Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Albert Einstein het 'n groot wysheid kwytgeraak toe hy gesê het nie alles wat getel kan word, tel nie; en nie alles wat tel, kan getel word nie.
WIE IS JESUS?
Ds Andrè van den Berg
Inleiding
Eeue voor Jesus se geboorte voorspel Jesaja dat Hy uit ʼn maagd gebore en sterke God en Ewige Vader genoem sal word (Jes.7:14; 9:5). Hierdie profesie is in Mt.1:23vervul: “Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons”
Die eerste en belangrikste ding om oor Jesus te weet, isdat Hy werklik God is. Toe Hy op die aarde was, het baie min mense dit aanvaar. Sedertdien het niks verander nie. Mense glo dat Jesus Iemand baie besonders is, maar nie God nie.
Jesus het by geleentheid sy dissipels afgesonder om met hulle oor Hom te praat: “En toe Jesus in die streke van Cesaréa-Filíppi kom, vra Hy sy dissipels en sê: Wie sê die mense dat Ek, die Seun van die mens, is? En hulle antwoord: Sommige Johannes die Doper, en sommige Elía, en ander Jeremia of een van die profete. Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God”(Mt.16:13-16).
As Petrus daardie dag verkeerd was, sou Jesus hom onmiddellik tereggewys het. Maar Hy het nie en Petrus eerder aangeprys. Telkens as Jesus van God as sy Vader gepraat het, het die Jode dit as ʼn gelykstelling met God gesien en Hom daarvoor verag. Dit het hulle so ontstel, dat hulle besluit het om ter gelegener tyd met Hom weg te doen.
Jesus keer die godsdienswêreld om
Algemene agting
Die geskiedenis het talle uitsonderlike mense opgelewer. Sommige se nagedagtenis het met verloop van tyd vervaag. Ander s’n het verdwyn. Maar nie Jesus s’n nie. Na 2000 jaar is Hy nog steeds die fokuspunt van talle gesprekke en skrywes, veral oor die aansprake wat Hy oor Homself gemaak het.
Jesus het ʼn byna geheimsinnige persoonlikheid gehad en uitmuntend gepreek. Mense het aan sy lippe gehang: “En toe Jesus hierdie geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie” (Mt.7:28,29). Jesus het nooit ʼn boek geskryf, ʼn leër aangevoer, politieke drome gehad of verder as 150 kilometer van sy woonplekaf gereis nie. Nogtans het Hy binne die bestek van drie jaar die wêreld van destyds geskud. Geen godsdiensleier kon Hom dit ooit nadoen nie. Wat het Jesus so anders as die ander kerklui gemaak? Was Hy maar net ʼn baie begaafde godsdiensleier?
Baie mense beskou Jesus as bloot ʼn uitsonderlike sedeprediker. Gelowiges daarenteen vereer Hom as ware God. Daarom het Hy vir hulle ʼn uitsonderlike naam gegee om hulle van ongelowiges te onderskei - kinders van God:“Maar aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy die mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh.1:12).
Selfs wêreldbekende afgodsdienaars soos Mahatma Gandhi het agting vir Jesus gehad. So ook selferkende ateïste wat veral met Jesus se Bergpredikasie beïndruk was. Jean-Jacques Rousseau het byvoorbeeld gesê dat Plato se denkbeeldig volmaakte mens met Jesus se karakter ooreenstem en, dat as Sokrates se lewe dié van ʼn briljante mens was, die lewe van Jesus dié van ʼn God moes wees. Desondanks erken geen ateïs dat Jesus waarlik God is nie.
Ten spyte daarvan dat Jesus nooit aanspraak op enige vorm van leierskap gemaak het nie, het baie mense Hom as ʼn toekomstige politieke leier beskou. “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” (Hand.1:6). Jesus het egter nooit direk by die Jode se godsdienstwiste of politieke ideale betrokke geraak nie en sy bediening hoofsaaklik buite kerkgeboueverrig. Sy boodskap was eenvoudig: “Kom na My toe”, “Volg My” en “Gehoorsaam My”
Vervolg...