Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die verloop van elkeen van ons se geskiedenis berus by die keuses wat ons maak. Ons kan ook kies om NIE ons eie vyand te wees nie – 'n keuse wat ongelukkig deur baie min mense gemaak word.
WAT MAAK ONS VANDAG VAN DIE VOORSKRIF IN 1 TIM 6:10? (93)
Dr Pieter Swart
“Want die geldgierigheid is die wortel van alle euwels” – 1933/1953-vertaling.
“Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad” – 1983-vertaling.
Daar is myns insiens ‘n groot verskil in die betekenis van die Skrifgedeeltes in die twee vertalings. “Die” teenoor “’n” impliseer dat daar ander wortels is en geldgierigheid bloot een daarvan is.
Daarbenewens word van “alle” euwels in die ‘33/’53-vertaling gepraat, terwyl die ’83-vertaling weer die saak versag.
In Engels word die saak eintlik veel duideliker gestel in die King James Version (KJV) waar geskryf staan:
“Money is the root of all evil”.
Behalwe voormelde, is dit ‘n vraag of die woekerverbod (Eksodus 22:25-27; Levitikus 25:35-43 en Deuternomium 23:19-20) opgehef is in die Nuwe Verbond. In hierdie verband is Lukas 6:30-36 en Matteus 5:39-48 van belang. Hieroor bestaan daar verskillende menings.
Michael Hoffman, die Amerikaner en skrywer van die boek The Occult Renaissance Church of Rome is van mening dat dit nie die geval is dat die woekerverbod in die Nuwe Verbond opgehef is nie.
Hoffman kritiseer dan ook Johannes Calvyn se standpunt in hierdie verband. Volgens Hoffman was Calvyn ook ‘n voorstaander van die regsbegrip “equity” (billikheid) wat niks anders is nie as “situasie etiek”. Deur “billikheidsreg” toe te pas word God se Woord van nul en gener waarde gemaak deurdat omstandighede van ‘n bepaalde situasie of tydperk, eerder as die beginsel, die saak bepaal.
In die Rooms Katolieke Kerk het “equity” sy verskyning gemaak met dít wat bekend geword het as die nominalisme. Calvyn het gestudeer te Collège Michel de Montaigne waar hy onder die invloed van John Mair was.
Calvyn het ook regte bestudeer aan Orléans. Daar het die humanistiese skool in die regte hom beïnvloed.
Hy het ook studeer aan die Collége de Fortet waar hy onder die sosialiste Franscois Vatable en Pierre Dane’s gestudeer het. Frankryk was destyds sterk onder die invloed van Guillaume Budé wie se uitgangspunt was dat die grondbeginsel van regs-interpretasie “equity” was.
Die doel van “equity” was om korrektief te wees waar daar regsbeginsels is wat nie getemper is deur uitsonderings nie.
Volgens Hoffman mag dit waar wees vir die reg, maar wat God se voorskrifte betref is “equity” rebellie –opstand.
Hoffman stel dat die toepassing van “equity” voortspruit uit die duiwel se begeerte om die “Geldmag” van sy kettings los te maak.
Calvyn het, anders as Luther, gestel dat “ursury” (woeker) toelaatbaar is. Calvyn het gemeen dat dit bindend op die Jode was maar nie vir ons nie en die volgende gesê:
“...it follows that ursury is not unlawful, except in so far as it contravenes equity... I therefore conclude that ursury must be judged, not by any particular passage of Scripture, but simply by die rules of equity.”
Volgens Hoffman moet hierdie uitgangspunt verwerp word aangesien dit die deur oopmaak vir baie ongeruimdhede en interpretasies, benewens die feit dat dit uitdruklik verbied word.
Wat wel waar is volgens Hoffman is dat Calvyn dit in Gèneve verbied het. So het pous Pius IV die volgende oor Calvyn in hierdie verband te sê gehad:
“The strenth of that heretic (Calvyn) consisted in this, that money never had the slightest charm for him”.
Is die Bybel nie duidelik genoeg daaroor nie? Is dit nie ook so dat Jesus slegs sy humeur verloor het en selfs met ‘n sweep ingeklim het toe geldwisselaars die tempel verontreining het nie?