Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Onverantwoordelike leier staan nie net onverskillig teenoor sy eie lewe nie, maar benadeel ook dié van sy volksgenote. Daarom word hy baie maklik deur die stormwind van sy eie onverskilligheid weggewaai. Pligsbesef is soos ‘n boom wat goeie vrugte dra.
SATAN LAG SAAM IN DIE GEES
SO WORD CHRISTENE ONWETEND MISLEI
Jeanette Koekemoer
Moontlik het sommige mense nog nie gehoor van die "Lag-in-die-Gees" nie, ook genoem die "Toronto Blessing". Dit is 'n verskynsel wat in die naam van 'herlewing' jare gelede in die VSA posgevat het en na baie lande, ook Suid-Afrika, oorgewaai het. Dit is 'n geloofsdwaling deur sogenaamde geestelikes waartydens hulle kwansuis die Heilige Gees oor gemeentelede tydens 'n diens uitstort, wat dan by die besoekers manifesteer as 'n onbeheersde oorboordgooi van alle inhibisies in die liggaam, siel en gees. Dit beheer die persoon se gemoed geheel en al en word in baie charismatiese kerke deur middel van massahipnose uitgevoer. Die waarheid is dat dit in werklikheid demone van Satan is wat van die persoon besit neem.
In Buenos Aires, Argentinië was daar 'n sekere pastoor Claudio Friedzon wat na die VSA gereis het nadat hy 'n boek van Benny Hinn gelees en Hinn by een van sy dienste ontmoet het. Friedzon het teruggekeer na Buenos Aires en as 'n "veranderde pastoor" vorendag gekom met eienaardige manifestasies. Benny Hinn is bekend vir sy valse leringe oor die Heilige Gees.
In Toronto het Christene van alle denominasies saamgekom in 'n klein charismatiese kerkie, die Airport Vineyard Fellowship, waar hierdie sogenaamde herlewing uitgebreek het. God is glo daar "gesien, ondervind en gevoel." By al die dienste is mense aangetref waar hulle op die vloer lê, sommige rondrol terwyl meeste totaal buite beheer aan die lag is. Histeriese lagbuie is een van die manifestasies asook 'n rondrollery op die vloer, 'n beswymingstoestand wat heeltyd tydens die diens kan duur.
In die Verenigde Koninkryk waar hierdie verskynsel volop is word dit 'herlewing' genoem. Die man wat hierdie gees van misleiding na Suid-Afrika gebring het is Rodney Howard-Browne wat ook van die dienste in Toronto gelei het. Hier het dit ook soos 'n veldbrand versprei onder veral CFI en IFCC charismatiese kerke, daarna na sommige AGS en ander Pinkster-gemeentes as gevolg van uitruilende predikers .
'n Man wat jare lank baie moeite gedoen het om Christene teen hierdie sluipende gedierte te waarsku is dr James van Zyl, 'n mediese dokter wat vóór sy bekering self hipnose as 'n vorm van terapie vir sy psigiatriese pasiënte gebruik het. Sy verklaring is dat hy nie daardie tyd besef het dat hipnose okkulties is nie maar het dit volkome neergelê en daarteen standpunt ingeneem omdat die persoon wat hipnose toepas, beheer probeer verkry oor sy gehoor of pasiënt se gedagtes en gedrag. Gewoonlik begin dit met outo-suggestie waarop sommige mense maklik reageer deur opdragte uit te voer.
'n Video van Rodney Howard-Browne toon 'n bekende tegniek om die "maklike" mense uit te sonder. Nadat hy hulle aangemoedig het om te ontspan en "hulle-self te laat gaan", maak hy die stelling aan sy gehoor dat hulle sal voel hoe die warm olie van die Heilige Gees oor hulle kom (outo-suggestie). Aan diegene wat dan hierdie warm gevoel kry, (die ideale kandidate vir hipnose) word gevra om vorentoe te kom waar hulle die "blessing" sal ontvang. Dan beveel hy hulle om gevul te word met wat hy noem die Heilige Gees waarna hulle ten volle onder sy beheer is. Ek het ook 'n video van Benny Hinn gesien waar hy dieselfde tegniek gebruik en hy die hele gemeente so volkome beheer dat hy hulle met een gebaar ‘omblaas’ tot almal platlê nadat hulle agteroor geval het tydens ontvangs van die' Heiige Gees'.
