Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Suksesvolle leier is aanpasbaar. As hy nie meer brandhout bymekaar kan maak nie, maak hy sy vuur kleiner. Met God by hom, is geen terugslag te groot nie. Dis mos nie hóe ‘n matroos die hawe uitvaar wat van hom ‘n gesoute seeman maak nie, maar hóe hy na ‘n storm daarheen terugkeer. Kalm water maak geen matroos vaardig nie.
BROKKIES UIT DIE BOEK – OUMANSLAND (13)
Amos Burger, oftewel Rambo Bob, het die flits van die eerste ontploffing gesien teen die skemerdonker en sekondes later die veraf gerommel daarvan. Hy hou die plek dop en ‘n uur of wat later is daar weer een.
“Wat sien jy, oom Amos?”
“Daar was ‘n groot ontploffing na ons noord-weste. Nie vreeslik ver van hier af nie. Ek het die sekondes getel vanaf die flits tot by die knal, en ek skat dis so vyf na sewe kilometer van ons af.”
“Wat dink Oom moet ons doen?”
“Jong ek is moeg gehardloop. Een van die kante van daardie ontploffing is van ons mense. Dit kan wees dat hulle die slagoffers daarvan kan wees, en aan die ander kant kan dit hulle wees wat dit gemaak het. Hoe ookal, ek weet hulle is in die minderheid, en ek sou eintlik wou gaan help. Maar ek kan nie van julle verwag om saam te gaan nie.”
“Hoekom nie?”
“Want dis my werk. Ek was nie net lankal ‘n soldaat nie, inteendeel, ek is in my hart nog altyd een. En as dit van my mense is en ek kan help, is dit my plig. Julle is ‘n klomp siwwies, al moet ek sê, heel goeie soldate vir ‘n klomp siwwies. En ek kan vinniger en meer doeltreffend wees as ek op my eie is.”
“Dit is so, maar ons het ook wapens en jy is net een mens. Ons is tien. Moenie ons hier los nie. Ons gaan saam.”
“Het jy met die ander gepraat? Jy kan mos nie sommer sê ‘ons’ as jy nie weet hoe hulle daaroor voel nie?”
“Ek weet hoe hulle daaroor sal voel.”
Remus en Robin het nader gekom. Hulle hoor net die laaste deel van die gesprek, al het hulle die gerammel van die twee ontploffings ook gehoor en daaroor bespiegel.
“Hoe sal wie waaroor voel, Lara?”
“Rambo Bob, ek bedoel Oom Amos, sê hy dink daar kan mense wees wat hulp nodig kan hê. Hy wil alleen gaan, maar ek sê toe ons wil saamgaan. Wat dink julle?”
“Natuurlik gaan ons saam. Hoe ver is dit weg?”
“So vyf na sewe kilometer, skat ek. En julle hoef regtig nie saam te kom nie. Ek verwag dit nie van julle nie.”
“Oom Rambo, kyk maar of jy ons kan keer!”
Hulle los vir Phine, Paul en hulle seun, Lara se boetie, verskuil onder ‘n paar bosse in die “V” van ‘n baie smal klofie. Daar is genoeg water vir tien dae in die kanne en kos vir twee weke. Jana het tydens die geveg seergekry. Die wond is nie diep nie, maar het effens septies geraak en sy sukkel om vinnig te beweeg. Na ‘n lang gesprek het sy teësinnig ingewillig om by hulle te bly.
Uiteindelik is die nege van hulle in twee voertuie op pad na die kant toe waar Amos die knalle gehoor het. Hulle ry stadig, versigtig om nie in ‘n lokval in te jaag nie. Die rit vat hulle amper ‘n uur deur die bosse, oor slote en verby ‘n ou, uitgebrande en geplunderde opstal, wat eens ‘n spoghuis was, maar waarvan nou net die uit-oog en daklose geraamte vir hulle stilweg dophou in die verbygaan.
Amos draf die laaste bultjie uit. Ten spyte van sy ouderdom is die ingedrilde ingesteldheid wat as “Vasbyt!” bekend staan nog daar en dit weier dat hy sal wys as hy moeg word. Die jongmense het ook die afgelope tyd al hulle tienervet en moed-opgee-sindroom afgeskud en hulle bly naby hom. Sodra Amos feitlik bo is, wys hy hulle om stil te staan.
