Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Solank daar nog hoop is, is dit net 'n lafaard wat moed opgee; hoop is 'n droom wat altyd aanhou al is ons wakker want dit word gebore daar waar mens bo jou eie wanhoop uitstyg.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (16)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Sy het self die klein, eenvoudige houtkissie gedra vanaf die kerk na die begraafplaas, of te wel die kerkhof. Francesca is uitgehuil, met die trane van rouverdriet wat spore oor haar wange gelos het, haar oë effens pofferig gelaat het en ‘n lewensmoegheid wat onbeskryflik is en wat onverstaanbaar is vir enige mens wat nog nooit ‘n kind aan die dood afgestaan het nie.
Later jare sal iemand die verskillende fases van rou beskryf, met skok, ontkenning, woede, onderhandeling (bargaining - met God) en uiteindelik aanvaarding. Daarvan weet Francesca natuurlik niks en het sy na die aanvanklike skok en ontkenning by woede vasgesteek. Dis die maklikste emosie om op te gaan rus en aan die gang te hou.
Sy is nie kwaad vir die Here nie, ook nie vir die siekte of noodlot nie. Sy verwyt nie haarself dat sy nie vroeër opgelet het Emmatjie is siek nie, of Oudokter Maarschalk nie. Natuurlik ook nie vir Tant Ralie nie en vir Jan omdat hy nie daar was in haar nood nie. Sy is kwaad vir die Engelse, omdat hulle die siekte aangedra het.
Vantevore het sy maar gehoor van die Uitlanders en Immigrante, die Engelse, en hulle genote, die Skotte, Iere en Walliesers. Voorheen, indien sy enige van hulle raakgeloop het, sou sy warmteloos groet of selfs afsydig voel op die ergste, maar nou haat sy hulle. Dit is hulle en hulle aaklige, wrede koningin wat die spul hierheen gestuur het en die siekte aangedra het. Sy is woedend en sy haat elkeen van hulle met ‘n diep,innige haat. Sy gil nie, vloek en maak dreigente nie – dit sou in elke geval nie help nie.
Sy koester die woede in haar, asof dit ‘n skans vorm teen die smart wat kort-kort dreig om boontoe te swem. In plaas van om aan Emmatjie te dink, die groen ogies, krulhaartjies en die lewensblye laggie, haar pofferbeentjies en spesiale babareuk, hou sy haar woede vir die Engelsmanne brandend en dit keer haar om in ‘n bondeltjie te gaan krul en te huil totdat sy bewusteloos raak.
Die begrafnis was in die middel van die oggend. Regte begrafnisweer, met ‘n effense reënerigheid en mistigheid wat oor die dorp gedaal het, so asof die natuur saam met haar treur. Sy het nooit besef daar is so baie mense in die dorp nie en hulle het die kerk heeltemal volgesit.
Baie van die burgers het hulle roere saamgebring en dit staan oor die algemeen tussen die manne se knieë as hulle gaan sit. Die vroue is geskok en baie van hulle het iewers vanuit uit ‘n kis of ‘n solder swart rouklere uitgegrawe, wat die hele prosessie ‘n donkerder en meer somber atmosfeer besorg het. Sie en Sa het buite gestaan en huil.
Die kissie met haar baba in, is met toue in die nuutgegrawe graf laat sak en toe die manne die eerste graaf sand daaroor gooi, het Franci een laaste snik gegee en hou toe hou huil. Tant Ralie wou nog troos, maar haar liggaam is styf en gespanne van ‘n mengsel emosies, waarvan woede die meeste is.
Terug by die huis het sy gewag om seker te maak niemand kom pla nie. Die Boeremense het immers die mooi manier om vir dae na die dood nog borde kos aan te dra, sodat die mense in stilte kan treur. Daarna haal sy van die geld wat Jan gelos het en loop na Ephraim Epstein se winkel toe.
“Meneer Epstein, ek soek twee stelle langbroeke en manshemde, ‘n nuwe, behoorlike baadjie wat my sal pas, kouse en velskoene. Ook ‘n velthoed met ‘n breë rand en, as jy het, ‘n gordel, bandoliere en ‘n bruin serp.”
