Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons herdenk die Slag van Bloedrivier as 'n groot daad van God in ons geskiedenis, 'n daad wat ons nie mag vergeet nie en aan óns opkomende geslagte moet oordra. Daarby gedenk ons dit as 'n groot daad in die geskiedenis van die Kerk van die HERE in ons land en oor die hele wêreld.
WAT SÊ DIE BYBEL...
...OOR DIE DOODSTRAF
JP Botha
Daar is lande wat nie meer die doodstraf toepas nie en in Suid-Afrika loop baie moordenaars skotvry rond. Die owerheid weet van hulle en versuim met voorbedagte rade om hulle aan te keer en te vonnis, want die moorde wat hulle pleeg word feitlik deur die regering goedgekeur, omdat hulle daardeur sekere doelstellings van hulle kommunistiese denkrigting wil verwesenlik.
Maar wat sê die Bybel oor die toepassing van die doodstraf? Vir die regverdiging daarvan op Skriftuurlike gronde, is veral twee Skrifgedeeltes ter sake, naamlik die woord van God aan Noag in Genesis 9 vers 6: “Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word,” en ook die uitspraak van Paulus in Romeine 13 vers 4, wanneer hy praat van die owerheid en dan sê: “Hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen te straf.”
Maar nou is die eerste moordenaar wat ons hierna in die Bybel aantref, Moses wat die Egiptenaar doodgeslaan het! God spaar sy lewe en gebruik hom selfs as die bevryder van Israel uit Egipte, want Romeine 13 vers 8 sê: “Hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.”
In Exodus 21 vers 12 lees ons : “Hy wat ‘n mens slaan dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word”, en in Num. 35 vers 31 word dit duidelik gestel: “Julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ‘n moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word.” Nog ‘n belangrike Skrifwoord is opgeteken in Openbaring 13 vers 10:”...as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word.” Hier word gesê dat die een wat die gemeente gewelddadig uitroei, self deur die swaard sal sterf, en is ‘n duidelike verwysing na die beginsel van wedervergelding.
Die Here het die gebod aan Noag gegee om die menslike lewe te beskerm. Daar was maar vier manspersone oor na die sondvloed en hulle kon ook maklik uitgewis word. Die beweegrede waarom die Here bepaal dat die bloed van hom wat ‘n mens se bloed vergiet, deur ‘n mens vergiet sal word, is die feit dat die mens na die beeld van God geskape is. Dit gaan ook oor die feit dat slegs God lewe kan skep en dat enigiemand wat lewe vernietig, iets probeer doen waaroor slegs God kan beskik. Daarom staan die moordenaar skuldig en is daarom ook onderworpe aan die Goddelike straf.
Die mens is God se mens. Die mens behoort aan Hom. Daaom heers God oor die mens. Deur ‘n moord word God altyd getref en dit mag nie. Aan die mens word die plig opgelê om die moordenaar aan eie lyf te straf. Maar op watter mens word die verpligting gelê om die straf uit te voer? Mense kan geen gesag skep nie. Dit berus by God. Die mens het oor niks heerskappy nie. Alle heerskappy kom van God. Niemand het enige seggenskap nie, hehalwe as dit deur God aan hom toegesê is. Net die Here kan iemand dus met dié mate van gesag beklee dat hy, in die geval van moord die moordenaar die doodstraf kan oplê.
God kan aan ‘n mens die reg verleen om oor die lewe en dood van ‘n ander te beskik, sê Romeine 13 vers 4 baie duidelik. Die owerheid is ‘n dienaar van God. Hy dra die swaard nie verniet nie. Hy is ‘n wreker om dié een wat kwaaddoen, te straf. In Genesis 9 vers 6 word die owerheidsgesag bevestig en die doodstraf ingestel. Dit is geldig vir alle tye, ook vir ons en ons nakomelinge, tot met die wederkoms van die Here op die wolke.