Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die uitdeel van geskenke tydens 25 Desember word geregverdig deur te sê dat die wyse manne mos ook geskenke gegee het. Maar, hulle het nie vir mekaar geskenke gegee nie, net vir die Here Jesus. Dalk moet ons begin dink wat ons vir Hom kan gee...
DIE DWAASHEID VAN DIE KRUIS...
... IS ‘N KRAG VAN GOD
Dr Willem Jordaan
Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? – 1 Kor 1:20
Paulus noem die evangelie “die krag van God” – 1 Kor 1:18. Die kruisdood van Jesus het die spot van teenstanders verwerk. Die “krag van God” lê daarin dat dit die hoogste aktiwiteit openbaar van die steeds werkende, handelende God tot saligheid van die mens. Die krag word sigbaar omdat dit ‘n skeiding veroorsaak tussen dié wat verlore gaan en dié wat gered word.
“Wyses, skrifgeleerders en redetwisters” verwys na Jode en Grieke wat weens hulle ongelowige lewens – en wêreldbeskouing, onaangeroer is deur die Heilige Gees en oorgegee is aan oordeel en ondergang.
Deur middel van sy eie wysheid sal die wêreld God nie ken nie. Nie deur verligting van die verstand sal jy gered word nie, maar verligting van die hart – ja, deur geloof.
Die Jode verlang deurgaans na ‘n teken ( ‘n wonder vanuit die hemel wat sal bevestig dat Jesus die Here is) en die Grieke as denkers, iets wat hulle verstand sal aanspreek. Paulus steur hom nie hieraan nie maar verkondig ‘n gekruisigde Christus. Meeste het dit verwerp maar tog gryp (roep) God hulle wat dit aanvaar:
Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense – 1 Kor 1:24
‘n Gekruisigde Messias was vir die Griek ‘n toonbeeld van dwaasheid en vir die Jood ‘n teken van swakheid. En tog is die gekruisigde die oorwinnaar oor alle vermeende wysheid en krag van mense.
Om deur God net verkies (geroep) te word, is nie ‘n prestasie nie; dit is ‘n wonderwerk van genade. As christen word jy dus opgeneem in die gemeenskap met Christus. Dit beteken ook ‘n herskepping en word jy deel van die geestelike rykdom van Christus.
Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom; die vryspraak, die heiliging en die verlossing – 1 Kor 1:30.
Geloof bestaan nie in die wysheid van mense nie maar in die krag van God – 1 Kor 2:5.
Paulus het te kort geskiet in oorredingskrag van menslike wysheid (volgens die Grieke )maar hy is gedra deur die Heilige Gees en die krag van God. Vir diegene wat wou hoor het sy prediking wel ‘n kragdadige uitwerking gehad.
Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid. – 1 Kor 2:7.
Die wysheid van God bestaan in die heilsgeheim wat vir die mens se verstand verborge is, en wat daarom alle menslike wysheid oortref. Diegene wat glo sal die heilsgeheim ken( Efesiërs 3:3).
Hoe sal ons die goddelike wysheid ken? Alleenlik as die Heilige Gees in jou woon. Hy lei jou in alle waarheid en maak die betekenis van God se optrede jou bekend.
Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.
Wie dus die Gees van God besit, is ook bekend met die heilsgedagtes van God. In die gees van die wêreld is daar geen krag nie. Dit is ontoereikend. Dit is leeg. Dit is nutteloos. Dit kan die dinge van God nie beoordeel nie.
Ja, vestig jou oë op die kruis – en die krag wat alle krag te bowe gaan sal in jou vaardig word.