Wanneer 'n persoon gehipnotiseer is, bly hy onder die invloed van die hipnotiseerder en die kleinste stimilus sal hom terugplaas in dieselfde toestand. Op die video van Rodney Howard-Browne stel hy vas dat 'n jong meisie ook die vorige aand by sy diens was. Toe sy dit bevestig, klik hy sy vingers, en daar begin sy onmiddellik weer onbeheersd lag. Daarna begin die meeste van die besoekers netso lag en talle val op die vloer en rol rond, maak dieregeluide en blaf ook soos honde. Daar is ook diegene wat só dronk is dat hylle nie kan staan of loop nie, sommige lê in beswyming vir ure aaneen. Geen selfbeheersing bestaan op hierdie stadium meer nie, net een groot onordelikheid. Toe mense gekies het om hulle wil onder beheer van 'n ander persoon te plaas het daar chaos ontstaan, en dít in die sataniese leuen asof dit ons God van orde se manier sou wees om sy Heilige Gees aan sy kinders te gee!
Dr James van Zyl vertel toe hy nog 'n mediese student was, hy praktiese opleiding by 'n gestig vir verstandelik versteurdes by Weskoppies in Pretoria gedoen het. Hierdie instituut het verskeie gevalle van gevorderde verstandelike afwykings gehuisves. Onder andere was daar die gevalle van Hebephrenic Schizophrenia. Baie interessant is die feit dat hierdie afwyking ook gepaard gaan met dieselfde onbeheersde gelag en buitensporige optredes wat ooreenkom met wat in kerke gesien word. Net soos daar in die gestig waar die demoniese mag in die pasiënt manifesteer, die lag 'aansteeklik' is en almal rondom die persoon aan die lag gaan, gebeur dit ook in baie kerke. Opregte Godvresende gelowiges gaan kerktoe en word blootgestel aan dergelike demoniese magte. En as hierdie gedagte vir u vergesog klink, moet u gerus so 'n gestig gaan besoek en die personeel vra om 'n pasiënt uit te wys wat aan so 'n toestand ly.
Dr Van Zyl het later in sy mediese praktyk in Stanger ongeveer 600 psigiatriese pasiënte behandel en baie ondervinding opgedoen wat hom oortuig het dat Hebephrenic Schizophrenia niks anders as demoniese magte in werking is nie.
Wanneer die element van gebrek aan beheer in so mate teenwoordig is soos hierbo beskryf, kan dit nie die Heilige Gees wees nie want ons het 'n waardige God van orde. Ons kan jubel en oorvloedige blydskap toon in die Teenwoordigheid van die Here waar en wanneer ons ookal met Hom ontmoet, maar die manifestasies wat voor kom saam met die lag-gees grens aan afstootlike histerie.
'n Natalse koerant in Durban publiseer op 5 Oktober 1994 'n artikel met die opskrif: "Pupils convulsed by mystery curse." Die inhoud: "Since September 9, dozens of pupils at a high school have collapsed into convulsions during which they babble wildly and scream. Locals believe the curse is either the result of the schools location on top of an old grave yard or because the school watchman has upset the spirit that watches over the school by teaching traditional martial arts to pupils, it said. The crisis reached it's peak during a school flag raising ceremony when 41 students fell to the ground screaming hysterically. The school and student's parents recently sacrificed 4 black goats in a bid to end the curse, but another 23 students were struck down last week."
Ware Christelike herlewing kan uitgeken word aan wat voorafgegaan word. Daar moet selfondersoek en diepe berou wees by mense wat opreg na die Here soek, en hulle hartstogtelike behoefte aan sy Genade oor hulle sondige toestand blootlê. Hulle beroep hulle in ootmoed op sy vergifnis en barmhartigheid en ontvang dit in nederigheid sonder vertoon en wanorde. Hierdie Lag-in-die-gees-'herlewing' is nie vooraf gegaan deur enige van hierdie dinge nie, inteendeel, die selfverhoging en humanistiese leringe laat 'n nog groter vraag oor hierdie gelag en rondrollery ontstaan. Min klem word op die prediking van die Woord gelê terwyl die 'ondervinding' nou die belangrikste aspek word. Nie een van die Skrifverse wat so graag aangehaal word deur hierdie ‘geestelike’ bedieners waarin alle klem op 'blydskap' geplaas word, praat van 'n uitspattige gelag en 'n gerondrollery nie. Hierdie 'herlewings'-predikers plaas self hierdie onordelike 'blydskap' daarin en so word duisende mislei.