Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
BROKKIES UIT DIE BOEK “DIE VERONTREGTES” (16)
083 444 7672)
The dramatic rise in ethnic conflict.
-Roland de Vries
*
5. Vengeance is the most costly and dissipating of luxuries.
-Winston Churchill
*
In Vuilbaardsvlei het alles na ‘n nuwe normaal teruggekeer. Elke mens het ‘n dagtaak, die kinders gaan weer skool, kerkdienste is hervat, besighede gaan aan met hulle werk, al is dit nie meer soos in die verlede nie.
Uiteraard het sommige besighede geen doel meer nie, soos die plekkie wat selfone verkoop het, maar hulle maak rekenaars heel en spits hulle toe op meer bruikbare elektronika soos die maak en herstel van alarms, flitse, waarskuwingstelsels en het al, met planne wat die eienaar lankal van die internet gekry het, ‘n hommeltuig gebou. Die eerste drie pogings was onsuksesvol, maar die laaste een werk op ‘n manier.
Die Case en John Deere-agent ombou trekkers, laaigrawe en selfs stropers in heel dienlike pantservoertuie in samewerking met ‘n ingenieursfirma. Bakkies word versterk teen kleingeweervuur. Groot buffers word gemaak om brandende bande en konkas vuur weg te stoot. Die Nyala wat Cor en sy mense al die pad saamgesleep het, kry ‘n Mecedes lorrie-enjin en ratkas.
Die meeste grasperke en blommetuine word omgedolwe en is nou groentetuine. Van die oorskot mielies – daar is gelukkig baie – word ethanol en methanol vervaardig. Die mure aan die grense van die dorp word versterk en nuwes word selfs opgerig.
Cor het stadig, maar behoorlik herstel. Sy gemoedstoestand is nog ‘n effense bron van kommer en waar hy vantevore ‘n sterkwillige man was, met ‘n aangename, vriendelike geaardheid, tob hy nou vir ure in die gemakstoel.
Elke dag loop hy ‘n ent, al hoe verder en uiteindelik tot by Dionne se graf, waar hy ure deurbring. Een van die skote het sy regteroog beskadig en hy spandeer die ander ure van die dag deur links te leer skiet. Dis baie moeiliker as wat hy aanvanklik gedink het, veral om die geweerkolf op presies die regte plek teen die skouer te bring en sy oog die regte afstand van die teleskoop af.
Niemand het die mense gedreig of emosioneel oortuig om kerkdienste by te woon nie, maar die kerk is stampvol, nie net op Sondagoggende nie, maar ook by die vervroegde aanddiens en Woensdag se laatmiddag biduur. Nie ‘n enkele persoon het meer behoefte aan kerkvertonings en leë welvaartsbeloftes nie en pastoor James Gildenhuys het stilletjies die dorp verlaat. Daar word teruggekeer na Bybelse waarhede en die vrae word al meer.
Die enkele rooftogpogings is met ywer en doelgerigte geweervuur afgeweer en voornemende plunderaars, rowers en aanvallers van enige aard, vermy die dorp.
Die enigste nuwe aankomelinge is ‘n prokureur wat sy nering eenkant skuif om ammunisie te laai en ‘n sielkundige wat haar hande vol het.
*
Na ‘n uur en ‘n half het Lucille haar oë oopgemaak en sy sit regop op die agterste sitplek van die bakkie. Die gedruis van die groot bande op die pad, die effense gedreun van die fris vyfsilinder enjin en die windgesuis het haar in ‘n diepe slaap laat insuig, maar nou, as daar ‘n amperse stilte is, word sy wakker.
Sy besef dat sy met haar kop op Boelie, die jongste van die twee seuns, se skoot lê. Wanneer sy regop kom, sien sy vir ‘n oomblik haar gesig en hare in die kar se binnespieël. Dis ‘n skok, want haar hare is vuil en deurmekaar, daar is stof en rookstrepe, gemeng met trane en sweet oor haar wange en ‘n bloedrige streep oor haar voorkop, waar ‘n tak haar getref het.
Vir ‘n oomblik weet sy nie waar sy is nie en wanneer die bewussyn tot haar deurdring, is dit ‘n mengsel van hartseer, skok en natuurlik haat, wat sy ervaar.
“Wie is julle?”
“Ek is Johan Smit, en dit is Geo langs my. Agter by jou is Boelie. Wie is jy, dame?”
“Ek is Lucille Fourie.”
“Waarom is jy nie by die huis by jou mense nie? Ons het jou langs die pad gekry.”
“My huis is afgebrand,” sê sy bitter. “En my man en kinders is vermoor.”
Lucille besef nou eers waarom sy wakker geword het – die bakkie staan stil.
“Wat gaan aan? Waarom ry ons nie?”
Johan wys met sy regter voorvinger na vlamme ver voor hulle in die pad.
“Ek dink die pad is versper. Ons wag nou om te sien wat volgende gaan gebeur.”
“Het julle miskien iets om te drink?”
Haar stem is hees en skor. Sy het net hier en daar ‘n bietjie water gekry die afgelope tyd.
“Ja, askies. Geo, gee vir die tannie iets om te drink.”
Geo maak die ritssluiter van ‘n sagte koelsak by sy voete oop en gee vir haar ‘n botteltjie water aan. Sy skroef dit oop en drink so vinnig dat sy daaraan verstik. Sy hoes ‘n paar maal, laat sak haar kop agter die voorste sitplek se rugleuning, en drink dan weer, hierdie keer stadiger en meer versigtig.
“Wil jy iets hê om te eet?”
Lucille skud haar kop.
“Nie nou nie.Miskien later, dankie.”
Skielik kyk Boelie om.
