Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra dikwels waar sal ons krag vandaan kom om al die pyn, droefheid en lyding in ons lewens te oorleef? Ons laat God hierdeur so krageloos lyk, en dit net omdat ons so skraal in ons eie verwagtings is. Onthou dat jy nie met jou ontoereikende krag iets hoef uit te rig nie, jy beskik ook God se krag, ongelooflik groot, dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is: opstandingskrag, ook vir jou om telkens weer op te staan uit jou pyn.
BRON VAN LIEFDE
Ds Andrè van den Berg
“ ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar liefhê” - Joh.13:34
God is die Bron van die liefde. As ons God nie deur die wedergeboorte leer ken nie, kan ons nooit opreg liefhê nie. Liefde kom van God want God is liefde. “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (1 Joh.4:8).
Wie nie kind van God is nie, kan nooit in God se liefde vir sondaars deel nie. Die pad van die liefde is ʼn opdraande pad, wat inspanning, toewyding, vergifnis en geduld verg soos wat in 1 Kor.13 duidelik uitgespel word. Hierdie beskrywing van die liefde is as’t ware ʼn portret waarvoor Jesus self geposeer het. Liefdevolle mense se lewens val nie uit mekaar nie. Liefde is die skoonheid van die siel en die enigste mag wat van ’n vyand ’n vriend kan maak. Liefde is die enigste ding wat ons op ons lewenspad saamdra wat die reis nie swaarder maak nie.
In Gen.5 lees ons van Henog wat met God gewandel het. Sy lewe was van God deurtrek. Daar was niks wat sy verhouding met God gehinder het nie. En dit as sulks was alreeds wonderlik want let op die tydsgewrig waarin hy geleef het. Dit was net voor die sondvloed toe die mensdom se boosheid so ʼn punt bereik het, dat God die ganse mensdom op agt na uitgedelg het!
Gevolglik het Henog in die moeilikste tyd op aarde sy geloof in God uitgeleef. En mense het daarvan kennis geneem. Wat leer ons uit sy lewe? Eerstens sy uitstaande liefde vir God te midde van ongekende boosheid. Tweedens, dat gelowiges nie deur hul omstandighede nie, maar deur geloof wandel.
Ons bevind ons in ʼn liefdelose wêreld. Nuusberigte is vol daarvan. Mense stook haat, volksgenote verraai mekaar en kerkmense baklei gemeentes flenters.
Daar is net een geneesmiddel vir hierdie treurige toestand in ons land – liefde. Liefde is die een kleur wat aan alles in die lewe betekenis en diepte gee en siele genees. Daarom honger die mensdom meer na liefde as na brood en word die kerk telkens in die Skrif opgeroep om liefde te versprei.
Gelowiges moet ligloop vir liefdeloosheid. Jesus waarsku in sy Profetiese Rede dat daar ʼn liefdeloosheid aan die einde van die tyd gaan ontwikkel soos wat die mensdom nog nooit beleef het nie, selfs in huisgesinne. Hierdie liefdeloosheid is een van die duidelikste tekens van sy naderende wederkoms; die onderlinge liefde wat gaan verkoel.
Vir ongelowiges is haat tweede natuur, maar nie vir gelowiges nie. Paulus skryf aan die Korintiërs dat ʼn Christen iemand is wat in Christus nuut geword het. Hy het van die ou sondige dinge afstand gedoen. Gevolglik tree so ʼn mens anders as die ongelowiges op. Net soos wat Henog se wandel met God die verdorwe mensdom van sy tyd baie vreemd opgeval het, moet Christene se lewenswandel mense vreemd opval, omdat dit aan liefde gekenmerk word.
In Joh.13 praat Jesus tydens die voetewasvoorval met sy dissipels oor hierdie merkteken wat by hulle ontbreek het. Die wandel in liefde was nie ʼn opsionele gesindheid nie, maar eerder ʼn diepliggende lewensingesteldheid. Liefde is vir kinders van die Here nie ʼn keuse nie maar ʼn leuse!