Hy loop gebukkend vorentoe en agter ‘n natuurlike erosiesloot en walletjie val hy plat, luiperdkruip vorentoe en is geskok oor dit wat hy in die vlakte en lae hoogte voor hom sien. Daar is duisende der duisende mense. Dit lyk soos ‘n kommandomier-kolonie wat op mars is. Oral is lywe, koppe, klere en kleure van alle soorte wat die plek bestippel.
Hy is sekerlik nie nader as vier honderd meter van die naastes nie, maar die gedreun wat hulle stemme, voete en klere maak is soos ‘n geweldige groot bynes.
Hier en daar klink enkele skote vanaf die menigte op, en dit staan in kontras met die vinnige knalle van ‘n klompie mense wat gekonsentreerd staan in die effense leegtetjie hoog teenaan die volgende koppie. Dit is nie veel anders as die Trekkers wat vanaf Vegkop op die Zulus tevergeefs geveg het nie.
Die jongmense het tot langs hom gekruip en hy kan aan hulle houding agter kom dat hulle eweveel skok ervaar. Heel onder, naby die pad, kan hulle twee voertuie sien wat nog in vlamme en rook gehul is. Daar moes twee geweldige ontploffings by hulle gewees het, te oordeel aan die stof en liggame, karonderdele en wrakstukke wat verstrooid lê.
Onder in die kloof, ongeveer waar die wrakke lê, loop ‘n smal, kronkelende spruitjie.
“Hoeveel mense is daar, skat Oom?”
“Dis moeilik om te sê. Maar kom ons probeer: as ‘n mens die lywe in groepe verdeel, kom ons sê so tienduisend in ‘n blok, en daar is nege blokke – so tussen negentig en ‘n honderd duisend mense.”
“Wat gaan ons doen?”
Amos antwoord nie, maar is eerder baie diep in gedagte. Wanneer hy uiteindelik praat, is daar amper ‘n angstigheid in sy stem.
“In die ou dae sou ons gevra het vir lugsteun, maar dis nou oor en verby. Nou moet ons ‘n ander plan maak.”
Niemand antwoord hom nie en na ‘n paar minute praat hy weer.
“Wie van julle ken die omgewing?”
“Ek dink Daphne het hier iewers gebly voordat hulle Pretoria toe is.”
“Waar is sy?”
“Daar, naby daardie klip, so skuins van Oom af.”
“Roep haar gou vir my, sal jy?”
‘n Rukkie later val Daphne plat langs Amos.
“Kan ek Oom help?”
“Remus sê jy ken hierdie omgewing. Weet jy waar daardie stroompie wat hier onder ons verbyloop, vandaan kom?”
“Ja. Dit kom van Pioniersdam, ‘n plaasdam wat ‘n paar boere help bou het, so veertig jaar gelede. Dis seker so drie of vier kilometer daardie kant toe.”
Daphne beduie met haar linkerhand na hulle noordekant toe. Amos gryp haar hand vas, sodat hulle nie gesien word nie.
“Stadig, ounooi! Ons wil nie hê hulle moet dié kant toe kom nie. Hoe groot is die dam? Weet jy of daar water in is?”
“Dis groot Oom, vir ‘n plaasdam. Daar is ‘n hele klomp fonteine wat dit heeltyd voed, en is daarom amper altyd vol. Dis nogal diep, met die wal so hoog soos – as ek nou mooi dink – seker so vier of vyf verdiepings, maar maak nie ‘n vreeslike groot area toe nie.”
Amos lê en dink nog n rukkie.
“Robin, daardie RPG wat julle afgevat het – hoeveel projektiele het jy vir hom?”
“Vier Oom. Ek het twee gedra en Remus die ander twee. Die pyp is daar by my boog.”
Amos Burger krap met die agterkant van sy naels onder sy ken, sodat die nuwe baard skuurgeluide daarteen maak. Dis ‘n gewoonte wat hy lankal aangeleer het, as hy diep dink.
“Okay. Remus, jy of Robin en Daphne, kom saam met my. Julle ander, bly hierbo, so hoog as julle kan. Skiet wie ookal opkom, maar moenie nou al julle posisie weggee nie.”
“Wat gaan julle doen?”
“Ons gaan iets probeer. As dit werk, is ons veilig - as dit nie werk nie, moet ons maak dat ons wegkom.”
“En wat van al ons mense daar aan die oorkant?”
Amos kyk weg, om Robin en Lara se oë te ontwyk.
“Ons kan dan niks doen vir hulle nie.”