“Mansklere, maar dis mos onbetaamlik vir ‘n vrou…”
“Ek vra jou nie oor jou sake uit nie, meneer, en ek oordeel ook nie oor wat jy doen nie, soos om skelm varkspek te eet as jy dink niemand kan dit ruik nie. Ja, die hele dorp weet daarvan, ook dat jy die winkel op Saterdae oopmaak, so moenie jou skynheilig hier voor my hou nie!”
“En hoe gaan mevrou daarvoor betaal? Moet ek dit op meneer Jan se boekie skryf?”
“Ek sal kontant betaal, dankie. As jy my bestelling nou sal opmaak en toedraai, sal ek bly wees.”
Met die bruinpapierpak onder haar arm, loop sy terug huis toe, waar sy die klere aanpas en al is die broek effens te groot, kan sy dit met die leergordel, waarvan sy nuwer gaatjies in maak, styf genoeg trek om te keer dat dit nie afval nie. Sy sny die pype korter en werk ‘n soom om. Om seker te maak die broeke sak nie af nie, stel sy een van Jan se kruisbande kleiner en gebruik dit ook. Die hoed pas.
Franci sit vir ‘n paar lang minute voor die spieël, haal dan ‘n groot naaldwerkskêr tevoorskyn en sny haar lang, weelderige, donkerbruin hare so kort as wat sy kan.
Uit Jan se klerekas haal sy sy ekstra geweer uit, maak dit skoon, soos sy by hom geleer het, kry ‘n paar pakke ammunisie uit en druk die bandolier se lussies vol. Sy maak ‘n kussingsloop vol beskuit en biltong en besluit om vroeg te gaan slaap.
Teen vroegaand is daar ‘n klop aan haar voordeur - nie hard nie maar dringend genoeg.
“Ag mag dit nou nie nog slegte nuus oor Jan wees nie!”
In die deur staan Oom Paul Kruger. Hy kyk na haar voorkoms, sonder om kritiek te lewer.
“Ek weet waarheen jy gaan, mevroutjie en ek verstaan dit maar alte goed. Ek glo jy het ‘n roer? Nou ja, hier is nog iets wat jy dalk gaan nodig kry en waarvan ek graag ‘n geskenk aan jou maak.”
Hy hou ‘n holster met ‘n toevou-klap uit na haar toe en ook ‘n sterkgemaakte seilsak na Franci. Uit die holster haal sy ‘n nuwe Colt New Army model in .45LC rewolwer en uit die seilsak die ammunisie. Op die holster is die groot kusiewe “US” van die Amerikaanse leër gedruk.
Oom Paul groet, draai om en as hy loop, sit hy sy hoed terug op sy kop.
Vroeg die volgende oggend saal sy Delila op, sit die geweer in die saalskede, die voorraad in die saalsakke en met Oubaas op haar hakke, ry sy die opkomende son tegemoet. Onder haar baadjie, in die leerskede, is die rewolwer.
*
In die middel van die Britse leër se kamp staan generaal George Pomeroy Colley se tent. Reg langsaan is die operasionele tent, effens groter as die ander, wat in netjiese, presiese rye opgeslaan is, soos ‘n gedissiplineerde leër met ‘n bekwame RSM s’n, sou staan.
Nadat Colley verslag gekry het van die geveg, staan hy wasbleek, woedend, maar ook verslae in sy opstent. Na ‘n paar minute beveel hy sy adjudant om vir kommandeur Romilly te gaan roep.
Generaal Colley staan met sy arms agter sy rug gevou, sy houding pynlik regop, soos ‘n bevelvoerder van die koningin se leër betaam. Sy gesig is uitdrukkingloos, in die tipiese Britse “stiff upper lip”. Hy het die afgelope tyd ‘n volbaard gekweek, in plaas van die algemene manier om sy ken oop te laat en slegs die snor en wangbaarde te laat groei. Sy weelderige militêre snor is egter steeds op ‘n weglê-manier die oorheersende deel van sy gesigshare. Hy is besig om, tot sy groot hartseer, bles te word, met sy haarlyn wat al donker oor die middel van sy kop lê.