Om verdere onduidelikheid oor hierdie saak te voorkom, stel Jesus dit reg met ʼn gebod: “ ʼn Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle mekaar liefhê”. Wat vra Jesus van sy volgelinge? “Ek eis dat jy wys!” Dis nie ʼn versoek nie, maar wet!
Liefde vir Christus verander enige slegte lewe in ʼn goeie een. Daar is ʼn lied wat sê: “Love makes the world go round”. Ja, niks verander hierdie wêreld soos liefde nie. Dink u vir ʼn oomblik in ʼn wêreld wat alle haat, nyd en bakleiery laat vaar en liefde betoon? Die dag dat dit gebeur, kan ons saam met Louis Armstrong sing: “What a wonderful world”. God het juis sy liefde in Christus aarde toe gestuur om ’n sonde-donker wêreld te verlig.
Om in liefde te wandel, moet jy jouself kan gee. Dis ʼn opoffering in ʼn wêreld wat net wil neem. Dink hieraan: Die liefde wat ons gee, is die enigste wat ons behou. Die dissipels wou nie gee nie. Hulle was selfsugtig. Hulle wou in Joh.13 nie dien (gee) nie, maar neem (bedien word). Jesus leer hulle ʼn baie groot waarheid - liefdevolle mense gee; liefdelose mense neem.
Let op die voorbeeld van Christus - het Hy gegee of geneem? Luister wat antwoord Paulus: “En wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het” (Gal.5:2). Om met Christus te wandel, beteken om jouself te gee.
Uit die Sendbriewe is dit duidelik dat die kerk met ʼn jammerlike, onderlinge liefdeloosheid te kampe gehad het. Wat so hartseer was, is dat hierdie gemeentes uit mense bestaan het wat Jerusalem uit vrees vir vervolging verlaat het en ontwrig op vreemde bodem verenig het. Moes hulle nie eerder by mekaar gestaan het nie? Is ʼn onderlinge liefde vir Christus en opoffering vir sy kerk as sy die liggaam dan nie veronderstel om mense saam te snoer nie?
Dit het skynbaar nie gebeur nie as ons lees wat Jakobus skryf: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jak.4:1,7,10). Soos wat donkerte nooit donkerte kan verdryf nie, kan liefdeloosheid nooit liefdeloosheid verdryf nie. Daar is net een geneesmiddel – liefde. Waar liefde heers, is daar geen donkerte. “Hy wat eerste liefgehad het, het in liefde ons vergeef – nou kan ons, uit God gebore, uit die bron van liefde leef!” (Ges.141:2).
Liefde en geloof is stalperde. Geloof maak alle dinge moontlik, liefde maak dit net makliker. Maar een ding is seker - liefde verg groot opoffering omdat dit in stryd met die mens se sondige aard is. Die Bybel gee gelowiges die opdrag om die liefde na te jaag ( 2 Tim.2). Die Griekse woord vir najaag, beteken om onophoudelik iets agterna te sit. Wat sê dit? Dat liefde nie soos ʼn ryp vrug in ons skoot val nie. Ons moet dit doelbewustelik najaag. Liefde kos altyd iets; tyd, werk, inspanning en die grootste van alles selfopoffering soos Jesus in Joh.13 van sy dissipels verwag het.
Liefde is ʼn doelbewuste keuse. Dis geen gevoel vanuit die hemel wat mense die regte dinge laat doen nie. Dis ʼn doelbewuste gedragspatroon wat uit ʼn liefde vir Christus spruit. Daarom praat die Bybel van ʼn wandel met God. Wanneer wandel ʼn mens? As ʼn klomp tree na mekaar gegee word; elkeen doelbewus. “Neem my hande, maak hul sterk – diensbaar in u goeie werk. Neem my voete, skoei hul heer, met bereidheid tot u eer” (Ges.128:3). Kom ons weerstaan die duiwel wat ons kerk en ons Boerevolk wil vernietig.
Amen!