Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders. Het jy ’n Bybel? Ons vier vanjaar die 83e bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans. Watter nut het dit vir jou? Vir ‘n sinvolle studie van die Bybel is ‘n liefdevolle verhouding met die Skrywer daarvan onontbeerlik.
AS DIE HERE WIL?
Dit het baie gelowiges al dikwels gehinder dat indien ‘n mens iets van die Here in die gebed vra en jy jou gebed afsluit met: As dit U wil is, spreek jy nie daarmee eintlik al klaar twyfel uit of die gebed verhoor sal word nie?
Daar is min gebede by ‘n siekbed wat hierdie woorde nie bevat nie. Dis by ons ‘n algemene gevoel dat dit so hoort, veral by voorbidding om genesing of verandering van die menslike lot. Ons gereelde gebruik van hierdie woorde in ons gebede kan gegrond wees op die bede in die Onse Vader: “Laat u wil geskied.” Die Here Jesus het ook in Getsémané gebid: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied.”
Die Skrif leer ons om hierdie woorde met volkome onderworpenheid te uiter. Dit is ‘n gebed om genade, sodat jy jou wil volkome aan God se wil kan oorgee. Ons kan die wil van God leer ken en dit deel van ons daaglikse bestaan maak. Die evangelie leer ons dat God se wil in en deur ons geken kan word en dat ons uit God se wil kan leef.
Maar ons moet weet wat God se wil is: Hy wil altyd geëer wees en Hy wil God wees. Hy wil hê dat al sy skepsels en onderdane Hom moet aanbid en erken. Hy wil in liefde oor die mens regeer en Hy wil dat die mens Hom in liefde sal dien. Sy wil is nie verborge of iets wat net by ‘n siekbed gesoek word nie. Hy het sy wil in Jesus Christus aan ons bekend gemaak. Jesus het gekom om ons in staat te stel om die wil van God te mag ken en te volbring.
Die wil van God sal altyd geskied, maar Hy verwag dat ons daarvoor sal bid en daarna sal verlang. Hy verwag dat ons ons lewens vir sy wil sal oopstel sodat dit deur ons sal geskied. Dan word ons sy medewerkers. Om gelowig te wees beteken jy het jou wil ondergeskik gestel aan die wil van God. Maar as jy selfbepalend kies en wil leef, toon jy al die tekens van ‘n ongelowige mens.
As ons nou bid dat die wil van die Here moet geskied, probeer ons nie ons eie ongeloof dek of twyfel oor God se almag uitspreek nie. Dis beter om te bid: “Laat u wil geskied,” as om te bid: “As die Here wil,” want in die woordjie “as” lê daar te veel onsekerheid en twyfel of God dit sal doen.
Wie bid: “Laat u wil geskied,” gee alles aan God oor. Sy wil kan baie anders wees as wat ons in die gebed daaroor dink. Geloof is oorgawe, onderworpenheid en bereidheid. Geloof is om op grond van God se beloftes met God in Christus te waag.
Om gelowig te bid vir die wil van God, is om in te skakel in die groot plan van God om alles te onderwerp aan wat Hy met ons lewens vir die toekoms wil doen. Dit beteken ons gaan akkoord met wat in die hemel geskied en ons vra dat dit ook op die aarde sal gebeur. As ons bid vir die deurwerking van God se Gees onder ons, bid ons dat sy heerskappy en koningskap onder ons sal voortgaan. Die Here se wil is alles wat tot sy eer is en wat tot die uitbreiding en bevordering van sy koninkryk meewerk.
As ek bid dat God se wil moet geskied, dan bid ek dat my eie sondige wil nie moet geskied nie. “U wil geskied” gaan direk teen my eie sondige wil in. Naas die wil van God is daar nie plek vir my eie sondige wil nie. Alleen God’s wil is die goeie. Geseënd is die mens in wie se lewe die wil van God dag na dag geskied.
Die woorde “as God wil” of “as die Here wil” of : “Laat u wil geskied”, is die hoogtepunt van ‘n gelowige en verwagtingvolle gebed. Dit is die wegkyk van die sieke en die swakke en die opkyk na die Sterke en Almagtige. Dit is gelaai met hoop en verwagting. Dit is om die menslike gebed onvoorwaardelik te stel in die hande van die ewige, liefdevolle God en Vader.