Sy uniform is pynlik netjies, elke naat en soom presies gestryk en ten spyte van die feit dat hulle in veldomstandigede verkeer, is daar nie ‘n vuil of selfs effens donker kolletjie te bespeur nie (natuurlik as gevolg van sy lyfkneg, of te wel “batman” se volgehoue aandag daaraan).
Die spierwit van sy gekruisde gordels steek skerp af teen die rooi tuniek en goue knope, rangkentekens en borduursel. Sy rystewels is blinkswart en sonder ‘n dowwe kol. In sy hand hou hy ‘n karwats vas, waarmee hy na die kaarte voor hom so af en toe sal wys. Aan sy sy aan die linkerkant, is die skede van ‘n rewolwer waaraan die wapenkoord (lanyard) vas is. Colley sou nie ‘n lang geweer dra as hy in ‘n slag is nie, maar eerder die handwapen, om hom net in allernood-gevalle te beskerm. Op die tafel langs hom, lê sy wit sonhelm met goue kenteken vooraan en sy sabel in die skede.
Langs Colley staan die ses en dertig jarige Kommandeur Francis Romilly, tegnies die bevelvoerder van die 94ste Maritieme Eenheid van die Koninklike Vloot, maar onder hierdie omstandighede in wese tweede in bevel. Hy is in blou vlootdrag geklee (slegs aan boord skip sou hy sy wit menasiepak dra) met ewe netjiese wit gekruisde belde oor sy skouers en waar dit in die een om sy middel vas is. Ook hy dra ‘n holster met ‘n Enfield rewolwer in. Die ding is swaar en onhandig, maar hy dra dit omdat dit deel van sy amptelike uitrusting is.
Op 8 Februarie het die Engelse leër hulle derde slag verloor en wel by Schuinshoogte, waar die Engelse die koppie beset en omsingel geraak het deur die Boere. Die akkurate geweervuur was meer as waartoe die Engelse bestand was en het 69 manne verloor, insluitende 9 offisiere, met meer as twee honderd gewondes, sommige wat later sou sterf. Teen vyfuur die middag het die Engelse oorgegee.
“So, mister Romilly, after these two skirmishes, where do you propose we make a break-through towards Transvaal?”
Hy wys met die karwats na die kloof aan die Westekant van die berg en baie verder Oos, na die rivier se kant toe.
“I am afraid Sir, after the last battle the Boers have occupied both Laings-heights as well as Schuinshoogte. The only way through, in my humble opinion, is when we get literally the upper hand; that would mean that we have seized the higher ground of the Mountain of the Doves, in Zulu ‘Amajuba’ and then, off course, we could visually and strategically cover all the terrain around.”
“Haven’t the Boers already occupied the mountain? They would have been foolish if the have not done so.”
“I am really not sure, Sir. The Boers are elusive and they do not make war on tradisional principles, as you well know. I doubt they even have a handbook on how to make war.”
“Then, Sir, I would suggest that you organize a scouting party to find out what is going on!”
Colley verhef sy stem as hy vir Romilly teregwys, grootliks omdat hy self nagelaat het om dit te doen.
“Right away, Sir!”
Wanneer hy omdraai om die bevelvoerder se opdrag uit te voer, is dit met hierdie wete: hy sal een van die kolonelle opdrag gee, wat op sy beurt ‘n luitenant-kolonel sal taak, dit afwentel tot ‘n majoor en kaptein. Hierdie man sal ‘n aantal vrywilligers, “volunteers”, aanwys, en hulle sal teen hulle sin saam met hom gaan kyk in hoeverre hulle sal kan uitvind wat aangaan, volgens die Engelse miltêre tradisie en eeue se ervaring. Colley en Romilly weet albei dat die gevaar aan die taak groot is en dat die uiteindelike uitvoerders hiervan dalk nie tot by Majuba sal gaan nie, maar ‘n “ingeligte” raaiskoot sal waag.
En hierop sal Colley uitendelik die uitkoms van die hele oorlog en sy loopbaan waag.