“Dêmmit, Pa, hier kom karre van agter af.”
Johan skakel die bakkie aan, maar nie die hoofligte nie. Hy is heeltemal onseker oor wat hom te doen staan. Moet hy aanry en hoop die vuur voor in die pad is niks gevaarlik nie, of moet hy omdraai en die karre probeer verbygaan? Te laat besef hy die twee aankomende voertuie is nou by hulle. Moet hulle uitspring en weghardloop? Hy voel onder sy sitplek vir die enigste stuk wapen wat in hulle besit is, ‘n klouhamer, wat hy nou stewig vashou as hy uitklim.
Die voorste voertuig skakel sy hoofligte aan, saam met twee kolligte en dit verblind Johan heeltemal. Hy is nou totaal uit sy diepte uit. Lucille en die twee seuns kyk met angstige oë by die agtervenster uit. Niemand weet wat om te doen nie.
*
Soos Venezuela, Libië gedurende die sogenaamde Arabiese Lente, Pole met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939, Rusland gedurende die Bolshiwiekse Rewolusie, Frankryk ‘n honderd en dertig jaar vantevore, Gaza in 2023 en onnoembaar baie voorbeelde gedurende die Middeleeue, heers daar in Suid-Afrika skok, ontkenning, woede, “bargaining” en vrees. Dit sal baie lank neem om die sielkundige grens van aanvaarding te bereik.
Skielik maak die belangrike dinge van die verlede nie meer saak nie. Niemand is gesteld op die luuksheid van hulle wonings – waarom het dit so baie glasvensters? – hulle voertuie, sosiale aanvaarding en posisie, geleerdheid, kultuur en selfs geloof nie. Die wat glo, glo en die ander nie – dis so eenvoudig. Wat nou saakmaak is oorlewing. Geld het geen waarde nie, al sou die OTM’s nog gewerk het en geld oorgeplaas kon word. Wat nou waardevol is, is kos, water, sterk skanse, wapens, ammunisie en ervaring. En natuurlik koelkoppe.
Sommige mense fortifiseer hulle blyplekke, al is dit met meubels en matrasse wat in die woonstel se gang geskuif word, ‘n kas teen die deur, of ‘n swaar ysterhek voor die oprit.
Alle wapens is skielik ‘n lewensaar tot oorlewing. Diegene wat nie ‘n vuurwapen het nie, wend hulle tot messe, kombuismensse, jagmesse, vismesse en byle. Hier en daar sal iemand ‘n lem aan ‘n besemstok of mop heg met tou, draad en kabelbinders. Sommige maak bloot die besemstok se een kant skerp. Skok word vervang met angs en afwagting. Sal iemand kom help? Wanneer?
Skielik is oudsammajoor Beetge belangrik, al is hy lankal afgetree. So ook ou Paljas, wat ‘n infanterie korporaal was; en Dirkie Houtbeen wat sy linkervoet verloor het in ‘n landmynontpoffing toe hy ‘n agtienjarige troep was. Tappies de Lange, wat sy bottel eenkant gesit het en sy ou haelgeweer skoongemaak het, Snorre, die oud-polisieman wat op die hoek bly, Doors wat ‘n valskermsoldaat was in die ou bedeling, die oumanne van die MOTHs waarmee draak gesteek is in die verlede – al die ou vegters is nou van die belangrikste manne in die gemeenskap.
Elke man of vrou wat ‘n vuurwapen besit, haal die ding uit, maak skoon, hou dit gelaai en wonder waarom hulle nie meer ammunisie bymekaar gemaak het nie. Die ou kortloop .38 lyk nou so minderwaardig, lig, klein en ondoeltreffend, asook oupa se enkelskoot .22 geweer en die “skelm” enkelloop haelgeweer agter in die kas.
Diegene met meer as een vuurwapen rig in die betreklike veiligheid van hulle wonings vroue en kinders af in die gebruik daarvan. “Waarom het ons dit nie vantevore gedoen nie?” vra menigeen homself af. Hier en daar gaan ‘n wapen per ongeluk af en almal is maar te bly as niemand seerkry nie.
Dwarsdeur die dag en nag klap skote naby en ver en hier en daar gil iemand van pyn of vrees. Aanvanklik kan niemand slaap nie – nie net word die stilte versteur deur knalle en uitroepe nie, maar die brandende buitebande, veldvure en geboue wat in vlamme opgaan, maak dat roet en rook oral inpeul, longe beskadig en mense laat nies en hoes. Nat, opgerolde handoeke word onder deure ingestoot en alle openinge met kleefband verseël, maar tog kom die rook steeds in. ‘n Laaste emmer water word nie gedrink nie, maar gebêre om die vuur, wat nou naby kom, te blus.
Dis nie vreemd om man en vrou in die donker gange van hulle wonings te sien nie, met beskermende arms om die huilende kinders gevou en trooswoorde, wat geen inhoud of waarde het nie, word oor en oor gesê.
Diegene met ‘n plan “B” het hulle klaargelaaide voertuie en waentjies geneem en vlug na die platteland, plase van familie en die berge. Sommige is betyds en kom uit die stad en groot dorp voordat die plunderaars alles toestroom, maar ander is te laat en hulle word in die verkeersknope vasgekeer. Hier en daar sal ‘n fris voertuig langs die kant probeer om die rye karre verby te steek, maar hulle word afgetrek deur ewe angstige motoriste en aangerand. Van hierdie verbystekers word die objek van hulle woede en karre word met insittendes en al omgekeer.
Daar is geen wet en geen orde nie, behalwe dit wat jy met geweld kan afdwing.
Die beskawing verval tot ‘n anargistiese, chaotiese geveg om oorlewing.