets gewelddadigs en ons het altyd baie herinneringe aan ‘n ontslape gelowige wat diep in ‘n mens se lewe en hart ingegryp het. Maar Paulus sê die wyse waarop die gelowige treur is anders as dié van die ongelowige. Die gelowige treur soos een wat hoop het. Hy weet dat sy geliefdes alreeds veilig en geborge by Christus is en hyself, as hy te sterwe kom, aan die einde van die dae saam met hulle na die liggaam verheerlik sal opstaan om as volle persone na siel en liggaam mekaar weer te ken en altyd met Christus te wees. Sal dit nie wonderlik wees nie!